Bester sê kommersiële beesboere verloor beheer oor hul produk die oomblik dat hulle hul speenkalwers aan ’n voerkraal verkoop en het dan nie insae in gehaltebeheer of die bemarkingstrategie deur die waardeketting tot by die eindverbruiker nie.
Hoewel die meeste Suid-Afrikaanse verbruikers deesdae platsak is en rooivleis dikwels as ’n luukse beskou word, is daar verbruikers – veral op uitvoermarkte – wat bereid is om ’n premieprys vir vleis van goeie gehalte te betaal en rooivleisprodusente moet erns maak om hierdie groep se behoeftes en vereistes te verstaan, sê Bester.
In ruil vir die premie wat hulle bereid is om te betaal, wil hierdie verbruikers gesonde vleis hê, hulle is bewus van soönotiese voedselverwante siektes en wil die versekering hê dat streng dieregesondheidspraktyke in die produksie van hul vleis toegepas is. Dit maak naspeurbaarheid ewe belangrik en kort op hierdie kwessies se hakke volg dierewelstand.