Share

Voetwerk

Jy kan jou kind se koördinasievermoë (en jou eie) met oefeninge verbeter. Ons wys jou hoe.
Deur BETINA LOUW vir Huisgenoot-POLS

Sommige mense word rats en vlugvoetig gebore. Ander is lomp en hul hande en voete is dom wanneer hulle moet spring, gryp, vang, systap of danspassies uitvoer.

Dit is asof die ledemate nie wil luister wat die brein sê nie. Dit maak nie saak of jy so rats soos Bryan Habana is of lood in jou voete het nie en of jy jonk of oud is nie:

Jou koördinasie en ratsheid sal verbeter as jy dié vyf oefeninge drie maal per week doen. Jy sal ná 'n maand al die verskil begin agterkom. As jy gereelder oefen, sal jy gouer 'n verbetering sien, sê biokinetikus Pea Blaauw, wat die oefeninge saamgestel het.

  1. Bal-bons
    Bons 'n bal op en af met jou plat hand – of effens skuins oorkruis voor jou lyf – van een hand na die vloer na die ander hand. Kinders en grootmense met swak koördinasie kan 'n groter bal gebruik. Vir 'n meer gevorderde variasie van dié oefening, gebruik 'n kleiner bal en bons dit vinniger. 'n Beginner kan die oefening doen so lank as wat hy dit kan volhou. Sodra jy dit onder die knie het, probeer om die bal honderd keer ononderbroke op en af te bons.
  2. Patroon-spring
    Trek of plak drie sokkerbalgrootte- kolle reg langs mekaar op die grond, of verbeel jou daar is kolle. Spring op een been van kol tot kol, heen en weer en vorentoe, dan op die ander been, en probeer om met jou voet in die middel van die kolle te land. Moenie die afstand tussen jou merke te groot maak nie, anders raak die oefening te moeilik om korrek uit te voer. Doen die oefening dertig sekondes op 'n slag en herhaal dit drie tot vyf keer as jy 'n beginner is. Hou aan tot jy 'n stel van tien kan doen.
  3. Knie-hand oorkruis
    Staan regop. Lig jou linkerknie op na jou linkerbors terwyl jou regterhand terselfdertyd van bokant jou skouer na jou linkerknie beweeg. Raak met jou handpalm aan jou knie. Gebruik groot bewegings en probeer só jou balans hou. Herhaal na die ander kant. 'n Beginner kan twee stelle van tien met elke been doen. As jy dit onder die knie het, kan jy dit vinniger doen, met twee stelle van twintig vir elke been.
  4. Leer-sprong
    Trek met 'n stuk kryt 'n leer met vier of vyf sporte op die grond en ruil jou voete terwyl jy in klein, vinnige spronge tussen die sporte beweeg. Jy kan ook kruis en dwars en in verskillende patrone spring. Probeer om so akkuraat moontlik te spring sodat jy elke keer reg in die middel van 'n blok land. As jy 'n beginner is, kan jy twee stelle van twintig doen, en later al meer en vinniger. Jy sal verbaas wees hoe jou lompheid verdwyn.
  5. Buig en lig
    Gee met een been 'n klein tree vorentoe, maar hou albei knieë gebuig en die gewig op jou voorvoet. Hou jou agterste been gebuig en staan in hierdie posisie. Bring dan jou agterste been vorentoe sodat jou knie voor jou bors is en jou tone na die vloer wys. Hou dié posisie vir een telling terwyl jy op jou ander been balanseer. Konsentreer daarop om jou balans te hou sodat jy so min sywaarts as moontlik beweeg. Keer dan terug na die oorspronklike posisie. Herhaal met die ander been. Vir 'n moeiliker variasie kan jy die tempo versnel en jou teenoorgestelde elmboog tot teen jou knie bring terwyl dit voor jou bors is. 'n Beginner kan twee stelle van tien met elke been doen, en algaande meer.

Enige vrae? Gesels met FitnessDoc

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE