Die Bosveld, Karoo, Wildekus en die berge van die Noordoos-Kaap het deur die jare goed vir my gesorg, maar een van my groot gunstelinge bly tog die Richtersveld. Veral die De Hoop-kampterrein aan die oewer van die magiese Oranjerivier. Afgesonder in die ruwe mooi van ’n bergwoestynkloof met die rivier wat soos ’n onmoontlike groen lint deur die dorheid vloei en dan minder as 100 km verder sy laaste bietjie water in die yskoue Atlantiese Oseaan by Alexanderbaai stort.
In die helder water by De Hoop is daar klein kurper, moddervis, baber en kleinbekgeelvis. En in die diep water die konings van die rivier — die enorme ou grootbekgeelvis.
Laas jaar het familieverpligtinge ons Richtersveldvakansie laat sneuwel, en ek en my seuns was vanjaar opgewonde om sommer vroeg in die jaar reeds in die woestyn ’n bietjie te gaan lyn natmaak.