Manie glo daar is natuurlik niks fout daarmee om geld te hê nie en die ryk manne het dit, want hulle verstaan besigheid en ekonomie. Daarom het hulle sommer gou die geleentheid in wildboerdery gesien en besef hul grondjies is straks meer as net naweekplase. Met ’n bietjie bestuur kon hul wegbreekplasies ekonomiese eenhede word en wat winsgewendheid betref, selfs by hul besighede in die stad kers vashou.
Só het ’n klomp besigheidsmense van die stad teruggekeer na hul oupas en oumas se swaarkryplase en weer boere geword. In die proses het ’n hele klomp ander boere ook gesien hoe ’n mens optimale wins uit jou marginale grond kan maak, en die woord wildbedryf het ’n heel ander betekenis gekry. Wildboere dra deesdae meer as R16 miljard per jaar tot die Suid-Afrikaanse ekonomie by.
Manie sien die resep is só suksesvol dat die departement van bosbou, visserye en omgewingsake nou sy tande vir die bestanddele slyp. Met ’n nuwe aanslag op die benutting van renosters, leeus, olifante en luiperds wil die departement se minister, Barbara Creecy, die bufferbedrywe wat wilde leeus verskans en ’n groeiende renosterbevolking teen stropers beskerm, tot niet maak.