Share

Oogappel of gifappeltjie?

Helde en swartskape, eenkantkinders en sieltjies sonder sorg. Hoekom kom hulle in amper elke gesin voor? En is dit iets wat ouers aanmoedig?
Deur BARBARA FOLSCHER vir Huisgenoot-POLS

"Anita, help tog gou jou broer met sy das, asseblief. Willem, jy gaan ons weer laat maak! Hoekom kan jy nie so georganiseerd wees soos jou suster nie?"

Klink dit bekend?

Of wat van: "Laat hulle Pieter se kamer gebruik. Hy sal nie omgee nie. Hy is my maklike kind, né, Pieter?"

Het jy ’n goue seun of dogter in die gesin? Of ’n moeilikheidmaker? ’n Eenkantkind of dalk ’n gelukskind? Kundiges sê dis die vier tipiese rolle wat kinders vir hulle in die gesinsopset toe-eien en wat vir die res van hul lewe 'n bloudruk vir hul persoonlikheid kan bly.

Sonder dat die res van die gesin of die ouers dit besef, word kinders met subtiele druk getrou gehou aan die vereistes van dié rolle.

Want net soos dit 'n gesin pas om 'n held te hê, iemand op wie almal trots kan wees, of 'n geliefde klein Benjamin wat almal kan verwen, pas dit hulle op 'n aweregse manier ook om 'n "sondebok" of swartskaap te hê wat stoutighede "namens" die ander kan aanrig.

Dit is waar dat kinders se karakter al met geboorte gedeeltelik gevorm is, maar baie van hul persoonlikheidseienskappe ontwikkel eers later. Dit gebeur in alledaagse situasies soos wanneer hulle op die televisie afstorm om die beste plek te kry, by die huis van hul dag by die skool kom vertel, of terwyl hulle redekawel oor wie wat moet doen.

Die interessante ding is dat dié eienskappe dikwels volgens 'n vaste patroon ontwikkel. Dit kan saamhang met waar hulle in die gesin inpas (oudste, middelste, jongste), of hulle seuns of meisies is en hoe hul ouers teenoor hulle optree.

As kinders grootword met 'n beeld van hulself as byvoorbeeld die slagoffer, held of swartskaap, is dit baie moontlik dat hulle hulself as grootmense ook so gaan sien.

Wees dus maar versigtig om nie jou kinders in 'n rol te druk nie, sê dr. Munita Dunn, raadgewende sielkundige en senior lektor by die Hugenote-kollege op Wellington. Dit kan hul moontlikhede aan bande lê en selfs hul verhouding met broers en susters beduiwel.

"In die gesin oefen kinders vir die toekoms. Hulle leer hoe om met ander klaar te kom en hoe om onenigheid te hanteer," sê Munita.

"Ons wil ons kinders nie in kassies druk nie, maar dis net menslik om dit soms te doen," sê sy. Ouers kan dit voorkom deur op kinders se sterk punte te fokus eerder as op hul swakhede en verskille. Waak dus maar daarteen om jou kind te stereotipeer as "ons ou skametjie" of "my verstandige grootseun" of "ons willewragtag".

Alette Aucamp se waarneming as sielkundige met praktyke op Stellenbosch en Malmesbury, het haar daarvan oortuig dat kinders volgens sekere patrone verskillende rolle in die gesin vertolk. "Dit was onbetwisbaar, maar natuurlik geld dit nie vir alle gesinne nie. Die rolle wat kinders vertolk, is nie afgietsels nie en skep nie noodwendig probleme nie.

"Daar is baie ander faktore wat 'n kind se ontwikkeling beïnvloed. Maar wanneer probleme wel opduik, help dit om bewus te wees van die verskillende rolle."

Die ghoeroe van spelterapie in Suid- Afrika, die psigoterapeut Reyhana Seedat van Durban, het die vier belangrikste rolle uitgelig wat kinders binne die gesin kan speel. Hierdie rolle kan getipeer word as dié van gesinsheld (of heldin), van "sondebok" of swartskaap, van eenkantkind en van gelukskind of liefling van die gesin.

Enkelkinders kan die eienskappe van meer as een van hierdie rolle toon. Ouers wat bewus is van dié rolle, sal beter toegerus wees om probleme die hoof te bied.

Maar moenie dink jy moet alle kinders op dieselfde manier grootmaak nie, sê die kenners. Jy kan gerus elkeen op 'n ander manier liefhê.

Kyk 'n bietjie watter van jou kinders die volgende rolle hul eie gemaak het:

1. Die gesinsheld
Kinders wat dié rol speel is waarskynlik...
- Selfversekerd
- Toegewyd
- Ordelik
- Inskiklik
- Volhardend
- Gedrewe
- Koesterend
- Baasspelerig

Het jy ’n kind wat ooglopend die toppresteerder in die gesin is, wat in die eerste span speel, die hoofrol in die skool se toneelstuk vertolk en wat uitgeknip is vir hoofseun of -meisie?

Die gesinsheld gedy daarop om vir mense te gee wat hulle wil hê en werk toegewyd vir belonings.

Dié soort kinders is gewoond daaraan om positiewe aandag te trek en sal alles in hul vermoë doen om seker te maak dat hulle dit kry – nie net van hul ouers nie, maar ook van ander volwassenes.

Dis gewoonlik, maar nie altyd nie, die oudste kind wat die rol van die gesinsheld sy eie maak.

Onthou jy toe jy as ouer na jou pasgeborene gekyk het en jou voorgeneem het om die beste ouer in die wêreld te wees? Jy sou jou kind 'n oorvloed van aandag gee en so verantwoordelik en perfek moontlik wees.

Eersgeborenes word dikwels groot met dié perfeksionistiese ingesteldheid. Hulle streef na goedkeuring en sukses, ook in die volwasse wêreld.

As gevolg hiervan kan hulle onrealistiese teikens vir hulself stel. Hulle hanteer kritiek en mislukking gewoonlik nie baie goed nie.

Sommige gesinshelde kan grootword met die behoefte daaraan om mense te behaag en te versorg, terwyl ander weer gedrewe en vasberade kan wees.

"As probleme opduik, is dit dikwels omdat dié kinders verplig voel om gesinskwessies reg te stel," sê die sielkundige Alette Aucamp.

"Die gesinsheld handhaaf die balans deur bewyse te soek dat alles met die gesin doodreg is. Dié kinders krop dikwels onaangename gevoelens op en sal met niemand oor Ma se depressie of Pa se drinkery of hul eie ongelukkigheid praat nie."

Wenke vir die ouers van die gesinsheld
Dié kinders plaas geweldige druk op hulself. Dit kan lei tot gevoelens van ontoereikendheid, veral as die ouers ambisieus is.

Dié kinders sal presies op jou verwagtings ingestel wees. Wees versigtig wat jou woorde, stemtoon en lyftaal vir hulle sê. Pasop vir die vraag: "En hoe het die ander gevaar?"

Kinders kry selfrespek deur klein takies af te handel en dan groter take aan te pak. Die gesinshelde sal doelwitte wil bereik wat hul ouers gelukkig maak. Hulle kan ook dink jy verwag meer as wat die geval is.

Stel doelwitte wat werklik die kind se eie is en wat haalbaar is.

Die oudste kind, veral as daar 'n paar jongeres in die huis is, kan voel dat hy vinniger moet grootword en verantwoordeliker moet wees. Sorg dat jy nie meer verantwoordelikhede op jou kind laai as wat hy kan hanteer nie.

As dié soort kinders voortdurend as 'n rolmodel vir jonger kinders voorgehou word, kan hulle kwaai druk ervaar.

2. Die swartskaap
Die swartskaap in jou gesin is waarskynlik...
- Mededingend
- Opstandig
- Manipulerend
- Strydlustig
- Sensitief
- Aanpasbaar
- Lojaal
- Sosiaal

Het jy 'n kind wat "gedurig in die moeilikheid" is? Dalk is dit omdat hy voel hy kan nie met die held van die gesin meeding nie.

Swartskape of "sondebokke" voel dikwels hulle sal nooit so goed soos die "held" van die gesin wees nie. Hulle kan ly onder innerlike gevoelens van woede, verwerping, eensaamheid, pyn en skuld.

Hulle weet hul gedrag is onaanvaarbaar, maar hulle voel hulle kan dit nie verander nie. Dié kinders kan bakleierig of skoorsoekerig raak teenoor broers en susters en kan hulle soms aan die gesin onttrek.

Die gedrag van dié kinders is dikwels teenstrydig. Maar een ding is gewoonlik waar: swartskape is dikwels tweede of middelkinders en hul persoonlikheid is gewoonlik die teenoorgestelde van die eersgeborenes.

Hulle is dikwels onseker van hul plek en identiteit in die gesin en hulle kan 'n swak selfbeeld hê. Deur negatiewe aandag te probeer trek, kan hulle eienskappe ontwikkel wat die ander irriteer. Hierdie optrede ontlok nog meer negatiewe reaksie en so ontstaan 'n bose kringloop.

Dikwels voel hulle verwaarloos omdat ouer en jonger broers en susters meer aandag kry. Dan gaan soek hulle maklik hul heil buite die gesin.

Tog is dié kinders ruimhartig en vry van gees. Hulle kan baie gesellig wees en goed vaar met onderhandelinge.

Wenke vir die ouers van die swartskaap
Sorg dat dié kind ingesluit voel en ’n besondere verhouding met elke ouer het.

Laat ’n volwassene soos ’n ouma, tante of oom ook ’n hegte band met die kind smee.

Gee lof waar jy kan. Terwyl dit vir alle kinders geld, is dit baie belangrik vir ’n middelkind.

Wees bewus daarvan dat jou kind dalk so optree om die aandag van konfl ik of probleme in die gesin af te lei. Kan die rede vir jou kind se rebelsheid dalk teruggevoer word na groter probleme in die gesin of by die skool?

Doen baie moeite om agter te kom wat jou kind se besondere belangstelling of talent is, en help hom of haar om dit te ontwikkel.

3. Die eenkantkind
Jou eenkantkind is moontlik...
- Beskeie
- Teruggetrokke
- 'n Alleenloper
- Passief

Eenkantkinders is gewoond daaraan om na hulself om te sien en handhaaf die gesinsbalans deur geen eise te stel nie en "soet" te wees.

Deur "in die middel van die storie" sy opwagting te maak wanneer ouers minder daarop ingestel is om elke kind na sy behoeftes groot te maak, kom die stil kind oor die weg deur niemand die harnas in te jaag nie.

Alette sê baie tyd verloop voor dié kinders hul hart oopmaak en oor hul gevoelens gesels omdat hulle glo dit is juis hul stilte en passiwiteit wat hulle beveilig.

"Maar wanneer hulle wel uitpraat, is 'n mens stomgeslaan deur die warboel van hul gevoelens. Hulle beskou hulself as anders, selfs onsigbaar. Hulle voel soos ’n vreemdeling in hul eie gesin en asof hulle nie saak maak in die wêreld nie."

Hierdie effens "verlore" kinders bly uit almal se pad, het soms min vriende en leef dikwels in 'n fantasiewêreld waarin hulle hul eie geselskap, televisie, boeke of rekenaars bo meer sosiale bedrywighede verkies.

Wenke vir die ouers van die eenkantkind
Ruim ekstra tyd in om met jou eenkantkind te praat en na hom of haar te luister.

Soos met alle kinders, maar veral met dié kind, moet jy empatie betoon en nie aanneem dat jy weet hoe hulle voel nie. Die eenkantkind moet weet dat jy luister en verstaan wat gesê word.

Wees bewus daarvan dat dié kinders min van hulself verwag. Verras jouself en die kind en gee hom nuwe verantwoordelikhede en belonings.

Erken en ontwikkel dié kind se eiesoortige gawes aan die gesin.

Sorg dat jou eenkantkind ingelig is oor kwessies, keuses en besluite wat die gesin raak. Vra sy of haar mening. Dit sal nie maklik gelug word nie, maar dring daarop aan.

Dit is belangrik vir die ander kinders in die gesin om te hoor en te sien dat jy as ouer dié kind se stem belangrik ag.

4. Die gelukskind
Dié kind van jou is dalk...
- Spontaan
- Skeppend
- Bekoorlik
- Liefderik
- 'n Nar
- Buierig
- Manipulerend

Dikwels is die gelukskind die jongste in die gesin. Wanneer dié kleintjie opdaag, laat ouers dikwels sy ontwikkeling plaasvind met 'n loshande-benadering en betrek hulle maklik ander boeties en sussies by die grootmaakproses.

Dit beteken gelukskinders kry 'n oormaat van aandag. Hulle kom agter dat dit hul "kleinheid" of "oulikheid" is wat al dié aandag trek en hou aan om die rol van die baba te vertolk.

Die gevolg kan wees dat die gelukskinders hulself as broos sien en beskerming nodig het. Hulle kan voel dat almal altyd meer bevoeg is as hulle en verwag dat ander dinge vir hulle doen.

Gelukskinders is bekend om hul humorsin en sal narrestreke uithaal om spanning te verlig en die aandag van 'n gesinskrisis af te lei.

Hul plek in die gesin kan hulle die teiken van gesinsgrappies maak. Hulle word dikwels daarvan beskuldig dat hulle bederf is en alles kry wat die ander kinders nie beskore was nie.

Hulle word soms toegelaat om veeleisender en onverantwoordeliker as die ouer broers en susters te wees.

Wenke vir die ouers van die gelukskind
Moenie in die slaggat trap en alles vir dié outjie doen nie! Gelukskinders moet geleer word om na hulself om te sien.

Wees bewus daarvan dat jy as ouer dalk die behoefte het om aan jou laaste kind as jou "baba" te dink omdat dit vir jou die einde van 'n sekere lewenstadium aandui. Jou behoefte lê dalk jou kind aan bande.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE