Share

Asma: Te veel sterf

Moenie asma onderskat nie. Dit kan doodmaak. Meer as 300 miljoen mense ly aan asma, en dit eis jaarliks die lewe van nagenoeg 180 000 mense wêreldwyd. Albei dié syfers is aan die toeneem.

Só groot is die omvang van asma en asmasterftes dat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gister, 4 Mei, tot Wêreld-asmadag verklaar het.

In Suid-Afrika ly nagenoeg een uit elke tien mense aan asma. Die voorkoms is selfs hoër onder kinders.

Suid-Afrika se uiters hoë asmasterftesyfer in die ouderdomsgroep vyf tot 34-jariges wek kommer onder medici. Suid-Afrika se asma-sterftesyfer is die vierde hoogste ter wêreld, terwyl dit, op grond van die voorkomssyfer, nommer 25 moes gewees het.

Die tragedie is dat byna elke asmasterfte voorkombaar is, sê prof. Heather Zar, kinder-pulmonoloog van die Rooi Kruis kinderhospitaal in Kaapstad en uitvoerende lid van die Allergievereniging van Suid-Afrika (ALLSA).

Baie asmalyers sterf
Te veel Suid-Afrikaanse kinders en volwassenes sterf aan asma omdat baie lyers nie behoorlike behandeling ontvang nie, lyers nie gereeld genoeg hul asmapompies gebruik nie, of omdat te veel asmalyers die erns van hul aanvalle onderskat, sê Zar.

Navorsing wat in Kaapstad gedoen is, bevestig dié afleidings. Dit toon dat drie uit elke vier asmasterftes oor 'n naweek plaasvind, en dat lyers dikwels te lank wag voordat hulle mediese hulp soek.

Zar en prof. Eugene Weinberg, Suid-Afrikaanse kinderarts wat internasionaal bekend is om sy kennis van asma-behandeling by kinders, beklemtoon dat lyers wat die regte behandeling ontvang en dit getrou volg, 'n normale lewe kan lei.

Dit is van die grootste belang dat die asmalyer self, asook ouers en vriende, 'n asma-aanval herken, weet hoe om dit te voorkom en te behandel, en wanneer om onmiddellik na 'n dokter of hospitaal te jaag.

Hoe herken mens 'n aanval? Sowat 80% van alle kinders wat asma kry, kry dit die eerste keer voor hul 5de verjaarsdag. Sowat die helfte van hulle sal asma teen hul 18de jaar ontgroei, maar in 30% van dié "ontgroeide" gevalle sal dit teen die ouderdom van 26 weer verskyn.

Moenie die volgende simptome ignoreer nie, veral nie as die persoon effe grieperig of verkouerig is nie: 'n Gehoes, veral saans; 'n voortdurende behoefte om keel skoon te maak of te kug; 'n fluitbors; 'n gevoel dat die borskas vasgedruk word; en moeite om asem te haal en kortasemigheid, veral kort nadat oefening begin is.

Hoe voorkom 'n mens asma?
Asma kom meer voor by mense met 'n familiegeskiedenis van dié siekte en diegene wat oorgewig is. In 90% van alle kindergevalle en in 50% van alle volwassene-gevalle word dit deur allergieë veroorsaak.

Die algemeenste allergene wat dit veroorsaak, is stuifmeel van grassade en bome, hond- en kathare en -urine, kakkerlakmis, huismyte in veral matrasse en swamme in klam huismure. Die inaseming van sigaretrook (aktief of passief), koue lug, stres, oefening, parfuum, insekdoders, matskoonmaakmiddels wat formaldehied bevat en ander chemiese stowwe kan asma-aanvalle veroorsaak.

Die belangrikste voorkomingsmaatreël is om vas te stel watter stowwe jou asma veroorsaak en daardie snellers te vermy. Alle mense - en veral diegene wat as kinders asma gekry het - moet sigaretrook en passiewe rook vermy. Kinders wat aan sigaretrook in 'n huis of motor blootgestel is, loop 'n hoër risiko om asma op te doen. Kinderasmalyers wat later begin rook, het 'n groot kans om weer asma op te doen.

Die risiko dat passiewe rook die longe van kinders jonger as ses kan beskadig, is groot en die skadelike stowwe van 'n sigaret bly so lank in meubels agter dat navorsers ouers aanraai om buite die huis en glad nie in 'n motor te rook nie.

Versorg 'n asmalyer met griep of 'n ander infeksie so vroeg en goed moontlik en sonder onverskilligheid, omdat enige lugweginfeksie asma kan veroorsaak en vererger.

Hoe word asma behandel?
Die meeste asmalyers het twee verskillende asmapompies nodig: een wat een of twee keer per dag gebruik moet word om asma te voorkom al het die persoon geen simptome nie, en 'n ander wat gebruik moet word wanneer die lyer kortasem word gedurende 'n akute aanval.

Die kortikosteroïede (of leukotriene-inhibitors) in die voorkomingspompies werk die inflammasie, rooiheid en swelling in die lugweë teë. Die verligtingspompie bevat medisyne om die kringspiere van die saamgeperste longpype weer te verslap sodat lug weer daardeur kan vloei.

Shaun Bartlett, wat al 65 keer vir Bafana Bafana uitgedraf het, gebruik sy voorkomingspompie elke oggend en aand. Moeneeb Josephs, Ajax Kaapstad se doelwagter, gebruik syne soggens en saans en 30 minute voor elke oefening en wedstryd.

Wanneer is dit 'n noodgeval?
As 'n asmalyer die volgende simptome toon, moet jy hom of haar help om nog 'n keer die verligtingspompie te gebruik: skielike vinnige, vlak, harde en onreëlmatige asemhaling; ineengetrekte skouers; aanhoudende keelskoonmakery; angstige kyk in die oë; rusteloosheid; sigbare spasies tussen die ribbes weens gesukkel om lug in te asem; en fluitbors.

Jaag na die hospitaal as die simptome erger word ondanks die verdere gebruik van die verligtingspompie, of as hy of sy sukkel om asem te haal of om te praat of te loop, of as die vingernaels en lippe blougrys word.

(mhudson@health24.co.za, Mei 2004)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE