Share

'n Beter bui in 5 stappe

 

 

Soms bring die lewe goeie dinge oor jou pad; onverwagse oomblikke wat jou warm om die hart laat voel. Maar jy kan self sorg dat daar meer sulke goedvoel-ervarings in jou lewe is. Hoe? Deur iets vir iemand anders te doen.
Deur HEATHER PARKER

Mense wat gul van hul tyd en energie gee – omgewingsaktiviste, pleegouers, werkers in vlugtelingkampe en redders van rondloperhonde – is vir seker onselfsugtig en bewonderenswaardig. Maar moenie te beïndruk wees nie, sê Olivia Rose-Innes, 'n vrywillige brandbestryder: Mense verrig goeie dade nie net om onbaatsugtig te wees nie, maar ook omdat dit hulle goed laat voel.

Nie dat dit verkeerd is om te ontvang terwyl jy gee nie...

Olivia, wat in die "regte lewe" 'n Health24-joernalis is, sê talle studies het bewys dat vrywilligerswerk jou immuunstelsel kan versterk en jou risiko vir hartsiektes en depressie kan verlaag. In Engels noem hulle dit die "helper's high": die euforie wat 'n mens voel as jy ander help deur iets van jouself te gee. Dis dieselfde goedvoel-ervaring wat drawwers het.

Hier is vyf maniere waarop jy jou gemoed 'n hupstoot kan gee:

1. Gee geskenke wat met die hand gemaak is. Dis in die haak om 'n bottel wyn vir die gashere te gee as jy vir ete genooi word. Maar tuisgemaakte koekies of 'n selfgekweekte rissieplant sal veel meer beteken. Waarom? Want dit verteenwoordig tyd – die wêreld se skaarsste hulpbron – en wys jy het meer gedoen as om net op pad by die drankwinkel stil te hou. Dit laat voel jou én die ontvanger goed.

2. Skenk jou vaardighede om iemand anders se lewe makliker te maak. In elke dorp en stad sukkel instansies met knypende begrotings. Skole, ouetehuise, kerke, hospitale en diereskuilings... baie het hardwerkende komitees wat hul bes doen om die geld wat hulle wel het, so ver as moontlik te rek. Of jy nou 'n nutsman, tuinier, boekhouer, organiseerder of net 'n goeie luisteraar is wat met 'n eensame mens kan gesels, gaan vind uit waar daar 'n behoefte is en doen jou deel. Dit sal jou oë laat oopgaan.

3. Gee iemand 'n onverwagse drukkie. As jy al ooit self een nodig gehad het, sal jy verstaan hoekom!

4. Doen iets opwindends. Olivia geniet die drama van brande bestry. Dieselfde drama is dikwels die aantrekkingskrag vir vrywillige berg- en seereddingswerkers en paramedici. Vir dié wat nie kans sien vir gevaar nie, is daar belangrike rolle te speel in die steunspanne wat byvoorbeeld telefone beman. Maak nie saak wat die aard van jou betrokkenheid is nie, hier sal jy 'n hele netwerk interessante, toegewyde mense ontmoet en 'n belangrike bydrae lewer tot openbare diens.

5. Maak kontak. 'n Mens is soms so doenig met jou eie dinge dat jy skaars raaksien hoe familie en vriende stadig maar seker uit jou lewe begin verdwyn. Besluit dus om minstens een keer per week kontak te maak met iemand vir wie jy omgee, maar wat jy min sien – selfs al moet jy begroot vir 'n oorsese oproep of vir die tyd wat dit kos om 'n lang e-pos te skryf. Op die ou end is liefde tog die ding wat saak maak. En liefde het die energie van aandag nodig om ons almal goed te laat voel.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.) - Herfs 2010

Lees meer:
The helper's high

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE