Share

Balvaardighede gee jou kind ’n voorsprong

accreditation

Of jou kind die volgende sport-superster is of nie, goeie balvaardigheid en hand-oog-koördinasie sal ook op ander gebiede (dink wiskunde!) in sy guns tel. Daar’s gelukkig baie wat jy kan doen om dié vaardighede te ontwikkel.

Deur Carine van Rooyen en Leandra Engelbrecht

Sokkerballe, tennisballe, bont strandballe of vrolike bonsballe – kry hulle in die hande en skop hulle, gooi hulle en rol hulle. Dit sal vir jou kind van onskatbare waarde wees.

Die vermoë om ’n bal goed te hanteer, kan lewenslange plesier van sportdeelname én beter gesondheid meebring. Wie weet, miskien is jy selfs besig om ’n sport-superster groot te maak!

Maar dit gaan nie net oor sport en aksie nie; goeie balvaardighede is maar net een van die positiewe gevolge van goeie hand-oog- en voet-oog-koördinasie.

En dit bring ons by ernstige dinge soos wiskundige vermoëns. Kinders het vroeg reeds goeie koördinasievaardighede nodig wat hulle in staat stel om eenvoudige dinge te doen soos om aan te trek, tandepasta op ’n tandeborsel uit te druk en vrugtesap te skink.

Dit lei tot die bemeestering van ingewikkelder aktiwiteite soos om videospeletjies te speel, in te kleur, dinge met ’n skêr uit te knip, te skryf, die rekenaarmuis te gebruik en ’n begrip vir ruimtelike konsepte, wat belangrik vir wiskunde is, te ontwikkel.

Probleme

’n Mens let swak hand-oogkoördinasie heel eerste op as ’n gebrek aan skryf- en tekenvaardighede. Daar’s twee hoofoorsake: sigprobleme en bewegingafwykings. Kyk uit vir tekens soos lompheid, wisselvallige of ongekoördineerde bewegings, swak handskrif en moeite om woorde te spasieer en op die lyn te hou of om in wiskunde eweredige kolomme te trek.

Op pad na groter balvaardighede

Hoewel balvaardigheid iets is waarmee ’n mens gebore word, kan dit steeds ontwikkel en verbeter word, sê Anne van Niekerk van Playball. Playball is ’n prettige benadering tot liggaamlike opvoeding wat dikwels deur skole gebruik word om die balvaardighede en terselfdertyd die hand-oog en voet-oog-koördinasie van kinders te verbeter.

“Onthou net dat kinders se ontwikkelingsfases nie altyd ’n vasgestelde patroon volg nie,” sê Dana-Anne Katz, ’n geregistreerde arbeidsterapeut van Kaapstad.

“Alle kinders ontwikkel hul vaardighede op hul eie tyd en party kinders se vaardighede sal altyd op sekere gebiede meer ontwikkel wees as op ander.” Gee jou kind ’n voorsprong met behulp van ons mylpaalgids en nuttige wenke om hul balvaardighede te verbeter.

Op tweejarige ouderdom

Dinge wat kinders kan doen:

Die ontwikkeling van balvaardighede behels baie meer as net om te leer om ’n bal te gooi, vang of skop. Die belangrikste in dié stadium is om kruip en gewigsondersteuning met die arms aan te moedig, sê Dana-Anne.

Op twee jaar oud kan kinders al in staat wees om ’n bal, kussing of boontjiesakkie te vang wat saggies en direk na hul borskas gegooi word. As jou kinders ’n bal akkuraat kan skop, ’n balletjie kan vang of die bal doelgerig kan gooi, is hulle met buitengewone balvaardighede geseën.

Ouers aan die beurt:

  • Moenie kinders te dik aantrek nie – dit beperk hul vermoë om vrylik te beweeg.
  • Laat hulle so dikwels moontlik kaalvoet loop.
  • Moenie hul bedrywighede te veel organiseer nie; laat hulle toe om skeppend te wees.

So maak mens

  • Moedig kinders aan om deur tonnels, onder tafels en stoele deur, onder lakens en deur bokse en hindernisbane te kruip. (Pretfaktor: Lok hulle met ’n speelding aan die einde van die tonnel.) Selfs ouer kinders behoort nog aan rondkruipspeletjies deel te neem.
  • Gebruik trek- en stootspeelgoed om balans en krag in hul arms te ontwikkel.
  • Maak gebruik van vloeraktiwiteite soos legkaarte, vingerverf en krytteken op plaveisel sodat hulle hul gewig op hul hande en knieë kan plaas en hul hele liggaam kan gebruik.
  • Skep geleenthede vir klim, selfs al is dit net op en af met ’n trap.
  • Gooi balle (verskeie gewigte, teksture en groottes) in en uit ’n balpoel of -net of ’n speelgoedboks, of rol dit na jou kind.
  • Gee hulle kolwe of stokke om balle of hangteikens mee te slaan.
  • Moedig peuters wat al kan loop aan om balle te begin skop, selfs al moet hulle aan iets vashou.

Op drie- en vierjarige ouderdom

Dinge wat kinders kan doen:

Op dié ouderdom is kinders in staat om met uitgestrekte arms ’n bal te vang as daar versigtig na hul hande gemik word. Hulle kan dalk nog ’n bietjie wankelrig wees wanneer hulle op een voet balanseer, maar hulle kan reeds goed mik en skop.

Ouers aan die beurt:

  • Geesdrif en pret is belangriker as spesifieke sportvaardighede of -resultate.
  • Moenie oorbeskermend wees nie; laat kinders lekker los rondhardloop.

So maak mens:

  • Oefen om sagte balle, opgestopte kouse of boontjiesakkies te slaan, gooi, vang, skop, bons en dribbel.
  • Gebruik balhouers en speel doelwagter terwyl jou kind probeer om die bal by jou verby te skop. (Pretfaktor: Jy’s ’n groot skip in die hawe en die klein skippie – die bal – moet probeer om by jou verby te kom na die diepsee.)
  • Maak ’n groot bal aan ’n tou aan ’n tak vas en laat jou kind die bal “kopstamp”. (Pretfaktor: Jou kind klop aan die kasteel se deur en word eers ná drie, vier of vyf opeenvolgende kopstampe ingelaat.)
  • Laat jou kind ’n groot bal deur ’n hoepel gooi en vang.
  • Kry vir jou kind ’n driewiel vir balans en koördinasie.
  • Laat hulle boomklim.
  • Moedig sportaktiwiteite aan soos mini-gholf, stofl ap-hokkie, boontjiesakkorfbal, teikenspeletjies, kegelspel, ens.

Op vyf- en sesjarige Ouderdom

Dinge wat kinders kan doen:

In dié stadium behoort kinders reeds met groter balans en beheer te beweeg, oor basiese oog-voet-koördinasie te beskik, ’n voorkeur vir die linker- of regterhand/voet te begin ontwikkel, in staat te wees om saam met ’n maat/spanmaats te speel en ten volle bewus van sukses en mislukking te wees – moet dus nie ophou om hulle aan te moedig nie.

Ouers aan die beurt:

  • Help jou kinders om hul selfvertroue op te bou.
  • Begin om hulle die basiese reëls van sekere sportsoorte te leer en die korrekte terminologie te gebruik.

So maak mens:

  • Speel balspeletjies. Oefen om te vang, gooi, kolf, bons en skop.
  • Laat jou kinders met verskillende soorte sporttoerusting soos tennisrakette en krieketkolwe speel.
  • Plaas ’n korfbalhoepel teen ’n buitemuur en daag jou kinders uit om die bal vanaf 6 m te bons en dit van ’n afstand van 2 m en 3 m deur die hoepel te probeer gooi (hoe verder van die hoepel, hoe hoër die punte).
  • Verf ’n teiken teen die garagedeur; die kinders se puntetelling styg hoe nader hulle aan die kolskoot kom. Wissel die afstand na die teiken en gooi ’n nat tennisbal sodat daar ’n merk teen die teiken bly sit.
  • Laat jou kind swaaibal (swing ball), ringgooi (ring toss), kroukie, minikrieket en minitennis speel, en begin fietsry.

Op sewe- en agtjarige ouderdom

Dinge wat kinders kan doen:

Hulle kan al kleiner balletjies vang, hul balans goed hou, rats wees, individuele sterk en swak punte begin toon en reël-sportsoorte soos rugby, krieket, hokkie, netbal, sokker en bofbal geniet. Op hierdie ouderdom begin hulle om aan skoolsport deel te neem en van struktuur en spanspel te leer. Laat hulle dinge op hul eie manier doen; te veel tegniek-afrigting kan hul natuurlike talent belemmer, sê dr. Ross Tucker van die Universiteit van Kaapstad en die Instituut vir Sportwetenskap van Suid-Afrika.

Let wel: Party kinders raak op hierdie ouderdom baie mededingend; dis dus belangrik om oormatige geesdrif en aggressiewe spel te beteuel. Wees ook versigtig hoe jy op ons nasionale spanne se spel op televisie reageer – kinders leer dikwels hul mededingende aard by hul ouers.)

Ouers aan die beurt:

  • Verduidelik hoe belangrik dit is om as ’n span saam te speel.
  • Vermy stereotipering van seuns en meisies met betrekking tot spesifieke aktiwiteite.

So maak mens:

  • Speel handtennis met ’n klein balletjie in die oprit of tuin.
  • Dribbel ’n balletjie met ’n hokkiestok deur sigsag kegels en skiet ’n doel; later kan die kinders jou op pad na die doel probeer ontwyk.
  • Laat ’n tennisbal aan ’n tou in die garage hang en laat die kinders dit met ’n krieket- of bofbalkolf slaan.
  • Speel ’n pretspeletjie soos “raakkorfbal”. Die kind bons ’n groot bal binne ’n gemerkte gebied; jy beweeg rond en die kind probeer om jou aan te raak terwyl hy of sy die bal bons. Wanneer jy aangeraak word, is jy “aan”

Op nege- en tienjarige Ouderdom

Dinge wat kinders kan doen:

Op hierdie ouderdom het kinders heelwat meer stamina, hulle kan tussen regs en links onderskei, hul reaksies is baie vinniger, hul balans, koördinasie en reaksievaardighede is baie beter en hulle kan ingewikkelde opeenvolgende bewegings baasraak.

Ouers aan die beurt:

  • Fokus op individuele sterk punte. As ’n kind nie in spansport belangstel nie, help hom of haar om ander talente te ontwikkel of kies individuele sportsoorte soos gimnastiek, ballet of swem.
  • Skep ’n aktiewe roetine. Moedig kinders aan om skool toe te stap of fiets te ry en by die huis aktief met takies te help.

So maak mens:

  • Kry ’n klompie kinders bymekaar en speel “tagby” (’n eenvoudiger soort aanraakrugby).
  • Speel korttennis of minitennis (met ’n laer net, kort, liggewig- rakette en ’n sagte sponsrubberbal).
  • Speel “middelmannetjie”: Drie kinders staan in ’n ry. Terwyl die twee aan die buitekant die bal na mekaar toe gooi, probeer die een in die middel dit vang. As hy of sy dit regkry, word die een wat die bal gegooi het die nuwe “middelmannetjie”.

Op elf- en twaalfjarige Ouderdom

Dis waarskynlik die deurslaggewendste tydperk omdat byna alle kinders op dié ouderdom aan georganiseerde sport blootgestel word. Dié ondervinding kan sport vir hulle vir die res van hul lewe maak of breek.

Party kinders het nou al hul natuurlike balvaardighede ontwikkel terwyl ander kinders nog nie op hul gemak daarmee is nie. As hulle nie goed met bal-sportsoorte is nie, beproef liewer ander sportsoorte as krieket, rugby, sokker en netbal

Dinge wat kinders kan doen:

Dis prettig en ’n uitdaging om nou ingewikkelder fisieke vaardighede aan te leer en ook om basiese reëls en taktiek in mededingende wedstryde toe te pas.

Ouers aan die beurt:

  • Verseker dat jou kind die korrekte veiligheidstoerusting soos skeenskutte vir sportsoorte soos krieket of hokkie het, én dit gebruik.

So maak mens:

  • Speel krieket saam met die buurt se kinders en maak seker elke kind kry ’n kans om te kolf en boul.
  • Leer kinders ’n eenvoudiger weergawe van korfbal en begin met basiese dinge soos om te vang, gooi, bons en punte aan te teken.
  • Moedig die hele gesin aan om tafeltennis te speel.

Links vs. regs

Is jou kind links? Dan het hy ’n goeie kans om bo sy regshandige maats in krieket, tennis of hokkie uit te styg. In tennis is dit bekend dat linkshandiges die bal in die teenoorgestelde rigting laat draai as wat ’n regshandige teenstander dit normaalweg sou slaan. As gevolg hiervan kan regshandige spelers dikwels nie die balle van ’n linkshandige hanteer nie.

Om links te wees, is ook baie nuttig vir ’n hokkiespeler. Jou linkerhand is altyd aan die bokant van die stok van waar dit beheer word terwyl die regterhand die stok ondersteun (daar is nie ’n hokkiestok vir linkshandiges nie!). John McEnroe (tennis) en Brian Lara (krieket) is bekende linkshandiges.

 

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE