Die meeste vliegtuie wat hy al binne ’n uur op die Nampo-oesdag se vliegveld buite Bothaville moes hanteer, was 70, sê Cliff Lötter, gesoute lugverkeerbeheerder op die Nampo-vliegveld. “Dit kan lekker besig raak in daai hemelruim en op daai landingstrook, veral soggens tussen 07:30 en 11:00.”
Dié elektriese ingenieur van Klerksdorp, wat sy vliegskool sowat tien jaar gelede verkoop het, staan dié skoene al die afgelope 18 jaar vol.
Volgens die Airports
Company SA se statistiek vir die 2023-’24-boekjaar het 23 vliegtuie per uur in
dié periode daar geland.
“Ek het twee ‘spotters’ wat dinge uit die beheertoring help dophou, en twee tot drie ouens op die grond wat die vliegtuie en helikopters help parkeer,” sê Lötter. “Die Nampo-oesdag is die grootste invlieg-geleentheid (wanneer vliegtuie na een punt invlieg) in die Suidelike Halfrond. Ons hanteer jaarliks ook gedurende die vier dae van Nampo meer as 900 opstyg- en landingsbeweging.”
’n Spesiale geleentheidsfrekwensie word gedurende Nampo vir radio-lugverkeerkommunikasie gebruik. Daar is ook ’n WhatsApp-groep waarop gekommunikeer word.
Rekord-getal vliegtuie
Op 16 Mei 2019 het ’n rekord-getal van 190 vliegtuie en 47 helikopters binne drie uur in Nampo-park geland. Toit Wessels, wat toe Graan SA se assistentbestuurder van bemarking en Nampo was, sê daardie oggend het ’n vliegtuig amper elke minuut geland. Wessels het verlede jaar afgetree.
Verlede jaar het ’n totaal van 200 vliegtuie en 75 helikopters die hele week van Nampo geland.
En hoe hanteer mens dit as dit so rof gaan?
“Daar’s nie tyd vir rondstaan nie, jy moet bontstaan en baie mooi kophou as dinge so besig is,” sê Lötter. “Onthou, op ’n lughawe soos OR Tambo is daar vliegroosters, ondersteuningspanne en baie logistiek in plek. Met Nampo is daar nie ’n rooster nie, mense daag op en jy werk met wat jy op die dag kry.”
Lötter sê dit is ’n baie opwindende tyd, maar hy skerts dat hy ook bly is dat dit net een keer per jaar gebeur.
Soos ’n weerdiens
Die beweging van vlieëniers en vliegtuie word ook gereeld as ’n barometer vir die veranderende weersomstandighede tydens Nampo gebruik. Lötter sê sekere vliegtuie en helikopters kan nie opstyg as donderstorms is of as die wind te sterk is nie. Dié vlieëniers hou weer-toepassings fyn dop om seker te maak dat hulle betyds opstyg.
“Van die kleiner vliegtuie het ook nie die nodige klaring om in die nag te vlieg nie, so hulle moet betyds opstyg om seker te maak dat hulle voor donker by hul eindbestemming aankom.”
Wessels sê hulle moes al in die verlede mense help om verblyf vir die nag te kry omdat die weersomstandighede vinnig verander het en hulle nie betyds kon opstyg nie.
’n Tweede rybaan
Gebruikers van die vliegveld kan vanjaar uitsien na die gebruik van ’n tweede rybaan, sê dr. Dirk Strydom, Graan SA se hoof van Nampo, bemarking en navorsingsontwikkeling. Om te kan opstyg moet die vliegtuie met ’n rybaan afry, omdraai en dan terugry om spoed op te bou voor hulle opstyg.
Lötter sê voorheen kon hulle op die meeste vier vliegtuie toelaat om op ’n slag met die rybaan af te ry sodat almal veilig kon opstyg.
“Nou sal die vliegtuie op die tweede rybaan kan afry, terwyl die ander wat reeds op die aanvanklike rybaan gereed staan, kan opstyg,” sê Strydom.
Volgens Lötter is sowat 50% van die gebruikers van Nampo se vliegveld boere, sowat 20% is sakemanne en 30% is korporatiewe instansies wat hul hoofde en/of spanne vir ’n dag of wat invlieg.