Share

Kuberseks – is dit ontrouheid?

"Hello Prinses,
Het die hele nag van jou gedroom. Hoop jy het ook aan my gedink. 
Mal oor jou – gister was fantasties. Tonne liefde!
Ridder"

As daar so 'n nota uit jou vrou se sak val, hoe sou jy voel? En as jy dit in haar e-pos inboks sou kry?

Wat is ontrouheid?

Twintig jaar gelede het daar min twyfel bestaan oor wat ontrouheid was. 'n Man word in 'n restaurant saam met sy sekretaresse gesien, daar is pienk lipstiffie op sy boordjie, eienaardige foonoproepe en tye waar hy net verdwyn.

Nou, met die internet, hoef jy nie eers jou huis te verlaat om te flankeer nie. Jou metgesel of lewensmaat ook nie. Maar saai die romantiese boodskap in die inboks dieselfde soort verwoesting as die lipstiffie op die boordjie?

Is 'n internet "affair" so erg soos 'n fisiese verhouding?

Te oordeel aan die aantal briewe van jaloerse en desperate, verwaarlooste lewensmaats aan "sake van die hart" kolomme in tydskrifte en op die internet, is die antwoord hierop 'n weerklinkende "Ja".

Wat is dit wat metgeselle jaloers en gefrustreerd maak? "Drie dinge," sê die Kaapstadse sielkundige Ilse Pauw. "Eerstens die feit dat jy afgeskeep en verwaarloos voel, tweedens dat jou maat intieme besonderhede met 'n buitestaander deel en derdens dat jy moet toesien hoe jou metgesel se fokus van julle verhouding na 'n ander geïdealiseerde aanlyn-karakter verskuif."

Die argument wat mense wat by aanlyn-flirtasies betrokke is, gebruik – of dit nou eksplisiet seksueel is of nie – is dat dit nie 'werklik' is nie, en dat dit nie regtig vir hulle belangrik is nie.

Maar hulle neig om nogal kwaai te reageer wanneer hulle metgeselle in die werklike lewe eis dat hulle hul kuber-ververhoudings beëindig. Die punt is nie hoe die persoon wat betrokke is die situasie rasionaliseer nie, maar hoe die persoon wie se lewe negatief hierdeur beïnvloed word, voel.

Die eindresultate is dieselfde

En of jou vrou aanlyn haar flikkers gooi of saam met 'n ou kêrel uitgaan, jou situasie is min of meer dieselfde. Jy voel eensaam, jy voel dat jou emosionele en seksuele behoeftes nie vervul word nie en dikwels doen jy ook meer as jou deel van die huishoudelike en ouerlike pligte.

Die aantrekkingskrag van aanlyn-verhoudings is dat die probleme van aangesig-tot-aangesig kommunikasie nie ter sake is nie, en dat dit mense in staat stel om hulself in 'n fantasiewêreld te herskep.

Skaam mense kan onverskrokke en direk word; onaantreklike mans van 50 met 'n bleskop en 'n boep kan gym-instrukteurs met 'n gespierde lyf wees en 'n vaal huisvroutjie kan met die kliek van 'n muis in ’n sekskatjie omskep word.

Seksuele struikelblokke kan oorkom word omdat kuberseks heelwat minder bedreigend en intiem as werklike seks is. Jy het ook die opsie om enige tyd "af te kliek", wat in die werklike lewe nie 'n opsie is nie.

"Dit is ironies dat ons multi-miljoen dollar masjiene moes bou om iets so natuurlik soos seks te doen," sê futuris Howard Rheingold. Hy voorspel ook die gebruik van "teledildonics" – sensoriese pakke wat die hele liggaam bedek wat minnaars in staat sal stel om in die kuberruimte te ontmoet en virtuele seks oor lang afstande te hê.

Hoekom praat ons dan van 'virtuele' verhoudings?

Die woord 'virtueel' impliseer iets wat nie werklik is nie, alhoewel dit soortgelyk aan die werklikheid is. Maar as 'n man of vrou 'n huwelik van 10 jaar en drie kinders vir die 'perfekte' aanlyn-metgesel verlaat, is die  kanse goed dat die huwelik in elk geval wankelrig was. So sê Ann Landers, die wêreld se bekendste 'agony aunt'.

En oor die algemeen is die 'perfekte' aanlyn maat in werklikheid alles behalwe perfek. Hulle het ook slegte buie, slegte asem, moeilike familielede, skuld en siek kinders.

Wat staan jou te doen as jou metgesel se aanlyn-verhouding jou die mure uitdryf?

  • Onthou, dit is jou maat se gedrag wat die probleem veroorsaak, nie joune nie.  
  • Beklemtoon hoe jou maat se gedrag jou laat voel. Konsentreer op jóú gevoelens.
  • 'n Aanhoudende gekerm en verwyte sal die aanlyn-persoon net meer aantreklik laat lyk.
  • Moenie jou maat in eie munt probeer terugbetaal deur self 'n aanlyn-skelmpie aan te skaf nie – dit sal hom of haar net meer rede gee om voort te gaan met die verhouding.  
  • Moenie toelaat dat jou maat jou gevoelens van woede en jaloesie minimaliseer deur aan te dring dat jy oorreageer nie.
  • Maak seker dat julle dieselfde e-pos adres deel, aangesien dit die persoonlike aard van sy of haar e-posse sal beperk.
  • As niks anders werk nie, kan jy altyd aanlyn gaan en self met 'Ridder' gesels. Dit is moontlik dat die persoon nie eers weet jy bestaan nie. 'n Paar harde feite oor 'Prinses' mag dalk help om sy entoesiasme te demp.

As jou lewensmaat glad nie in staat is om jou kant van die saak in te sien nie, is dit dalk tyd om die pad te vat en iemand te vind wat belangstel in 'n werklike verhouding met jou.

- (Susan Erasmus, Health24)

Lees verder:
Kuberseks en sielsgenote
Enige vrae? / Vra ons sexologist

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE