Share

Ferm liefde – dissipline wat werk

Dit bly nou maar een van die raaisels van ouerskap. Êrens langs die pad word jou bondeltjie vreugde ’n opperste diktator; verander gister se skattebolletjies in môre se tiranne. Hulle beheer hul ouers se lewe, gooi vloermoere in supermarkte, is steeks vir huistakies en dring aan op al jou aandag plus ontwerpersjeans en die nuutste tekkies. En hulle kry dit.

Om ’n mini-prins of -prinses onder jou dak te hê is vir elke ouer verskriklik stresvol. Maar wie se skuld is die bedorwebrokverskynsel? Britse navorsers wys die vinger reguit na die huidige geslag liberale “ouers-sonder-grense”. Hulle pas nie genoeg “ferm liefde” (tough love) toe nie en die uiteinde daarvan is klein brekers wat nie toegerus is om die grootmenslewe suksesvol aan te pak nie.

Die ferm-liefde-manier

Die Londense navorsingsorganisasie Demos het in ’n impakstudie van ouerskapstyle die lewe van 9 000 gesinne oor ’n tydperk van agt jaar gevolg. Hul gevolgtrekking: Die ferm-liefde-manier – ’n kombinasie van warmte en dissipline – speel ’n veel groter rol as ouers se inkomste of sosiale agtergrond in ’n kind se sukses en vermoë om empatie, vasberadenheid en selfbeheersing te leer.

Baie moderne ouers het ’n tradisionele ouerskapstyl verruil vir ’n laat-maar-loop-manier van kinders grootmaak. “Ouers kry voortdurend teenstrydige inligting oor wat goed en wat sleg is vir kinders,” sê

Naomi van Wyk, ’n Stellenbosse kliniese sielkundige wat spesialiseer in ouerbegeleiding. “Dit kan hulle ontoereikend en skuldig laat voel – en dan kan hulle nie meer beheer neem nie.”

Ouers bring ook minder tyd tuis deur en kan dus nie hul kinders se gedrag behoorlik reguleer nie, verduidelik Naomi.

Daarby reageer sommige slap ouers moontlik op hul eie ouers – ’n geslag wat outoritêr en streng was en stil muisies vir kinders gehad het, sê die Kaapse berading-sielkundige Michelle Foulds.

“Die kinders van sulke ouers is gesien, maar nie gehoor nie en moes grootmense respekteer,” sê Michelle. “Hierdie kinders is self nou ouers en glo die teenoorgestelde is die regte manier. Hulle het die leisels verslap, laat hul kinders toe om hul woede uit te druk en eise te stel en maak die kinders die middelpunt van die gesinslewe.”

Mense wat hulle eie kop kan volg

Aan die ander kant sal kinders altyd kinders wees en ’n bietjie swak gedrag wys hulle ontwikkel in onafhanklike mense wat hul eie kop kan volg. Maar as jy eerder die toilette sal skrop as om tyd saam met jou onmoontlike bloedjies deur te bring is dit tyd vir ’n ferm-liefde-plan wat jou jare van onnodige frustrasie kan spaar.

Die benadering is eenvoudig: Volgens kenners is konsekwentheid, fermheid, regverdigheid en dissipline wat ’n kind leer dat sy dade gevolge het, die sleutel tot die grootmaak van gebalanseerde, gemanierde kinders wat na jou luister. Die plan vereis nie lyfstraf nie en moedig ouers aan om te fokus op liefde en dissipline.

Natuurlik gaan daar soms rusies wees, maar jy kan jou gesin beskerm teen die bedorwebrok-sindroom en gedurige huisoorloë. Hier is ’n plan vir hoe jy balans kan kry en ’n ferm ouer kan wees in ’n gelukkige en harmonieuse opset.

1. Stel vas of daar 'n onderliggende rede vir swak gedrag is

’n “Stout” kind is dikwels net moeg of honger. Miskien is hy by die skool geterg of is hy jaloers op ’n nuwe baba.

“Daar is gewoonlik ’n rede,” sê Suzie Hayman, ’n gesinsberader van die Britse ouerskapsorganisasie Parentline Plus. “Dit kan wees dat Pappa eers agtuur saans huis toe kom en die kind hom nooit sien nie, of dat Ma so besig is dat sy nooit meer saam karretjies wil speel nie. Dikwels straf ons kinders terwyl hulle regverdige klagtes het.” Haar voorstel? “Sê vir hulle: ‘Ek kan dalk nie die situasie verander nie, maar ek kan luister.’ ”

2. Pak een hinderlike ding op 'n slag

Dit sal nie help om die sesjarige Ben in een asem aan te sê om sy klere te bêre, sy huiswerk te doen en sy tweejarige sussie uit te los nie. Begin met die belangrikste (sy sussie se sieleheil) en wanneer dit opgelos is, beweeg jy na die volgende opdrag.

3. Uitsonderings is taboe

Dit maak nie saak hoe moeg, moedeloos of gefrustreerd jy is nie, as jy sekere gedragspattone wil verander, moet jy nooit Gods water oor Gods akker laat loop nie. As Amanda so ’n bohaai opskop oor tande borsel dat jy haar maar met ’n mond vol sjokolade bed toe laat gaan, gaan sy weet tande borsel is onderhandelbaar.

“Maar wees buigsaam,” sê Megan de Beyer, ’n ouerskapskenner van Kaapstad.

“Maak hul takies pret en verslap jul struktuur ’n bietjie oor naweke en vakansies.”

4. Kry ’n stout stoel

Verwyder die kind van die “misdaadtoneel” en laat hom op die “stout stoel” sit sodat hy kan bedaar, dink oor wat hy gedoen het en om verskoning kan vra. Kyk hom vas in die oë en verduidelik in ’n ferm stem wat hy gedoen het wat onaanvaarbaar is. As hy dit weer doen, sit hom terug op die stoel en stap weg.

“Die volgende stap is om vit jou kind te wys wat jy wil hê hy moet doen – jou voorbeeld is altyd baie meer werd as jou woorde,” sê Michelle. “As ’n kind ’n reël oortree waaroor julle al gepraat het, neem hom eenkant, verduidelik waarom sy gedrag nie aanvaarbaar is nie en wat die gevolge gaan wees as dit weer gebeur.” En prys hom as hy om verskoning vra.

5. Beoefen positiewe ouerskap

Dis baie meet doeltreffend om goeie gedrag te prys as om swak gedrag te kritiseer. “Goedkeuring moenie sommer so in die algemeen uitgespreek word nie, maar vir ’n spesifieke daad – dankie dat jy jou klere in die laai gesit het, dankie dat jy jou speelgoed met jou boetie gedeel het,” sê dr. Howard Sloane, opvoedkundige sielkundige en skrywer van The Good Kid Book. “Dit moet so gou moontlik gebeur nadat die gedrag plaasgevind het.”

6. Maak reëls

“Praat met jou kinders oor wat reg en verkeerd is wanneer die geleentheid hom voordoen,” sê Megan. Dit kan byvoorbeeld wees om mense nie in die rede te val nie, om huiswerk altyd op ’n sekere tyd van die dag te doen of speelgoed en eetgoed met maatjies te deel.

7. Wees spesifiek

As daar iets is waarvan jy nie hou nie, dra dit aan jou kinders oor in eenvoudige taal wat die spesifieke probleem uitwys. As Boeta besig is om al die kos uit die yskas te pak, help dit niks nie om te sê: “Jy’s baie stout. Hou dadelik op!” Sê: “Moet asseblief nie die kos uit die yskas haal nie. Tel die wortels, melk en botter een vir een op en pak dit terug in die yskas.”

Wees net so spesifiek oor take wat verrig moet word. “Gaan maak jou kamer aan die kant” beteken min. “Pak asseblief jou speelgoed in die boks en sit jou sandale terug in die kas” sal beter werk.

8. Wees ’n rolmodel

“Dis belangrik dat jy jou gedra soos jy wil hê jou kinders moet hulle gedra,” sê Suzie. “Dit beteken jy skree nie; jy luister en jy verduidelik. Moenie kwaad raak as hulle iets doen waarvan jy nie hou nie. Vra hulle om te verduidelik wat aan die gang is.”

9. Wees konsekwent

“Kinders gaan moeilik verstaan wat jy van hulle verwag as jy aanmekaar van plan verander,” sê Naomi. “Besluit wat jy van jou kind verwag en hou daarby. En wys met jou eie lewe die regte gedrag. As jy nie respek toon teenoor ander mense nie, kan jou kinders dit nie leer nie.”

10.  Moenie omkoop of dreig nie

 Laat jou kinders die natuurlike gevolge van hul dade leer – soos dat vuil klere op die kamervloer tot gevolg het dat Ninanie ’n nuwe partytjierok gaan kry nie.

“Bale kenners verduidelik nie die verskil tussen dreigemente en gepaste gevolge nie,” sê Howard. “As jy vooraf sê ‘As jy jou kamer skoonmaak, kan jy TV kyk’ verstaan jou kind hy sal by ’n volgende geleentheid omgekoop kan word om sy kamer skoon te maak. Dit werk beter as jy wag dat hy sy kamer opruim en dan sê hy mag TV kyk.”

11. Koel eers af

“Moet nooit dissiplineer terwyl jy kwaad is nie,” is Megan se raad. “Dit kan jou verhouding met jou kind skaad en hy sal skuldig en bang voel pleks van respekvol.”

12. Werk visueel

Kaarte met plakkers wat jou kind se suksesse (soos voorbeelde van goeie gedrag) aandui, help jou om spesifiek te wees en goedkeuring te wys. Dis die uitsondering op die omkoopreël en dis ’n maklike en duidelike manier waarop kinders dadelik goedkeuring kan kry. Onthou net, die stelsel werk nie vir alle kinders nie.

Maak ’n speletjie van goeie gedrag – ruil plaksterretjies vir prettake, soos dat Mamma vir die duisendste keer sy geliefkoosde storie sal lees, Pappa vanaand met ’n lawwe hoed op die kop sal eet, of Jannie ’n lawwe hoed winkel toe mag dra. Gebruik jou en jou kinders se verbeelding en geniet dit!

13. Maak tyd

Wat ouers dikwels stoutigheid noem is dalk net die kind se manier om sy behoeftes uit te druk. Hy probeer dalk sê: “Ek het ook menings en gevoelens en ek is moeg om altyd jou tydrooster te volg.”

Bring dus so ’n halfuur per dag saam met jou kind deur waar jy net vir hom lees of saam ’n speletjie speel.

“Wanneer ’n kind se behoefte aan tyd saam met jou bevredig word, sal hy nie op ’n lelike manier jou aandag probeer trek nie,” sê Suzie. Met ander woorde, as jy tyd maak, sal sy gedrag verbeter.

14. Stel huisreëls vas

“Skryf die huisreëls neer, waardes soos eerlikheid, vergewensgesindheid, gesinstyd en takies waarop jy en jou lewensmaat besluit het en bespreek dit met die kinders,” sê Megan. “jy kan dit so van vyf jarige ouderdom met hulle bespreek en laat hulle ’n afskrif van die reëls in hul kamer

hou.”

15. Laat kinders in die huis help

’n Onlangse Amerikaanse studie wys ouers aarsel om hul kinders te vra om in die huis te help. Maar navorsers sê huistakies wat nie onderhandelbaar is nie, leer kinders verantwoordelikheid en laat hulle deel voel van die gesinseenheid. Moet hulle nie dié ervaring ontneem nie.

Pak is nie nodig nie: wenke van dr. Phil

Die bekende Amerikaanse TV-aanbieder en selfhelp-ghoeroe het dié dissiplinewenke saamgestel met die hulp van riglyne van die Amerikaanse Akademie van Gesinsdokters:

·         Koester realistiese verwagtinge van jou kind. Maak seker die gedrag wat jy van hom vra, is binne sy bereik. As dit nie is nie, sal hy net gefrustreerd raak en ál minder na jou luister.

·         Stel vas waaraan hy waarde heg. Is dit ’n spesifieke speelding, aktiwiteit of ’n voorreg soos om later wakker te bly? As jy dit weet, kan jy dié kennis inspan vir dissipline deur die kind dit te ontneem.

·         Voorspelbare gevolge. Kinders moet verstaan dat dieselfde gedrag tot dieselfde gevolge sal lei. Laat jou kind voel hy het beheer oor sy lewe: As hy gedrag A kies, moet hy seker wees dit sal altyd lei tot gevolg A.

·         Gebruik kinderlogika. Verduidelik waarom jy hom vra om op ’n sekere manier op te tree – die kanse is goed dat hy dieselfde redenasie in ander situasies ook sal kan aanwend.

Moet een ouer die paaiboelie wees?

in die ou dae was Pa die een wat gestraf het. "Wag net tot jou pa huis toe kom!” het ma's gedreig. En dis wat die kinders gedoen het – in vrees en bewing gewag dat Pa ná werk by die voordeur instap.

Maar die lewe het verander en nou is die verwagting dat albei ouers ewe betrokke is by die gesinslewe.

"Kinders het altyd gedink die pa is die een wat straf," sê Suzie. “Maar dit veroorsaak nie net dat hy nie die 'lekker' ouer is nie, dit ontneem hom ook die kans om ’n volronde verhouding met sy kind te hé. Kinders moet leer dieselfde ouer kan ja én nee sê, dat jou ouers vir jou lief kan wees al doen jy dinge waarvan hulle nie hou nie.”

Die ander probleem is dat baie ouers in die gewoonte verval om net aandag te gee aan hul kinders as hulle stout of raserig is en nie wanneer hulle hulle stil gedra nie.

“Altwee ouers moet die kinders dissiplineer en met hulle speel en weet wanneer om die grense te stel,” sê Suzie. “En as jy meer pret het saam met jou kinders eerder as om hulle by jou wense te laat inval, sal jy agterkom daar is uit die staanspoor baie minder swak gedrag."

Wendy Sloane en Kim van Reizig


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE