Share

Waarom lewe mans korter as vroue?

Die man is gemiddeld langer, sterker en groter as die vrou. Tog lewe mans gemiddeld korter. Waarom? Dit lê grootliks in die mans se testosteroon en sy kulturele beskouing van geweld, volgens navorsers.

Dit blyk dat die man vanweë sy evolusionêre erflating, sy testosteroon, en sy beskouiing van geweld bepaal of hy 'n bok vir risiko en gevaar is, en geweld sal inspan om sy teenstander uit te wis.

Mense se lewensverwagting wissel van plek tot plek, maar vroue leef meestal oral langer as mans. In slegs twee - die Maldives en Nepal - van meer as 200 lande leef mans langer as vroue, en waarskynlik omdat die geboortesyfers in dié twee lande uiters hoog is en moontlik bydra tot moedersterftes.

Demografiese navorsing het getoon dat meer mans vroeër aan eksterne oorsake (moorde, aanrandings, ongelukke) sterf, sowel as aan interne oorsake (siektes) as vroue, volgens 'n artikel in die Amerikaanse wetenskaptdyskrif, Scientific American.

Ongeluk- en geweldsterftes eis veral meer lewens van mans in hul tiener- en twintigerjare in vergelyking met vroue van dié ouderdom. Dié sterftes word sterk verbind aan risiko-gedrag.

Jong mans ry vinniger as vroue of as ouer mans, is minder besorg oor die gevare van dwelms en van onsigbare gevare soos omgewingstoksiene en geslagsiektes, en beskou dikwels 'n gevaarlike situasie as 'n opwindende beloning. Hulle het 'n groter kans om te moor of vermoor te word, volgens navorsingstudies.

Die evolusieproses


Die rede vir jongmans se gejaag na gevaar lê moontlik opgesluit in die mense se evolusieproses.

Die verskil in lengte tussen die man en vrou in vergelyking met primaat-spesies, dui daarop dat die mens ge-evolueer het uit toestande waar die man eens op 'n tyd meer as een vrou gehad het, en dat die sterkste en beste man dus 'n groter kans gehad het om die meeste vroue te beïndruk en te wen.

In primaat-spesies waar 'n manlike dier baie wyfies het, is die mannetjie heelwat langer en groter as die wyfie, en in spesies waar die mannetjie slegs een wyfie het, is die twee byna ewe groot. Die feit dat seuns effens later puberteit bereik as meisies, en om vroeër te sterf, ondersteun dié teorie van risiko-gedrag.

Geweld en risikogedrag


Baie meer mans vermoor mekaar in mededingende konflikte oor materiële dinge en ander minder duidelike sosiale redes as vrouens. Dit blyk dat lae sosiale stand risikogedrag aanmoedig, want as jy niks het nie, kan jy niks verloor nie.

Studies in verskeie wêrelddele toon inderdaad dat dit juis die werklose, ongetroude en kinderlose jong man is wat meer geneig is tot risikogedrag, insluitend geweld. Die geweld- en moordsyfers is veral hoog in lande met 'n gebrek aan 'n goeie polisiemag en regstelsel en 'n swak sentrale regering.

Geweld word veral aanloklik indien die grootste risikonemer die grootste wenner is. Dit blyk dat jong mans in gebiede waar die lewensverwagting van mans juis laag is, hulself die maklikste tot geweld sal wend. Dié verband word nou as voorspeller gebruik: hoe laer die lewensverwagting, des te groter is die geweldskoers.

Mans neem selfs risiko's met gesondheid


Dit blyk egter nou ook dat mans se risikogedrag ook strek tot by die siektes wat hy kan ontwikkel - weens sy risikogedrag let hy nie soos vroue op vroeë opsporing nie, maar kan sy gedrag - rook, dwelm- en alkoholgebruik - juis siektes in die hand werp.

Die manlike hormoon testetosteroon dra waarskynlik by dat mans se liggame vroëer - sodra hulle rol as voorplanters grootliks verby is - begin agteruitgaan as dié van vroue. Testosteroon dra nie net by tot aggressie en geweldsoptrede nie, maar moedig prostaatkanker aan, en onderdruk ook die immuniteitstelsel sodat die man vatbaarder vir infeksie-siektes word.

Studies het getoon dat die manier waarop 'n man sy aggressie openbaar, en of hy gewelddadig gaan optree of dit kan beheer, tot 'n groot mate van sy "kulturele" agtergrond afhang. Indien die man grootgeword het in 'n omgewing waar geweld en moord aanvaarbaar is, sal hy ook só optree, en andersom.

Geweld deur mans is 'n kwessie van testosteroon, sy evolusieproses en sy kultuur. Agressie is nie onafwendbaar nie. Op die ou einde bepaal die man se "kultuur" - hoe belangrik hy lewe ag en of hy geweld sien as oplossing van sy probleme of selfs as iets om mee te spog - of hy sy vuurwapen gryp as hy beledig word en of hy beskaaf kan optree.

(Mari Hudson, Health24)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE