Bertus Goosen, ’n boer van Matlakeng, en sy dogter, Nicolene (17), is al bekende deelnemers aan dié kompetisie. Bertus stal al die afgelope 20 jaar sy boerepatente uit, en Nicolene is ook al sowat agt jaar met haar eie vindingryke ontwerpe by die kompetisie betrokke.
Boonop het een van verlede jaar se jong sensasies, David de Wet van die Laerskool J.J. van der Merwe op Ermelo, weer drie pryse met sy patente gewen. Hy was verlede jaar die wenner in die skole-kategorie vir sy ontwerp van ’n hefboom waarmee ’n slap draadhek (bekslaner) maklik oop- en toegemaak kan word. Hy het ook geld gemaak met sy patent nadat hy verskyn het in al wat ’n tydskrif en koerant is en op radio- en televisiestasies oor sy oulike plan uitgevra is.
Volgens David het hy sowat 800 van dié uitvinding verkoop. Hy het R50 gemaak uit elke verkoping, terwyl die res vir die staal moes betaal. Met die geld koop hy speenkalwers aan om groot te maak. Wanneer hy hulle verkoop, koop hy nóg speenkalwers. Hy het reeds sowat agt beeste.
David het die skole-kategorie met ’n ander hektoemaker die Spoormeester, gewen. Die verskil is dat hierdie patent vir dik hekpale soos ’n spoorweg-dwarslegger van hout bedoel is. Sy twee ander hektoemakers, Veemeester en Hekmeester Plus, was tweede en derde.
Kategorie A (nuwe masjinerie, implemente en landboutoerusting)
Bertus was met sy vuurvegter (foto 2) die wenner. Hy sê dit was eers ’n masjien wat die blaasbalk, waarmee hy sy brandysters vir die beeste verhit, aangedryf het. Hy het toe ’n watertenk langs die masjien op ’n raamwerk gemonteer, en dit met ’n verlengingspyp aan ’n spuitkop verbind. Die vuurvegter staan agterop ’n bakkie en dan kan hy smeulende stukke hout en miskoeke doodspuit wanneer hy brandbane maak. Dié boerepatent het hom nie veel geld gekos nie hy moes net die verlengingspyp koop, en verder kom alles van sy eie werf af.
Kategorie B (gemodifiseerde masjinerie, implemente en landboutoerusting)
Die wenner is Gert van Tonder van Reitz met sy Elevator-waentjie (foto 3). Hy is ’n kontrakteur en moet soms aan hoë installasies soos maste werk. Hy het hierdie hystoestel ontwerp om die taak makliker en veiliger te maak. Dit beskik oor ’n platform in ’n staalraamwerk wat met behulp van ’n 105 ampère-uur-battery tot 4 meter hoog gelig kan word. Hy het die battery al tot 15 uur lank gebruik voordat dit herlaai moes word. Die hyser het ’n dubbele kabel om dit veiliger te maak.
Johan de Jager, ’n boer van Gobabis, se verstellingswaster vir ’n boorgatsilinder was tweede. Hy sê wanneer ’n boorgatpomp se waster begin afslyt, sit hy hierdie verstellingswaster in en bring die ou waster weer bo-op aan om die leeftyd te verleng.
Van Tonder se wateraangedrewe hidropomp (foto 4) was derde. Dit is ’n mono-waterpomp met ’n skroef wat op die pomp se as aangebring is. Die vloei van die rivier laat die skroef draai, waarna water gepomp word tot in die waterkrip op die wal vir die vee om te suip. Dit hou die vee veilig; anders beland dorstige diere soms per ongeluk in die rivier.
Kategorie C (elektriese en nie-elektriese gereedskap)
Nicolene was die wenner met ’n lugdruk-domkrag (foto 5 en video). Sy het een van haar pa se ou kompressors daarvoor gebruik en ’n hoëdrukpyp daaraan gekoppel, wat op sy beurt met ’n drukmeter verbind is. Daaraan het sy ’n doodgewone 2 liter-plastiekkoeldrankbottel deur middel van ’n klep gekoppel, wat voorkom dat die lug terugvloei en as ’n eenrigtingklep (non return valve) dien. Die bottel word platgedruk en ingeskuif onder die voorwerp wat opgelig moet word. Die kompressor wat met elektrisiteit werk, word aangeskakel en die lug wat in die bottel gepomp word, lig die voorwerp op. Die bottel word tot sowat 4 bar opgepomp, wat genoeg is om voorwerpe van tot 4 ton op te lig.
