Share

Wees lief vir jou lyf… en kry liefde terug

Hier te kort en daar te lank? As jy nie van jou lyf hou nie, saboteur jy onbewustelik jou sekslewe. Hier's raad om met ander oë na jouself te kyk.

Deur JONTI SEARLL

Dis heel moontlik flieks se skuld. Of die reklamebedryf met al sy ontsagwekkende boesems en imposante manlike bedeeldheid. Wie ook al die skuld moet kry, een ding is seker: Iewers word moderne paartjies om die bos gelei.

Dis omtrent onmoontlik om 'n gesonde liggaamsbeeld te hê in vandag se wêreld vol "perfekte" beroemdes en volmaakte tydskriffoto's. En uiteindelik dink ons almal dis ewe onmoontlik om wonderlike (of selfs net so-so) seks te hê sonder 'n wonderlike (of so-so) lyf.

Die slegte nuus is dat hierdie soort denke baie mans en vroue ten diepste aftakel. Die goeie nuus is dat jou liggaamsbeeld niks met jou lyf uit te waai het nie, maar eerder met hoe jy oor jou lyf voel. Dis waarom jy jou nie op hongerdiëte en plastiese snykunde hoef te verlaat nie. Jy moet maar net anders oor die saak begin dink...

Selfbeeld-slagveld

'n Hele rits bedrywe, waaronder mode, skoonheid, dieetprodukte en kosmetiese chirurgie, floreer op die idee dat fisieke foute verbloem moet word. Mettertyd begin ons ons klein tekortkominge as abnormaal en afgryslik beskou. Ons begin lelik voel en onseker oor wat ons onvolmaakte liggaam kan en durf geniet.

Komaan. Die volmaakte lyf is 'n mite, geskep met grimering, goeie beligting en Photoshop – daardie slim rekenaarprogram wat plooie en letsels letterlik uitvee.

Natuurlik is dit ongesond om oorgewig en onfiks te wees. Maar jy hoef nie bult- en plooivry te wees om fiks en seksueel vervul te voel nie. Tog bestee ons duisende rande en ure daaraan om ons heeltemal normale foute te probeer wegsteek. En dan wonder ons waarom ons nie kan ontspan en ons net daaraan kan oorgee om ons lyf saam met ons maat te geniet nie...

Manslywe en mites

In die ou dae het bemarkingsveldtogte veral met beeldskone vrouelywe te koop geloop, maar deesdae – noudat die "metroman" sy verskyning gemaak het – is mans ook die teiken

van glansadvertensies waarin hul lywe as uitsonderlik aantreklik, glad en gespierd voorgehou word. G'n wonder gewone ouens voel onseker oor hul voorkoms nie.

Dis hoog tyd om na wyse raad te luister en te besef die sexyste, gelukkigste en sensueelste mense is nie dié met perfekte lywe nie. Dis diegene wat die gemaklikste in hul lyf voel. Jy kan maar weet die heel mooiste mense is gewoonlik dié wat die onsekerste oor hulself is (geestelik, emosioneel en liggaamlik).

As jy lief wil wees vir jou lyf en dit wil geniet, gaan dit nie oor hoe jy lyk nie, maar oor hoe jy voel.

Selfbeeld en seks

'n Slegte selfbeeld skep probleme in die slaapkamer. En wat gebeur dan? Die begeerte om seks te hê verdwyn.

Om mee te begin behels 'n swak liggaamsbeeld dat jy nie daarvan hou om kaal te wees nie. Nog voor jy dus in die bed spring, beteken dit al klaar seks gaan vir jou minder plesierig wees. Jy sal hier wegduik en daar toehou en nie eens voor jou maat van jou klere ontslae wil raak nie. Af met die lig en op met die laken! En vergeet maar van "onvleiende" seksposisies.

Selfs as dinge tog wel op dreef kom, is jy so begaan oor wat waar wikkel dat daar nie sprake is van uitbundige pret nie. Mans én vroue het nodig om verleidelik te voel en 'n onlekker gevoel oor jou lyf kan julle van hierdie plesier beroof.

As 'n man oor sy aantreklikheid twyfel, kan dit natuurlik sy vermoë in die bed benadeel en kan hy sukkel met ereksies en ejakulasie. Kort voor lank is daar stres, uitvalle, rusie en onsekerheid.

As jy 'n vrou is, kan 'n swak liggaamsbeeld jou van orgasmes beroof of dit kan spierspanning veroorsaak wat tot pynlike seks kan lei. As jy waarlik baie negatief oor jou liggaam voel, kan jou seksdrang sodanig afneem dat jy seks heeltemal gaan vermy.

Wees lief vir jou lyf

Jare van raadgee oor seks het my 'n paar belangrike waarhede geleer. Een daarvan is dat 'n gesonde, geliefde lyf 'n baie plesieriger sekswerktuig is as 'n perfekte een. Dink so daaroor: As genot net berus het op hoe jy lyk en orgasmes bepaal word deur volmaaktheid, hoeveel van ons sal dan fantastiese seks hê? Nie baie nie.

'n Ander waarheid is dat jy deur jou houding te verander ook jou liggaam se ervaring van seks kan verander.

Selfs al lyk jy niks anders nie. As jou ingesteldheid verander, sal die genot ook toeneem.

Leer om jou probleme nie so ernstig op te neem nie, maar met die spreekwoordelike knippie sout. Die eerste stap is aanvaarding. Aanvaar dat jy nooit die volmaakte lyf – wat dit ook al is – sal hê nie. En onthou dat jy in die oë van jou maat altyd mooi sal wees. As iemand jou liefhet, is hulle lief vir alles omtrent jou, foute en al. Begin om jou deur hul liefdevolle oë te sien.

Die tweede stap is om minder die uiterlike raak te sien en meer na die innerlike op te let. Kyk dwarsdeur die plooie, vetrolle en selluliet en sien die persoon daaragter raak wat lag, dink, aanraak en die liefde beleef soos jy dit doen. As jy net op die uiterlike konsentreer, word die innerlike afgeskeep, dié deel wat jou eintlik sensueel en seker van jouself laat voel.

Ten slotte moet jy jou selfbeeld herstel deur die plesier wat jou volmaak onvolmaakte lyf jou kan gee te ervaar – vir jouself en jou maat. Die oefeninge regs sal daarmee help.

Kyk met nuwe oë na jouself

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE