Seleksie vir uitsonderlike vrugbaarheid en koeie met ’n lang, produktiewe leeftyd is die regte roete waarlangs ’n uitnemende kudde gebou moet word, soos wat die Beefmaster-stoetery Van-Dev van Pieter van Deventer van Coligny bewys.
Pieter boer op die plaas Klipfontein en is baie trots op sy vierde Beefmaster- elitekoei, AHA 10-0634, wat nou 13 jaar en 6 maande oud is en al 12 kalwers gehad het. Haar gemiddelde speenindeks is 109 en sy spog met ’n puik tussenkalf- periode (TKP) van 356 dae, gemeet aan haar eerste 11 kalwers. Haar jongste kalf, AHA 26-3071, is 6 maande oud en loop nog saam met haar.
Die Elitekoei is ’n kalf van die koei AHA 03-234 en die bul FRJ 05-12. AHA 03-234 het ook 12 kalwers gehad. Dit bevestig hierdie moederlyn se besonderse vrugbaarheid en uitnemende langlewendheid. Een van Pieter se vorige Elitekoeie se ma het 15 jaar oud geword en haar ouma het 20 jaar lank geleef.