“Dit is maar hoe vryheid is. Dis soos suurstof. Wanneer jy dit het, kom jy dit nie eens agter nie.”
Is dit nie ook maar die geval met Suid-Afrika se georganiseerde landbou nie? Gaan ons dit eers werklik waardeer wanneer dit nie meer daar is nie of, ten minste, wanneer dit nie meer werk soos dit moet nie?
Die eerste saadjies van die georganiseerde landbou is geplant met daardie vroeë pogings om Suid-Afrika se landbou te kommersialiseer ná die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog, toe groot dele van die land se plase in puin gelê en die landbou in ’n sukkelbestaan gedompel is.