Share

Gaap-gaap deur die doekjare

Voel jy radeloos omdat jou kleinding jou nag ná nag wakker hou? Ons het raad.
Deur ELISE-MARIE TANCRED vir Huisgenoot-POLS

"Slaap jou baba al deur die nag?"

Dis nie verniet dat nuwe ouers dikwels dié vraag hoor nie. Dit wys hoe belangrik 'n ononderbroke nagrus vir ons is – en hoe dikwels dit die ouers van klein kindertjies ontwyk.

Maar as jy nie van vroeg af 'n slaap­roetine deel maak van jou kind se lewe nie, kan 'n tekort aan slaap dinge moeilik maak vir jou én jou spruit.

Gesonde slaapgewoontes is een van die waardevolste lesse wat ouers hul kinders kan leer, sê Jan Top van die Panoramahospitaal in Kaapstad se slaapkliniek.

Nuwe studies oor kinders met gedragsprobleme wys dat hulle onder meer ook te min slaap.

Die gemiddelde driejarige behoort nog minstens twaalf uur per nag te slaap. Te min slaap veroorsaak sommer gou dat kleuters aggressief en hiperaktief is en makliker in woede uitbars.

Navorsers glo slaapgebrek skaad selfs op die lang duur die manier waarop kinders se brein werk. Kinders kán geleer word om goed te slaap, meen kenners.

Vestig vroeg-vroeg 'n roetine
Wat presies jy doen en hoe jy dit doen is minder belangrik. Maar as jy 'n roetine vestig waar sekere aktiwiteite (soos bad, musiek luister, 'n boek deurblaai) altyd op dieselfde tyd en in dieselfde volgorde geskied, kan dit só doeltreffend wees dat jou kind sal begin gaap sodra jy die boek vir die slaaptydstorie oopslaan.

"Die slaaproetine behoort te begin sodra die nuwe baba tuis kom," sê Jan. Hoewel pasgebore babas nog nie tussen dag en nag onderskei nie, kan jy tog iets doen om jou baba die verskil tussen speeltyd en slaaptyd te leer.

Gedurende die dag kan jy met haar speel en gesels, en haar selfs wakker maak vir borsvoeding. Sorg ook dat haar kamer bedags lig en helder is. Saans kan jy die ligte demp, met 'n rustiger stem praat en klassieke musiek speel.

'n Gesonde roetine kan só uitsien: eet, bad, 'n kort geselsie oor die dag se gebeure en 'n storie en/of die sing van 'n slaapliedjie. En dan kom die belangrikste: sê goeienag, stap uit en maak die deur toe, al word daar 'n kabaal opgeskop. Groter kinders moet sonder meer terug bed toe gestuur word as hulle weer opstaan.

Gesinsbed dalk die oplossing
Hoewel sommige medici die gekontroleerde huiltegniek voorstaan – 'n metode wat kleintjies vir kort tye op 'n slag laat huil voor daar 'n bietjie aandag gegee word – meen ander weer die tegniek is wreed en leer kinders van jongs af hul emosies is nie belangrik nie.

Suster Lilian, bekende vroedvrou en skrywer van verskeie boeke oor babasorg, sê onlangse navorsing wys dat kinders wat as babas nie emosioneel veilig gevoel het nie, meer geneig is tot geweld wanneer hulle groter word. "Teen die tyd dat hulle skool toe gaan, kry hulle reeds terapie of het leer- en gedragsprobleme."

Sy is 'n groot voorstander van die gesinsbed, veral as albei ouers bedags werk.

"Vandag se kinders sien hul ouers bitter min, daarom is dit geen wonder hulle word snags wakker om seker te maak hul ma is nog daar nie. Veral babas het 'n groot behoefte aan fisieke kontak en vertroeteling."

Die bekende hartchirurg dr. Susan Vosloo sê toe haar tweeling klein was, het sy en haar man 'n yslike gesinsbed uit twee dubbelbeddens gemaak. "Ons kon nie bekostig om soggens moeg op te staan nie. Daar was oorgenoeg plek en ons het almal lekker geslaap."

Suster Lilian meen arm gemeenskappe en tradisionele kultuurgroepe ken nie iets soos slaapprobleme nie. "Hulle het nie die luukse van 'n kamer vir elke kind nie. Babas slaap saam met hul ouers, en later slaap al die kinders saam in 'n groep."

"Die kinders slaap wanneer hulle moeg is, nie volgens 'n skedule nie. In sulke gemeenskappe is familie- patrone meestal vry van angste en skuldgevoelens."

Sy sê 'n meer volwasse slaappatroon ontstaan eers teen vier jaar oud en dis onrealisties om te verwag dat jy voor dan gaan deurslaap.

Wat van medisyne?
As jou kleinding jou al wéér deurnag wakker gehou het, begin jy dalk 'n lepel hoesmedisyne, of selfs 'n slaapmiddel, oorweeg – net sodat julle almal 'n goeie nagrus kan kry.

Moenie! Volgens kenners wemel dit van die gevare.

Vermy die volgende:

  • Medisyne soos pynstillers en sommige hoesstrope wat kodeïen bevat, omdat dit verslawend kan wees.

  • Middels met kodeïen moet in geen omstandighede vir babas jonger as 'n jaar gegee word nie.

  • Slaapmiddels. Dis nie vir kinders bedoel nie en kan breinontwikkeling en fisieke groei vertraag.

  • Strope met antihistamien. Dit moet vir die behandeling van allergieë gebruik word en nie om 'n kind te laat slaap nie.

  • Medisyne wat kafeïen of pseudo-efedrien bevat, omdat dit jou kind kan wakker hou. Sommige verkouestrope bevat dié middels.

  • Medisyne wat nie spesifiek vir kinders bedoel is en as pediatriese medisyne aangedui is nie.

Hoeveel slaap is genoeg?

Ouderdom Nagrus (ure) Dagslapie (ure) Totale slaap (ure)
1 maand 8,5 (baie kort slapies) 7,5 (baie kort slapies) 16
3 maande 6-10 5-9 15
6 maande 10-12 3-4,5 14,5
9 maande 11 3 (2 slapies) 14
12-18 maande 11 2,5 (1-2 slapies) 13,5
2 jaar 11 2 (1 slapie) 13
3 jaar 10,5 1,5 (1 slapie) 12
4 jaar 11,5 0 11,5
5-7 jaar 11 0 11
8-9 jaar 10-11 0 10-11
10-11 jaar 10 0 10
12-13 jaar 9,5-10 0 9,5-10

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Read more: Sleep strategy for busy babies

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE