Die tema van vanjaar se oesdag is: “Landbou in ’n digitale era.” In ’n landskap waar konnektiwiteit ’n immerteenwoordige werklikheid word, gebruik Suid-Afrikaanse boere digitale oplossings om tradisionele probleme te oorkom en hul bedrywighede te bevorder.
Van die afgeleë landelike gemeenskappe tot die tradisionele boerderydistrikte se aanvaarding van digitale tegnologieë is besig om landboupraktyke te omvorm en hulle veerkragtiger en aanpasbaarder te maak vir die veranderende eise van die mark en die omgewing.
Wat is nuut vanjaar?
Dr. Dirk Strydom, hoof van bemarking, Nampo en navorsingskoördinering by Graan SA, sê die grense van Nampo-park kan nie geskuif word om die skou groter te maak nie, dus moes hulle kreatief dink om die oesdag die moeite werd te maak vir uitstallers én besoekers.
“Ons het vanjaar nuwe plaveiselpaaie gebou, bloot om seker te maak die besoekers kom by al die uitstalruimtes uit. Verlede jaar het ons met digitale mediums gekyk waar mense op Nampo-park beweeg en gesien daar waar plaveiselpaaie is, is daar voete,” sê Dirk.
“Ons het ook ’n groot kragopwekkerstelsel geïnstalleer om tydens beurtkrag en krag onderbrekings die hele skou aan die gang te hou.”
Nampo-park het nog drie 500 kVA-kragopwekkers geïnstalleer wat, bykomend tot die bestaande 300 kVA-kapasiteit, genoeg elektrisiteit sal verskaf om in die aanvraag tydens die oesdag te kan voorsien.
Baie uitstallers is besig om hul uitstalaanbiedinge ’n nuwe baadjie te gee en uit te brei. Die nuwe Midas-saal aan die suidoostelike kant van die park huisves ’n bykomende 60 binnenshuise uitstallers.
Benewens die ekstra saal het Graan SA ook bykomende verblyf vir die oesdag gebou, wat meer as 600 mense kan huisves.
Dit sal ook in die toekoms nuttig wees as maatskappye konferensies in die park wil hou.
“Ons het ook baie aandag aan die hekke gegee en dit verander om die vloei van mense maklik te laat verloop.”
Heerlike nuwe eetervarings wag op besoekers. “Ons het saam met Landbouweekblad en Syngenta die Plaaskombuis-konsep aan die suidoostelike kant van die park gevestig omdat daar nie ’n groot kosaanbieding aan daardie kant is nie.
“Daar is ’n paar dinge wat mense na ’n area lok: plaveiselpaaie, sale en kos. Dit was die gedagtegang. As jy dus by die suidelike hek inkom, kan jy dadelik by heerlike kos uitkom.”
Soveel uitstallers en stalletjies Met reeds byna 900 uitstallers moet ’n mens planne beraam
om dit nuut en interessant vir
besoekers te hou.
Vir die week van die Nampo-oesdag kan Nampo-park gemiddeld 80 000 besoekers akkommodeer. Graan SA probeer eerder om die Nampo-oesdag te verbeter as om die park uit te brei.
“Die rede hoekom ons nie die grense van die park verskuif nie, is omdat dit reeds moeilik vir besoekers is om in een dag al die stalletjies te besoek. “As jy elke uitstaller wil besoek, moet jy hoogstens 40 sekondes by ’n stalletjie deurbring. Daarom kom die meeste besoekers vir twee dae. Om dit ook regverdig vir die uitstallers te hou, maak ons dit nie groter nie,” sê Dirk.
“Ons probeer alle probleme uitstryk en verbeter, soos die infrastruktuur en die paaie. Ons probeer die vullisverwydering verbeter. Een van ons beste komplimente is dat die park altyd so skoon is. Ons wil nie daardie dinge afskeep nie.”
Die waglys vir uitstallers wat nie plek kry nie, is tans 530 maatskappye.
“Dit werk tans op ’n kansellasiegrondslag. Die kliënte wat reeds uitstal, kry weer die reg om volgende jaar uit te stal. Hulle moet ons voor ’n bepaalde tyd laat weet en betaal. As kliënte nie betaal nie, verbeur hulle hul spasie.
“Natuurlik is daar van die bestaande uitstallers wat groter spasie nodig het namate hul produkte groter raak. Ons moet dus ook eers bepaal hoe ons van die bestaande uitstallers se versoeke kan hanteer. Ons kan nie altyd help nie.”
Internettoegang tydens die oesdag is volgens hom altyd ’n probleem. “Van die selfoonmaatskappye rig tydelike torings op om meer kapasiteit te skep. Die realiteit is egter die internetstroom wat inkom, is net ’n sekere grootte en dit word opgedeel tussen 5G, 4G, 3G en Edge.
“Gedurende Nampo het ons tegnici wat voortdurend kyk watter een van die seine hardloop vol. Dit gaan oor meer as net selfoonsein – dit is ’n komplekse stelsel.
“Graan SA kan nog nie internettoegang aan die uitstallers verskaf nie, want die infrastruktuur wat reg moet wees om vir 900 mense toegang tot die internet te gee, is nogal astronomies. Dit is beslis ’n plan vir die toekoms, maar ons is nog nie daar nie.”
Hoekom moet mense Nampo toe kom?
Eerstens is die Nampo-oesdag ’n landboubesigheidskou. Die doel daarvan is dus vir boere om na maatskappye toe te kom, blad te skud met die uitvoerende hoof of hoofbestuurder en te gesels oor hul boerderyprobleme op die plaas.
Maatskappye kry dan die geleentheid om boere hiermee te help en besigheid te doen.
“Boere kan sê as hulle dalk ’n probleem met die maatskappy se produk het, en hoe die maatskappy daarop kan verbeter. Sulke soort terugvoering is vir landboumaatskappye baie belangrik.”
Die Nampo-oesdag bied ook ’n platform waar ’n mens al die jongste tegnologie kan sien wat tans in die bedryf beskikbaar is.
“Boere in Suid-Afrika kan nie meer bekostig om nié doeltreffend te boer nie, en op Nampo kry hulle die tegnologie wat hulle in staat stel om doeltreffender te boer.
“As jy besluit jy wil in nuwe plantertegnologie belê, kan jy op Nampo al die plantermaatskappye besoek en met hul kundiges praat – nie net ’n verkoopsman nie.
“Dit bied jou die geleentheid om al die maatskappye met mekaar te vergelyk.”