In die ou dae was Pa die een wat gestraf het. "Wag net tot jou pa huis toe kom!" het ma's gedreig. En dis wat die kinders gedoen het – in vrees en bewing gewag dat Pa ná werk by die voordeur instap.
Maar die lewe het verander en nou is die verwagting dat albei ouers ewe betrokke is by die gesinslewe.
"Kinders het altyd gedink die pa is die een wat straf," sê Suzie. "Maar dit veroorsaak nie net dat hy nie die 'lekker' ouer is nie, dit ontneem hom ook die kans om 'n volronde verhouding met sy kind te hê. Kinders moet leer dieselfde ouer kan ja én nee sê, dat jou ouers vir jou lief kan wees al doen jy dinge waarvan hulle nie hou nie."
Die ander probleem is dat baie ouers in die gewoonte verval om net aandag te gee aan hul kinders as hulle stout of raserig is en nie wanneer hulle hulle stil gedra nie.
"Al twee ouers moet die kinders dissiplineer en met hulle speel en weet wanneer om die grense te stel," sê Suzie. "En as jy meer pret het saam met jou kinders eerder as om hulle by jou wense te laat inval, sal jy agterkom daar is uit die staanspoor baie minder swak gedrag."
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.) – Herfs 2010