Share

Wetsontwerp om pornografie te verban

'n Ma kom op haar 5-jaar-oue seuntjie af waar hy met 'n badspeelding sy klein sussie se anus probeer penetreer. Wanneer sy hom vra wat hy besig is om te doen, antwoord hy dat hy dit op die internet gesien het.

Dit was een van die gruverhale wat aan die lig gekom het gedurende 'n onlangse simposium met die titel: "Die effek van blootstelling aan pornografie op kinders en die impak daarvan op die gemeenskap" wat in Kaapstad gehou is. Die kollig by hierdie bespreking het op die 'n nuwe wetsontwerp geval wat pornografie van die internet en selfone sal verban, indien dit aanvaar word.

Die wetsvoorstel sal 90 persent van die bytende pornografiese inhoud, wat sulke onbeskryflike skade aan die gemeenskap doen, stopsit, veral in die geval van adolessente en jong kinders, skryf Chris Bateman in die South African Medical Journal, in sy verslag oor die simposium.

"Die voorgestelde wetsontwerp het 'n deurtastende debat rondom die konflik tussen regte soos menswaardigheid, privaatheid en vryheid van meningsuiting uitgelok. As die wetsvoorstel in sy huidige vorm voortgaan, beoog die Die Instituut vir die Vryheid van Meningsuiting (FXI) om dit in die howe aan te vat," skryf Bateman.

Die wetsontwerp wat deur die regering, godsdienstige-, gemeenskaps- en nie-regeringsorganisasies ondersteun word, stel voor dat bestaande plaaslike wetlike definisies van pornografie gebruik word om enige internet- of selfoon-diensverskaffer wat pornografie versprei of die verspreiding daarvan toelaat, skuldig te maak aan 'n oortreding wat onderhewig aan tronkstraf en/of swaar boetes sal wees.

Wêreldwyd is daar 'n geraamde 4.2 miljoen pornografiese webwerwe (12% van alle webwerwe), met 28,258 gebruikers per sekonde. Clive Human, wat lid is van 'n gemeenskapsgebaseerde organisasie wat pornografie-verslaafdes help, het "onrusbarende" stories vertel van hoe die huwelike van pornografie-verslaafdes verbrokkel, hoe party van hulle selfmoord pleeg en selfs hulle eie kinders mishandel namate hulle verslawing al hoe erger word. Bateman sê dat die volwassenes wat hy bystaan, in die meeste gevalle, op een of ander manier as kinders aan seksueel-eksplisiete materiaal blootgestel is of "geseksualiseer" is – wat hulle ingesteldheid teenoor vroue en seks help opbou het.

Human berig dat hy reeds 'n "toename in aggressie" by seuns waargeneem het, terwyl dit ook besig is om "standaardpraktyk" te word dat kinders pornografie gebruik om mekaar te oorreed om aan promiskue seksuele dade deel te neem. Seuns sukkel om op ’n nie-seksuele manier teenoor meisies op te tree, terwyl die pornografie waaraan meisies blootgestel is, 'n verwoestende uitwerking op hulle verhoudings, liggaamsbeeld en selfrespek het. 

Seksverslawing moeilik om te behandel

"Verslawing aan pornografie is moeiliker om te behandel as dwelmverslawing," het veteraan psigiater, Emeritus Professor Tuviah Zabow, aan die simposium vertel. Dit is omdat pornografie-verslawing brein-chemikalieë vrystel, wat nie gewysig kan word nie. Die verslawing skei endogene chemikalieë af, wat in teenstelling met eksogene chemikalieë nie verander kan word nie."

"Die grafiese, meesleurende en sterk visuele karakter van pornografie maak dit meer oortuigend vir kinders as die minder direkte, verbale of geskrewe boodskappe van ouers en onderwysers," het Fiona Tanzer aan die simposium meegedeel. "Pornografie is 'n slegte bron van seksuele opvoeding omdat die inligting verwronge en onakkuraat is en omdat kinders nie die vermoë het om te verstaan dat dit ’n bisarre en onverantwoordelike fantasie is nie. Teen die tyd dat hulle dit besef, is die skade alreeds geïnternaliseer."

"Die aanskou van seksuele dade stimuleer die breinkanale vir stimulering (adrenalien) en beloning (dopamien) en programmeer blywende neurologiese veranderinge in die brein. Die onvolwasse brein gaan nog steeds deur die proses van programmering vir seksuele gedrag, oriëntasie, stimulering en aantrekking, iets wat jong kinders en tieners veral vatbaar vir pornografiese versteuring van hulle ontwikkeling, en pornografie-verslawing, maak."

Wetsontwerp deur konserwatisme aangedryf?

Professor Rachel Jewkes, direkteur van die Mediese Navorsingsraad se Geslags- en Gesondheidsnavorsingseenheid, sê egter dat die wetenskaplike waarnemings wat aangebied is, geen poging aanwend om 'n onderskeid te tref tussen verskillende tipes pornografie en verskillende omstandighede gedurende mense se kinderjare nie. Volgens Bateman glo sy dat die wetsontwerp in ’n groter mate deur konserwatiewe ideologie aangedryf word as deur streng wetenskaplike navorsing.

- Wilma Stassen, Health24, September 2010

Bron: South African Medical Journal. Vol. 100, No.9

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE