Ebola
Dié dodelike virussiekte het sedert 1976 die lewe van meer as 1 500 mense in Sentraal-Afrika geëis. Dit word waarskynlik van vlermuise in woude na ape en mense oorgedra, en versprei dan van mens tot mens. Van dié mense sterf 70 persent binne sewe tot sestien dae na kontak. ’n Dokter wat in 1996 uit Gaboen gevlug het om in Suid-Afrika behandel te word, het herstel, maar 'n Suid-Afrikaanse verpleegster wat hom versorg het, het gesterf.
Lassakoors
In Wes-Afrika eis dié virus meer as 5 000 lewens per jaar. Sowat 20 persent van pasiënte wat in ’n hospitaal behandel word, sterf binne vier weke. As ’n swanger vrou dit kry, is dit ’n doodsvonnis vir haar kind – net 5 persent van babas oorleef. Mastomys-muise dra die virus en skei dit in nul urine uit. Mense wat dan aan voorwerpe vat of kos eet wat daarmee besmet is, word binne ses tot 21 dae siek.
Krim-Kongo-koors
Dit is die algemeenste bloeding-virussiekte in Suid-Afrika en sowat tweehonderd gevalle is al hier gediagnoseer. Honderde mense sterf elke jaar weens dié virus, wat deur die Hyalomma- bontpootbosluis oorgedra word. Dié bosluis kom oral in Afrika voor en besmet beeste en ander diere. 'n Mens kan siek word na ’n bosluisbyt, of ná blootstelling aan besmette bloed of kontak met 'n besmette mens. Altesaam 30 persent van pasiënte gaan binne veertien dae dood.
Marburg-koors
Dié virus word moontlik deur ’n grotvlermuis aan ape en mense oorgedra. Duitse laboratoriumwerkers het in 1967 Marburgkoors opgedoen nadat hulle besmette groenape uit Afrika hanteer het, terwyl ’n Hollandse vrou in Julie 2008 dood is na kontak met vlermuise in Uganda. Die Marburg-virus het ’n hoë sterftesyfer: tot 80 persent van mense wat besmet word, sterf binne twee weke. In 1975 is 'n man in Suid-Afrika daaraan dood kort nadat hy van Zimbabwe teruggekeer het.
Nuwe Arenavirus
Die eerste geval in die wêreld was in September 2008, toe die 36-jarige Cecilia van Deventer in Johannesburg gesterf het na blootstelling in Zambië. Nog drie mense is ná kontak met haar dood. Tans is die sterftesyfer 68 persent; as die antivirale middel Ribavirinvroeg gebruik word, kan dit die persoon se lewe red. Die virus word oorgedra deur die Mastomys-muis. Bêre kos op ’n veilige plek en raak op so 'n manier van vullis ontslae dat dit nie knaagdiere aantrek nie.
Kyk uit vir diésimptome
Mense wat siek
voel ná ’n bosluisbyt, as hulle in ’n grot in Afrika was, of in kontak met ’n besmette
persoon of aapvleis of -bloed, moet dadelik dokter toe gaan. Kyk uit vir griepagtige
simptome (soos lyfseer), naarheid en diarree, gevolg deur ’n fyn rooi uitslag
van bloedings op die vel. Daarna begin ’n mens uit die neus of ’n ander opening
bloei. Moenie aan die bloed, speeksel of enige uitskeiding van ’n pasiënt raak
nie.
Deur die Health24-span