Share

Ontbytpap: 'n Bakkie van die beste

accreditation

Daar is 'n oorweldigende verskeidenheid soorte ontbytpap op die winkelrakke. Maar watter een is die beste vir jou kind? En hoe voedsaam is al die verskillende opsies?

Deur STEPHANIE NIEWOUDT

 

Dis 'n chaotiese weeksoggend in die Pienaar-huishouding. Die skool begin oor 'n driekwartier en die kinders moet nog ontbyt eet. Gelukkig is daar 'n verskeidenheid kitspappe om van te kies.

Deirdré (16) storm borsel in die hand die kombuis binne en soek All-Bran Flakes. Janine (12) krap in die kas agter Jungle Energy Crunch aan en kleinboet Jacques (9) kan nie besluit of hy vanoggend Coco Pops, Rice Krispies of Frosties wil eet nie. Dalk sommer 'n mengsel van die drie?

Vir Michelle, die drie se ma, is ontbyt 'n reuse kopseer. Sy wonder soms oor die voedingswaarde van al dié lekker pappe. En bevat dit nie te veel suiker nie? Maar elke keer as sy vir die kinders iets soos mieliepap wil maak, trek hulle hul neus daarvoor op. En wie het in elk geval tyd om soggens pap te kook?

Vir Dianne Ivison, 'n geregistreerde dieetkundige, is die reël eenvoudig: Die kind moet hou waarvan hy eet, anders beland dit tog net in die vullisblik.

"Ontbyt is die belangrikste ete van die dag," sê sy. "Jy verbreek daarmee die lang vas van die nag. Dit help om jou bloedsuikervlak te stabiliseer, jou energievlak hoog te hou en jou metabolisme aan die gang te kry."

Dianne meen die meeste ontbytpappe is wel baie voedsaam, maar bevel nietemin aan dat ouers 'n verskeidenheid aanhou sodat die kinders kan kies en ook so gebalanseerd moontlik kan eet.

"Sommige ontbytgrane het meer van 'n sekere voedingstof as ander. As 'n kind dalk een dag minder van een inkry, kry hy die volgende dag meer in as hy 'n ander ontbytpap eet."

HG-Pols het gaan inkopies doen en tien bekende ontbytpappe onder die vergrootglas geplaas. Dr. Whadi-ah Parker, 'n voedingkundige en tot onlangs navorser by die Mediese Navorsingsraad se eenheid vir chroniese leefstylsiektes, het dit vir ons ontleed.

Ons het die ou staatmakers gekies: Kellogg's se Rice Krispies, Corn Flakes, Coco Pops, All-Bran Flakes en Frosties; Bokomo se ProNutro, Weet-Bix en Instant Oats en Tiger Brands se Jungle Energy Crunch Muesli en Jungle Oats. Hoewel Jungle Oats eers gekook moet word, het ons dit ingesluit omdat dit binne drie minute gaar is.

Wadi-ah het die voedingswaardes bereken van 'n halwe bakkie ontbytpap (125 ml) met volroommelk (62,5ml vir die droë pappe, 30ml vir Jungle Oats en Instant Oats en 90ml vir ProNutro). Omdat die gewig van verskillende soorte pap verskil, kan 'n halwe bakkie pap in sommige gevalle genoeg wees vir 'n porsie, maar in ander gevalle nie. 'n Halwe bakkie Corn Flakes weeg 20g, All-Bran 25g, Rice Krispies 20g, Coco Pops 15g, Frosties 20g, Jungle Oats 125g, ProNutro 45g, Jungle Energy Crunch 65g en Bokomo Instant Oats 125 g. Een stafie Weet-Bix weeg 25g.

Die minimum hoeveelheid van elke verskillende voedingstof wat jou kind vir ontbyt moet inkry is gebaseer op 'n internasionaal erkende dieetkundige meet-instrument, die Dieetkundige Verwysingsindeks. Jou kind het natuurlik ook meer van sekere voedingsoorte nodig namate hy ouer word.

"Ouer kinders kan 'n groter porsie ontbytgraan kry om aan die voedingsbehoeftes te voldoen," se Whadi-ah.

Hieronder op sit ons die voedingswaardes van die verskillende pappe uiteen.

 

KILOJOULES

Waarvoor is dit belangrik? Energie word in kilojoules (kJ) gemeet. Groeiende kinders het baie  energie nodig omdat hulle aktief is en ook aan sport deelneem.

Hoeveel het jou kind nodig vir ontbyt?

  • Seuns 4-8 jaar: 2 194,8kJ / Meisies 4-8 jaar: 2 068,8kJ
  • Seuns 9-13 jaar: 2 871,6kJ / Meisies 9-13 jaar: 2 609,4kJ
  • Seuns 14-18 jaar: 3 971,4kJ / Meisies 14-18 jaar: 2 983,8kJ

Die wenner is: Instant Oats met 2 036,5kJ.

