Wat gebeur vandag met Mark Shuttleworth se liggaam by zero swaartekrag in die ruimte?
Balans en Ruimtesiekte
Die ruimtevaarders dryf in die tuig rond, maar die ergste ruimtesiekte is moontlik reeds iets van die verlede. Die brein en liggaam het moontlik reeds goed aangepas by die gewigloosheid.
Baie minder liggaamsvog
Hul gesigte is nie meer geswolle nie, maar in die niere se poging om hierdie vogwanbalanse te herstel, het die liggaam enorme hoeveelhede vog verloor. Die liggaam se vogregulering stabiliseer nou op hierdie nuwe vlak van verlaagde vogvolume. Hulle urineer stadigaan weer redelike gewone hoeveelhede vog afhanged van hoeveel vog hulle drink. Hulle is egter nie juis dors nie.
Verloor rooi- en witbloedselle
Die ruimtevaarders het moontlik reeds ‘n vyfde van hul bloedvolume verloor en ook rooi- en witbloedselle. Hulle voel egter goed en energiek, want dit is “ruimte-normaal”.
Immuniteitstelsel aan't verswak
Ruimtevaarders se immuniteitstelsel is reeds swakker. Die drie ruimtevaarders se speeksel bevat moontlik reeds vandag al meer viruses en bakteriee as op aarde.
Verloor Beenmassa
‘n Ruimtevaarder kan tot 1 persent van sy beenstruktuur per maand en ook beenspiermassa in die ruimte verloor.
Mark oefen twee en half uur per dag om die been- en spierverlies te beperk. Hy moet “vasgeanker” word om te kan oefen, anders vlieg hy met die geringste beweging deur die hele tuig.
Verloor spiermassa
Die verswakking van die skelet het reeds gister begin en duur voort. Verswakking van die skelet is ‘n ernstige newe-effek van reis in die ruimte.
Ruimtevaarders kan selfs op kort sendings 10 tot 20 persent van hulle spiermassa verloor. Die grootste verlies aan spiermassa is in die rug- en kuitspiere.
- (Health24, April 2002)