Hy het dalk nie die uitdrukking uitgedink nie, maar die wêreldbekende genetikus en diereteler wyle prof. Jan Bonsma word dikwels onthou vir sy gereelde gebruik van “om te meet, is om te weet”. Gegewe Bonsma se baanbrekerswerk, waaronder die ontwikkeling van die Bonsmara-vleisbeesras, steek daar beslis iets in dié eenvoudige beginsel.
Jason Reding van SA Stamboek is deel van die jonger geslag Suid-Afrikaanse vee-genetici wat entoesiasties die spreekwoordelike fakkel voortdra wat Bonsma in die 1930’s aangesteek het. Vleisbeesboere, hetsy stoet- of kommersiële boere, kry waardevolle kennis uit die akkurate en noukeurige meting van kuddeprestasie.
As dié kennis behoorlik verstaan en toegepas word, ontsluit dit presisieboerderypraktyke wat deesdae noodsaaklik is vir groter volhoubaarheid.