Dit het onder Fertasa (die kunsmisvereniging van Suid-Afrika) se aandag gekom dat verdagte inligting, wat nie voldoen aan voorwaardes waaronder kunsmisprodukte geregistreer is nie, op sosiale media geplaas word.
Daar is weinig of geen beheer oor die inhoud, verklaring of wetenskaplike integriteit van sulke stowwe nie. Dit is potensieel misleidend en benadeel eerlike vervaardigers en verskaffers wat die reëls volg.
Wat het dit met die evaluasie van kunsmisgehalte te doen? Die antwoord hou verband met die groep 3-kunsmisprodukte. Vir groep 1- en groep 2-kunsmisprodukte is ’n kunsmis- en- kalkmonitorskema in 2017 gevestig.
In die geval van groep 3-kunsmisprodukte, wat ’n reeks “nuwe” produkte insluit, is bewyse van hul doeltreffendheid verpligtend op die etiket. Hierdie bewyse moet strook met die goedgekeurde etiket by registrasie. Ongelukkig is dit nie altyd die geval nie. Buitengewone eienskappe word dikwels aan groep 3-produkte toegeskryf – ver verwyderd van die goedgekeurde etiket.
Eerlike verskaffers besef dit is onwaarskynlik dat die produk só goedgekeur kon word. Bring dit onder Fertasa of die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se aandag en maak ’n gunstige bydrae tot gehaltebeheer.
Dit sal ideaal wees as gehaltebeheer werklike ontleding van die produk en sy aktiewe bestanddele behels. Dit is tans egter onprakties vir baie van dié produkte.
’n Pragmatiese, analitiese benadering is al voorgestel, met spoorders of surrogate vir die skatting van bestanddele. Dit is waarskynlik die pad wat in die toekoms gestap sal word.
Vir eers behoort die menings van wetenskaplikes in die kunsmisbedryf oor die geloofwaardigheid van bewerings en ’n soort gehaltebeheer deur alle belanghebbendes voldoende te wees.
Geskryf deur dr. Pieter Haumann, hoofbestuurder en prof. Robin Barnard, hoof- tegniese raadgewer by Fertasa.