Haar pa het die tweede prys met ’n werkklamp (foto 6) gewen. Wanneer hy twee stukke yster of pype aanmekaar moet sweis, plaas hy die twee dele in die klampe, skuif die punte teen mekaar en klamp dit vas. Dan kan hy dit perfek en in lyn aan mekaar vassweis.
Die derde plek is toegeken aan De Jager vir ’n stuk gereedskap (foto 7) wat dit maklik maak om ’n saaglem skerp te maak. ’n Stomp saaglem word vasgeklem en ’n hoekslyper word ingespan om dit skerp te maak.
Hy het ook ’n patent vertoon waarmee ’n boer sy drukgang vir beeste kleiner kan maak wanneer hy met kalwers werk. As die werk klaar is, verstel hy dit weer na die oorspronklike grootte om by groot beeste aan te pas. Hy het nie ’n prys daarmee gewen nie, maar beesboere wat die uitstallings besoek het, was baie beïndruk.
Kategorie D (huis en haard)
Goosen het dié kategorie met sy frikkadelmaker (foto 8) gewen. Die ontwerp bestaan uit twee plat stukke aluminium met holtes in albei dele wat oor mekaar pas en met gleuwe verbind is. Hy sit 75 gram maalvleis in ’n plastieksakkie, plaas dit in die middel van die frikkadelmaker en maak dit toe sodat die vleis by die holtes ingepers word. Dan is daar vyf mooi frikkadelle in die sakkie wat hy kan gaarmaak.
Nicolene was tweede met haar sakvuller. Dit bestaan uit ’n 20 liter-plastiekdrom waarvan die deksel verwyder en die bodem uitgesny is. Sy plaas dit in ’n sak se bek sodat sy byvoorbeeld maklik mielies kan ingooi.
Johan Harlaar van Delmas se A-Square Superbraai (foto 9) is in die derde plek aangewys.
Kategorie E (ope afdeling)
Nicolene het met ’n hamermeuldeksel (foto 10) gewen. Dit voorkom die vermorsing van mielies wanneer dit gemaal word. Die patent bestaan uit ’n stuk sinkplaat met ’n ronde opening in die middel waarin sy ’n deurgesnyde 20 liter-drom plaas. Die patent word oor die hamermeul se invoergeut geplaas en die mielies word deur die drom gegooi. Wanneer die hamermeul die mielies maal, spat die pitte nie uit nie.
Shirline de Kok van Vierfontein se Kombuishulp (foto 11) het tweede gekom. Dit is ’n apparaat met verskillende toepassings waarmee sy onder meer knoffelhuisies stukkend druk, wortels sny, skorsies middeldeur maak en bottels se skroefdoppe verwyder.
Gys Botha was derde met sy mieliepitter (foto 12); ’n werktuig met ’n ronde opening met skerp penne waardeur ’n mieliekop gedruk word om die pitte te verwyder. Sy help-my-trap-fiets was vierde.
Kategorie F (skole)
David was die wenner met sy Spoormeester, tweede met sy Veemeester en derde met sy Hekmeester Plus.
Deelnameprys
Graan SA se deelnameprys is aan Lourens Jacobs van Secunda vir sy stompklower (foto 13) oorhandig. Hy is ’n student in landbou-ekonomie aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom en verdien sakgeld deur vuurmaakhout te verkoop. Om stompe in kleiner stukke te kloof, het hy ’n kettingsaag op ’n raamwerk aangebring en ’n apparaat bygevoeg sodat hy die saag met ’n voetpedaal aan die gang kan sit. Nou kan hy albei hande gebruik om die stompe veilig in korter stukke te saag.
Kommersiële prys
Graan SA het sy kommersiële prys toegeken aan Ferdi Bouwer van Pretoria wat die Polecat, ’n peutervrye hekmotor ingeskryf het. Hy het sy eie hekmotor ontwerp en dit in ’n regopstaande houer van staal aangebring wat met sement diep in die grond geanker word. Dit is dan peutervry en kan nie sómmer gesteel word nie.