Share

'n Geskiedenis van die toilet

Sedert die vroegste tye was die vraag oor wat om met menslike afval te doen 'n groot probleem vir gemeenskappe. Deesdae gebruik miljoene mense spoeltoilette sonder om twee keer daaroor te dink. Maar waar kom spoeltoilette vandaan? En wat het mense vroeër gedoen?

Vir honderde duisende jare was die toilet en die naaste bos sinoniem. Vir baie mense is dit nog steeds die geval, aangesien daar geskat word dat ten minste die helfte van die wêreld se bevolking nie toegang tot krane met skoon water het nie.

Spoeltoilette

Die spoeltoilet is baie oud – van die eerstes is in die Paleis van Knossos wat deur koning Minos gebou is, gevind. Dit het selfs 'n houtsitplek gehad en baie soos moderne spoeltoilette gewerk. Binnehuise badkamers het in 2000 vC in die Indus Vallei verskyn en die riool is in straat-dreine afgespoel. In Elizabethaanse Engeland is die spoeltoilet vir 'n kort tydperk gebruik, maar het eers weer in die 18de eeu sy verskyning gemaak.

In 1860 het die Eerwaarde Henry Moule die "grond-kloset" ontwerp – 'n variasie van die "put-kloset" wat vir baie eeue gebruik is. Die gebruiker van die "grond-kloset" het agterna 'n hefboom getrek wat ’n laag grond, houtskool of as oor die inhoud van die emmer laat val het. Die emmer is gereeld leeggemaak. Oor die algemeen is "put-klosette" toegegooi wanneer hulle vol was en 'n nuwe een is langsaan gegrawe. Dit was egter onprakties in stedelike gebiede waar spasie beperk was.

Kamerpot en mishoop

Gedurende die Middeleeue het mense in Europa kamerpotte gebruik wat dikwels sommer by die naaste venster leeggemaak is, wat help om te verklaar hoekom die builepes en die rotte wat dit versprei het in die vyftiende, sestiende en sewentiende eeue gefloreer het. Cholera was ook 'n reuse probleem in die smerige stede, veral as drinkwater afkomstig was van dieselfde riviere wat as stortplekke vir menslike afval gebruik is.

Op die platteland het mense eenvoudig alles op die mishoop langs die plaashuis gegooi. Aanvanklik het boere hierdie afvalprodukte as bemesting gebruik, maar soos stede ontwikkel het, het dit onprakties geraak en het mense eenvoudig hulle afval in die naaste rivier gegooi, wat natuurlik minder aangenaam was vir die mense wat stroomaf gewoon het.

Die spoeltoilet

Die spoeltoilet is nie, soos die meeste mense glo, deur Thomas Crapper ontwerp nie. Hy is 'n karakter wat deur die Britse skrywer Wallace Reyburn geskep is in sy fiktiewe biografie van Thomas Crapper, met die titel "Flushed with pride".

Die eerste keer wat die algemene publiek vrylik toegang tot spoeltoilette gehad het, was tydens die Great Exhibition in die Crystal Palace in 1851. Dit het baie gehelp om hulle populêr te maak. Die Londense rioolstelsel wat ontwerp is om reënwater te hanteer, het egter baie vinnig verstop geraak met hierdie slyk, wat tot groot probleme gelei het.

Van alle huishoudelike toestelle is die spoeltoilet die grootste waterverbruiker. Die koste verbonde aan gesentraliseerde watersuiwering is ook redelik hoog, wat dit buite die bereik van baie ontwikkelende lande plaas. Die volumes riool in groot stede is oorweldigend en is dikwels ’n groot probleem vir stadsingenieurs.

So, die volgende keer wanneer jy die toilet spoel, dink aan diegene wat nie 'n spoeltoilet het nie en al die mense wat miljoene jare lank vir Moeder Natuur as 'n reuse toilet gebruik het – en dit nog steeds doen.

(Bronne: localhistories.org; trivia-library.com; Bill Bryson: At home)

(Susan Erasmus, Health24, hersien November 2010) 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE