Share

Erektiele disfunksie: die harde feite

As erektiele disfunksie jou sekslewe beduiwel, moenie gaan lê nie. Dié opbeurende feite sal jou help om die vaandel hoog te hou...
Deur ROBERT WHITAKER vir Huisgenoot-POLS

Hy's aantreklik, suksesvol en neem oor naweke aan avontuur- wedlope deel – met 'n Twee Oseane-wedloop en 'n Cape Epic op sy kerfstok.

Steven Adams* is sonder twyfel die toonbeeld van 'n man onder die manne.

Maar wanneer dié 38-jarige uitvoerende hoof sy stryd met erektiele disfunksie beskryf, smelt sy bravade soos mis voor die môreson en sy selfversekerde houding is skielik minder fier.

"Ek was drie jaar getroud, maar het meer as die helfte van die tyd intimiteitsprobleme ondervind," sê hy.

"'n Deel van my het altyd besef daar is 'n probleem, maar ek kon dit nie aan myself of my vrou erken nie. Dis nie dat ek nie tot haar aangetrokke gevoel het nie, of dat my libido aan die afneem was nie. Dit was net nie moontlik om 'n ereksie vol te hou wanneer dit noodsaaklik was nie."

Hy het gou verskonings begin soek vir sy onvermoë om die mas op te kom. Eers het hy dit aan stres toegeskryf. Toe sê hy hy is afgemat. Op die ou end het hy selfs die moontlikheid oorweeg dat hy dalk depressief is.

"Maar ná omtrent nege maande het my vrou begin dink sy is die oorsaak van my skynbare gebrek aan seksdrif," sê hy. Dit het dinge op die spits gedryf en sy vrou wou antwoorde hê.

Steven het steeds nie die moed gehad om die probleem te konfronteer nie, en pleks daarvan het hy 'n leuen vertel en gesê sy plaas te veel druk op hom om sy kant te bring.

"Van daar af het die kloof tussen ons ál wyer geraak," verduidelik hy. "En ons is toe uiteindelik geskei."

Ná sy mislukte huwelik het Steven aanvanklik gedink dat die probleem iets van die verlede is. Maar ná 'n paar maande in 'n nuwe verhouding was die ou spook terug in die slaapkamer. "Dis toe dat ek medies met erektiele disfunksie gediagnoseer is," sê hy.

En dit blyk toe ook dat sy spesifieke probleem deur 'n geskiedenis van kindermolestering veroorsaak is.

"Toe ons uiteindelik die oorsaak kon vaspen, was ek in staat om deur terapie al die dinge wat met my gebeur het, te verwerk en daarmee vrede te maak," verduidelik hy.

En van vrede gepraat, daar is nie nou spanning op dié terrein tussen Steven en sy nuwe vrou nie.

Hoewel dié storie 'n gelukkige einde het, is Steven se stryd meer algemeen as wat 'n mens dink. Sowat 52% van alle mans tussen 40 en 70 ly in 'n stadium aan die een of ander vorm van erektiele disfunksie, en die ergste van alles is dat net 10% van hulle ooit professionele hulp inroep.

In die meeste gevalle kan die toestand behandel word, maar die sosiale stigma en die wanopvattings oor die probleem bring mee dat baie mans verkies om in stilte te ly en die probleem te ignoreer.

Dit is onnodig – pak die bul by die horings.

Jy het dalk nie 'n probleem nie
Volgens dr. Evangelos Apostoleris van Wits se departement van urologie is erektiele disfunksie "die konstante of herhaaldelike onvermoë om 'n ereksie van die penis wat voldoende vir seksuele omgang is, te kry en, in sommige gevalle, vol te hou".

Dit beteken dat ED nie net gaan oor die "opkry" nie, maar ook oor die "ophou". Dit beteken ook dat as dinge af en toe platval, dit nie noodwendig rede tot kommer is nie.

"Dit is taamlik normaal as 'n man af en toe nie daarin kan slaag om 'n ereksie te kry nie," sê Evangelos. "Dit word alleenlik 'n probleem wanneer jou pogings gereeld misluk."

Voordat daar dus 'n ED-diagnose gemaak kan word, moet daar 'n "konstante of gereelde" onvermoë wees. En die omvang van die onvermoë dui die ernstigheid van die toestand aan.

Jy is nie alleen nie
"Baie dokters doen nie navraag oor hul pasiënte se seksuele gesondheid nie," sê Evangelos. "En pasiënte is nie altyd gretig om daaroor te praat nie, daarom is dit moeilik om vas te stel hoeveel mans aan ED ly."

Ten spyte hiervan is dit duidelik dat ED nie juis ongewoon is nie. Om die waarheid te sê bewys statistiek dat meer as 50% van alle mans oor die ouderdom van veertig reeds ED ondervind het – en dat die probleem selfs vroeër kan begin.

Die boodskap is om ED in perspektief te plaas.

Dit is baie meer algemeen as wat die meeste mans bereid is om te erken – party van jou pelle om die braaivleisvuur sukkel heel moontlik ook daarmee. So, moenie alleen voel nie. Kyk die feite in die oë en kry hulp.

Namate die ouderdom toeneem
Dit is 'n feit dat jou kans om ED te ontwikkel, toeneem namate jy ouer word. Om die waarheid te sê, volgens die Amerikaanse Urologievereniging ly vier uit elke tien mans op die ouderdom van veertig reeds aan ED, terwyl die getal op ouderdom 65 tot 6 uit 10, en op 70 tot 8 uit 10 styg.

Met die jare kan 'n man agterkom dat ereksies langer neem om te ontwikkel en ook nie meer so ferm is nie. Maar volgens Evangelos is ED nie 'n onvermydelike gevolg van ouer word nie: "Gewoonlik gebeur dit by ouer mans eintlik net omdat hulle waarskynlik ook 'n ander mediese probleem het – byvoorbeeld hoë bloeddruk – wat moontlik erektiele funksie kan beïnvloed."

Is jou lewenstyl eintlik die sondaar?
In tot een uit elke vyf gevalle van ED kan 'n doodeenvoudige lewenstylverandering die nodige hupstoot voorsien.

"'n Gesonde oefenroetine, 'n ordentlike dieet, om op te hou rook, en die beheer van cholesterol of chroniese siektetoestande soos diabetes en hoë bloeddruk, kan die probleem vanself laat verdwyn," sê Evangelos.

Sy topwenke oor kragtige lewenstylveranderinge is:
Verminder stress. Doen oefening, gaan spreek 'n sielkundige, kry 'n lewensafrigter, gaan op reis, organiseer jou lewe – doen enigiets om jou stresvlak te verlaag.
Hou op rook. Omdat rook jou bloedvloei verminder, kan dit 'n groot verskil maak as jy ophou rook.
Hou matigheid voor oë. Alkohol en onwettige middels veroorsaak nie net moontlik ED nie, maar kan ook die oorsaak van 'n laer seksdrif wees.
Raak ontslae van daardie boep. Ernstige oorgewig gaan gepaard met 'n hele klomp komplikasies, soos hoë bloeddruk, wat beteken dat oorgewig mans meer daartoe geneig is om ED te ontwikkel.
Beheer jou medikasie. As jou ED deur die een of ander vorm van chroniese medikasie veroorsaak word, kan jou dokter jou help om 'n kombinasie te vind wat nie jou sekslewe in die wiele sal ry nie.

Sluk 'n pil
Die goeie nuus is dat ED behandel kan word – selfs al reageer 'n man nie op sielkundige behandeling of 'n gesonder lewenstyl nie. Die nuwe geslag pille bied dalk net die hupstoot wat jy soek.

Daar is talle voorskrifmedisynes beskikbaar, maar die fosfodiësterase tipe 5-inhibeerders – wat Viagra, Levitra en Cialis insluit – verteenwoordig 'n betekenisvolle deurbraak, en die resultate spreek vanself.

Volgens Pfizer, die vervaardiger van Viagra, sal 83% van mans 'n paar weke nadat hulle dié middel begin gebruik het, weer in staat wees om seks te geniet.

As jy nie dadelik sukses behaal nie
Vir ernstige gevalle is daar ingrypender behandelingsopsies beskikbaar. Eenvoudige vakuumapparate skep 'n gedeeltelike vakuum, wat bloed in die penis intrek en uitsetting veroorsaak.

Chirurgiese ingryping het een van drie mikpunte: om 'n toestel in te plant wat die penis styf laat word; om die slagare te herkonstrueer sodat bloedvloei na die penis verhoog; of om are te versper wat bloed te vinnig van die penis laat wegvloei.

Dié prosedures kan nogal duur wees (van R6 000 tot R25 000), maar die sukseskoers word op tussen 90 en 95% geraam.

Moenie deur groot beloftes geflous word nie
Omdat ED tot geweldige onsekerheid by mans lei, kan 'n potensiële oplossing groot geld laat inrol.

Miskien is dit hoekom 'n al groter reeks nievoorskrifmiddels op apteekrakke meeding om ruimte en aandag.

Jakob Regop. Erectify XL. 4Everon. Net die name beloof al aanloklike grootte en seksuele bevrediging – in 'n kits. Maar werk sulke middels regtig?

"Hulle het miskien 'n sielkundige uitwerking," sê die farmakoloog Gareth Kennedy van Johannesburg. "Maar dit is waarskynlik hul grootste voordeel."

Ten spyte van die feit dat die meeste van dié middels net kruie en vitamiene bevat, kan hulle gevaarlik wees omdat hulle nie so deeglik gereguleer en getoets word soos hul farmaseutiese eweknieë nie. Die Amerikaanse Food and Drug Administration het ook al sy kommer uitgespreek omdat bestanddele nie aangedui word nie.

Sulke middels kan stowwe bevat wat skadelik kan wees wanneer hulle saam met ander voorskrifmedisyne gebruik word, of indien die pasiënt reeds aan ’n siekte ly.

Kom by die wortel van die kwaad uit
As jy dink dat die probleme wat met ED geassosieer word net tot die slaapkamer beperk is, dink weer. Om die waarheid te sê, jou beste vriend is 'n weerspieëling van jou algemene welsyn.

Hoekom? Omdat ED met groter gesondheidsprobleme soos hart- en bloedvatsiekte, diabetes, prostaatkanker en hoë bloeddruk geassosieer kan word.

So, pleks daarvan om te veel op die simptoom te fokus, laat jou vir dié onderliggende toestande toets voor dit te laat is. Die groot bonus is dat die behandeling van so 'n toestand dalk jou ED kan genees.

En nou die werklik goeie nuus
Onlangse navorsing het getoon dat gereelde seks kan help om die ontwikkeling van ED te stuit. 'n 2008-studie het 'n groot groep Finse mans tussen 55 en 75 jaar ondersoek en gevind dat mans wat 'n week of langer nie seks gehad het nie, dubbel die risiko gehad het om ED te ontwikkel, vergeleke met dié wat een keer per week seks gehad het.

Die groot bonus: Daar is vasgestel dat seksuele omgang drie keer per week die risiko vir hartsiekte met tot 50% verminder!

Wie sou nou kon dink dat die voorkoming van ED soveel pret kon wees?

* 'n Skuilnaam

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Read more: Erectile Dysfunction Centre

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE