Met spanname soos die Skou Pêrre, Kanaalbabers, Sluistrekkers, Neutkrakers, Buite Pêrre, Malkoppas en Skuinsklappers was daar duidelik groot pret op die landboumaatskappy Obaro se interboere-uniesaamtrek op Brits, met hier en daar ’n paar nerfaf knieë en ’n gekneusde ego of twee.
Nic Bronkhorst, uitvoerende hoof van Obaro, sê met die sterk terugkeer van jong mense na boerderye wou hy ’n alternatief vir ’n formele konferensie skep. “Van die jong boere het eers boerdery-ondervinding oorsee gaan opdoen en dan na die familieplaas teruggekeer.”
Hierdie stroom terug plaas toe het mettertyd sterker begin vloei namate skoonseuns en ander jong mense ook ’n goeie toekoms in boerdery begin sien het. “Nie almal woon kongresse by nie. Die doel van die interboere-uniesaamtrek is dus om daardie boere bymekaar te bring om deel te neem aan gesprekke oor landbousake wat hulle raak. En natuurlik om pret te hê.”