Die groot bedreigings wat Karooboere die afgelope 20-30 jaar laat les opsê, het individuele boere as leiers laat opstaan en uitstaan. Hulle is jonk en entoesiasties en kyk anders na die wêreld as vorige geslagte.
As jy wil hoor wat in dele van die westelike Karoo gebeur of na iemand op soek is, WhatsApp jy vir Sybrand Venter van Trywell by Carnarvon. Hy sal weet omdat hy betrokke is, en jou na iemand kan verwys. Dit is omdat hy opreg belangstel en sy omgewing ’n beter plek wil maak.
Hy boer met dieselfde entoesiasme en is verbind tot beter produksie en wins. Benewens die jongooiklub wat hulle verlede jaar tot stand gebring het om te kyk watter soort wolskaap ekonomies gesproke die doeltreffendste vir die distrik is, het hy ’n radiofrekwensie-identifikasie- (RFID) bestuursprogram vir ál sy diere ingestel.