So lyk die res:

  • Jungle Oats 1 879Kj
  • Jungle Energy Crunch 1 126,3kJ
  • ProNutro 924,1kJ
  • Weet-Bix 511,8kJ
  • Frosties 476kJ
  • Rice Krispies 468kJ
  • Corn Flakes 459kJ
  • All-Bran Flakes 443,3kJ
  • Coco Pops 385,5kJ

 

PROTEïEN

Waarvoor is dit belangrik? Proteïen help spiermassa handhaaf deur die liggaam se selle gesond te help hou.

Hoeveel het jou kind nodig vir ontbyt?

  • Seuns en meisies 4-8 jaar: 5,7g
  • Seuns en meisies 9-13 jaar: 10,2g
  • Seuns 14-18 jaar: 15,6g
  • Meisies 14-18 jaar: 13,8g 

Die wenner is: Jungle Oats met 16,3g.

So lyk die res:

  • Bokomo Instant Oats 12,6g
  • ProNutro 9,9g
  • Jungle Energy Crunch 6,4g
  • Weet-Bix 5g
  • All-Bran Flakes 4,8g
  • Corn Flakes 3,5g
  • Rice Krispies 3,4g
  • Coco Pops 2,8g 

SOUT

Waarvoor is dit belangrik? Sout is noodsaaklik vir die funksionering van die organe, die regulering van bloeddruk en die handhawing van vog in die liggaam, maar 'n te hoë konsentrasie kan bydra tot problem soos hoë bloeddruk en in uiterste gevalle orgaanversaking. 'n Normale volwasse mens het daagliks net sowat 'n kwart teelepel tafelsout (500 mg) nodig. Daar is ongelukkig geen dieetkundige riglyne vir kinders nie, maar kenners stem saam dat so min as moontlik sout by kos gevoeg moet word omdat sout in bykans alle kossoorte voorkom. Ekstra sout word ook by vervaardigde kosse gevoeg.

Hoeveel het jou kind nodig vir ontbyt? So min as moontlik.

Die wenner is: Jungle Oats met die minste sout: 12mg.

So lyk die res:

  • Jungle Energy Crunch 38mg
  • Weet-Bix 113,8mg
  • Coco Pops 129,9mg
  • Frosties 154,4mg
  • ProNutro 173,7mg
  • All-Bran Flakes 201,3mg
  • Corn Flakes 204,6mg
  • Rice Krispies 221,2mg
  • Instant Oats 740,8mg

SUIKER

Waarvoor is dit belangrik? Suiker is 'n koolhidraat en verskaf energie, maar daar is groot omstredenheid oor die gebruik van ekstra suiker by dit wat natuurlik in kos voorkom. Sommige kenners meen oormatige suikerverbruik is een van die groot oorsake van oorgewig en selfs hiperaktiwiteit by kinders. Dit kan ook hoofpyn veroorsaak en 'n kind vatbaar maak vir allergieë.

Suiker kom natuurlik in bykans alle kossoorte voor en dis onnodig om nog by kos te voeg.

Dit word algemeen aanvaar dat volwassenes nie meer as vyf teelepels suiker per dag by hul kos moet voeg nie. By kinders se kos moet geen bykomende suiker gevoeg word nie.

Die ontbytprodukte Frosties, Coco Pops en ProNutro het die meeste suiker in. "ProNutro se suikerwaarde word wel gebalanseer deur die hoe veselinhoud," sê Whadi-ah.

Hoeveel het jou kind nodig vir ontbyt? Liefs geen bykomende suiker nie.

Die wenner is: Weet-Bix met die minste suiker: 0,8g.

So lyk die res:

  • Corn Flakes 1g
  • Rice Krispies 1,5g
  • All-Bran Flakes 2,8g
  • Frosties 4,4g
  • Coco Pops 5,4g
  • ProNutro 6,5g  

VESEL

Waarvoor is dit belangrik? Vesel help met spysvertering en sorg dat gifstowwe uit die liggaam verwyder word. 'n Goeie ontbyt help om die spysverteringstelsel soggens aan die gang te kry. "Ons sien ál meer kinders wat aan hardlywigheid ly omdat hulle nie "n veselryke ontbyt eet nie," sê die dieetkundige Dianne Ivison.

Hoeveel het jou kind nodig vir ontbyt?

  • Seuns en meisies 4-8 jaar: 7,5g
  • Seuns en meisies 9-13 jaar: 7,8g
  • Seuns en meisies 14-18 jaar: 7,8g

Die wenner is: Jungle Oats met 13,5g.

So lyk die res:

  • Instant Oats 9,6g
  • ProNutro 8,4g
  • Jungle Energy Crunch 4,9g
  • All-Bran Flakes 4,5g
  • Weet-Bix 2,8g
  • Corn Flakes 0,6g
  • Frosties 0,4g
  • Coco Pops 0,3g
  • Rice Krispies 0,2g

KOOLHIDRATE

Waarvoor is dit belangrik? Koolhidrate, wat vette en stysel insluit, help om die bloedsuikervlak konstant te hou. 'n Kind met 'n te lae bloedsuikervlak sal sukkel om te konsentreer, sê Dianne.

Hoeveel het jou kind nodig vir ontbyt? Al drie ouderdomsgroepe ongeag geslag: 39g

Die wenner is: Instant Oats met 83,9g.

So lyk die res:

  • Jungle Oats 71,6g
  • Jungle Energy Crunch 45,2g
  • Weet-Bix 19,6g
  • ProNutro 32,5g
  • Rice Krispies 19,5g
  • Corn Flakes 19g
  • Frosties 17,4g
  • All-Bran Flakes 15,6g
  • Coco Pops 15,3g

YSTER

Waarvoor is dit belangrik? Yster help om suurstof deur die liggaam te vervoer en is nodig vir goeie selgesondheid.

Hoeveel het jou kind nodig vir ontbyt?

  • Seuns 4-8 jaar: 3,2mg / Meisies 4-8 jaar: 3mg
  • Seuns 9-13 jaar: 4mg / Meisies 9-13 jaar: 2,4mg
  • Seuns 14-18 jaar: 3,3mg / Meisies 14-18 jaar: 4,5mg

Die wenner is: Instant Oats met 50mg.

So lyk die res:

  • Jungle Oats 5mg
  • ProNutro 4,2mg
  • All-Bran Flakes 1,8mg
  • Corn Flakes, Frosties en Rice Krispies 1,4mg
  • Coco Pops 1,1mg
  • Weet-Bix 0mg

 

VITAMIEN A (RETINOL)

Waarvoor is dit belangrik? Vitamien A is goed vir die oë en help om die immuniteitstelsel gesond te hou.

Hoeveel het jou kind nodig vir ontbyt?

  • Seuns 4-8 jaar: 120μg (mikrogram) / Meisies 4-8 jaar: 180μg
  • Seuns en meisies 9-13 jaar: 180μg
  • Seuns 14-18 jaar: 270μg / Meisies 14-18 jaar: 210μg

Die wenner is: Instant Oats met 3 579,8μg.

So lyk die res:

  • ProNutro 322,2μg
  • Corn Flakes 117,5μg
  • All-Bran Flakes 142,5μg
  • Rice Krispies en Frosties 117,5μg
  • Coco Pops 92,5μg
  • Weet-Bix 17,5μg
  • Jungle Oats 8,4μg

VITAMIEN C

Waarvoor is dit belangrik? Vitamien C help met velgesondheid, om verkoue te beveg en om bindweefsel gesond te hou.

Hoeveel het jou kind nodig vir ontbyt?

  • Seuns en meisies 4-8 jaar: 7,5mg
  • Seuns en meisies 9-13 jaar: 13,5mg
  • Seuns 14-18 jaar: 22,5mg
  • Meisies 14-18 jaar: 19,5mg

Die wenner is: ProNutro met 32,4mg.

So lyk die res:

  • All-Bran Flakes 7,5mg
  • Corn Flakes, Rice Krispies en Frosties 6mg

·         Coco Pops 4,5mg

 

KALSIUM

Waarvoor is dit belangrik? Kalsium is noodsaaklik vir die gesonde ontwikkeling van tande en bene.

Hoeveel het jou kind nodig vir ontbyt?

  • Seuns en meisies 4-8 jaar: 240mg
  • Seuns en meisies 9-18 jaar: 390mg

Die wenner is: ProNutro met 339,9mg.

So lyk die res:

  • Jungle Oats 90,2mg
  • Instant Oats 33,9mg

Die slotsom

As 'n mens na die waardes van die spesifieke elemente kyk wat vir die doel van die artikel gemeet is, is dit duidelik dat Bokomo se Instant Oats die gesondste pap is. Dit het die hoogste energie-, koolhidraat-, vitamien A- en ysterwaarde.

Die warm pap Jungle Oats is 'n kortkop agter: Dié pap het die hoogste proteïen- en veselwaarde. Dit het ook die tweede hoogste energie-, kalsium- en koolhidraatwaarde – maar die laagste vitamien A-waarde.

ProNutro volg in die derde plek met die hoogste kalsium- en Vitamien C-waarde, die tweede hoogste vitamien A-waarde en die derde hoogste proteïen-, yster- en veselwaarde. Dit het die vierde hoogste koolhidraatwaarde

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Breakfast
Which muesli beats the rest?

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE