Die NWRPO se dieregesondheidsforum sê sy konstruktiewe en leidinggewende deelname, tesame met die ondersteuning van die nasionale RPO en die nasionale dieregesondheidsforum, het in ’n groot mate bygedra om die provinsie sedert 5 Maart vry van bek-en-klouseer verklaar te kry.
Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van die NWRPO, sê daar word ’n indruk geskep dat die organisasie niks gedoen het om die rooivleisprodusente en veral geaffekteerde boere by te staan nie. “Dit getuig van oningeligtheid en gebrekkige deelname aan al die geleenthede wat die NWRPO geskep het.”
Hy sê sedert die eerste uitbreking in 2022 het die NWRPO aktief betrokke geraak by die kommunikasie met verantwoordelike amptenare in verskeie strukture van die staat om bek-en-klouseer te bekamp en verdere verspreiding te voorkom.
Provinsie nou skoon
Sedert 2022 is uitbrekings op 18 persele aangemeld, maar dit is tot en met 24 Februarie 2024 stapsgewys ingevolge die vereistes van die Wêrelddieregesondheidsforum (WOAH) uitgefaseer en afgesluit. Twee plase en ’n voerkraal se beesbevolkings is deur die gekontroleerde vereistes deur die uitslagting van die diere verwyder en die bek-en klouseer-uitbrekings was teen 11 April 2023 opgelos en by die WOAH afgesluit.
Sestien ander plase met kommersiële en stoetteelkuddes is getoets om die afwesigheid van die sirkulerende virus 12 maande nadat die kliniese eindpuntwaarneming verby was, te bepaal. Hierdie plase is tussen 10 Oktober 2022 en 27 Februarie 2024 by die WOAH afgesluit.
Du Toit sê die provinsie is dus nou vry van bek-en-klouseer, maar al die bioveiligheidsmaatreëls soos ingestel deur die landbouprodukte-agentskapsraad (Apac) se regulasies is nog steeds van krag om biosekerheid te handhaaf.
Hy sê die nasionale RPO en dieregesondheidsforum het sedert die uitbrekings in KwaZulu-Natal en Limpopo met die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming se direktoraat van veeartsenydienste geskakel om maatreëls in te stel wat die vrye handel van diereprodukte in geaffekteerde en aangrensende gebiede onder sekere voorwaardes so spoedig moontlik toe te laat.
“Die RPO se standpunt was deurentyd dat vrye verhandeling van veeprodukte so spoedig moontlik hervat moes word vanweë die belangrikheid van die sektor vir die landbou en almal wat daarvan afhanklik is.”
Plan van aksie
Hy beklemtoon dat omdat bek-en-klouseer ’n beheerde siekte is wat ingevolge die Dieregesondheidswet gehanteer moet word, het die RPO nie regstreeks inspraak by individuele geaffekteerde plase nie, en daardie inligting mag ook slegs deur die veeartsenydienste bekend gemaak word.
Die NWRPO kon dus nie regstreeks by geaffekteerde boere betrokke raak nie, alhoewel die NWRPO daarop aangedring het. Voortspruitend hieruit is die Apac-maatreëls, wat nie voorheen bestaan het nie, geformuleer en ingestel om bioveiligheidsmaatreëls in die bedryf gevestig te kry om die beheer en verspreiding van die siekte te monitor en te bekamp.
Daar was ook kontak met owerhede in die provinsie om werkbare oplossing in te stel en deurlopend met die rampbestuursentrum en die provinsie se veeartsenykundige dienste geskakel.
“Die NWRPO se dieregesondheidsforum het die leiding hierin geneem en al die betrokke rolspelers is by beplannings- en moniteringsvergaderings betrek. Verskeie inligtingsvergaderings vir landbouverenigings en beesboere is gereël om hul by te staan met die riglyne en inligting wat opgestel is.”
Du Toit sê vervoer- en verwyderingsdokumentasie is steeds van krag sowel as dieregesondheidsverklarings en dit moet deur die polisie, veeartsenydienste en rolspelers in die waardeketting gemonitor word. Veilingsagentskappe en veilingkrale moet ook in hul eie belang aan alle vereistes voldoen.
“Rooivleisprodusente se grootste beskerming teen bek-en-klouseer is die toegewyde toepassing van ’n biosekerheidsplan wat deel van elke plaas se dieregesondheidsplan moet vorm.”