Share

Vryf is vry

Span jou hande in vir ’n sensuele ervaring soos min: ’n massering wat jou maar brandend van begeerte sal laat
Deur Jonti Searll

Daar’s min wat jy nie met jou hande kan sê nie. Jy kan koester, verlei, troos en terg. Partykeer sê ’n aanraking “Ek is lief vir jou” of “Ek begeer jou”. Soms is dit ’n fluistering: “Ek voel jammer vir jou.” Ander kere ’n gil: “Stop! Moenie naby my kom nie!”

Sensuele massering is wanneer jy deur aanraking plesier gee en ontvang. Só word intimiteit en ’n band tussen twee mense geskep.

Dit verskerp kommunikasie omdat jy nou vingertaal praat. Boonop is daar iets vir al jou sintuie – sig, klank, smaak, aanraking, reuk – wat intimiteit verdiep. Laastens bied massering die geleentheid vir ’n ontdekkingstog van jou maat se lieflike lyf. Lees verder hoe jy hierdie reis die opwindendste nóg kan maak . . .

  1. Skep ’n sensuele atmosfeer

Steek kerse aan, enigiets van drie tot dertig. Selfs in die dag kan kerse ’n spesiale atmosfeer in ’n kamer skep en jou nog meer romanties laat voel. Kies musiek wat tydens die masseersessie gaan speel met sorg. Speel instrumentale musiek saggies in die agtergrond en vermy musiek met woorde, selfs al is dit jul gunsteling-liefdesliedjie.
’n Mens is dikwels geneig om in jou kop saam te sing as ’n liedjie woorde het, en dit kan keer dat jy ten volle op jou maat toegespits is. As jy van wierook hou, steek ’n paar stokkies aan die brand en versier die kamer met roosblare. ’n Skinkbord met versnaperinge, water, sap, wyn, vrugte en sjokolade is ook ’n goeie idee. Hoe meer sintuie gestreel word, hoe beter. Deur ’n romantiese atmosfeer te skep, wys jy vir jou maat dat jy omgee en dat sy of haar plesier vir jou saak maak. Dis een van die kosbaarste geskenke wat jy iemand kan gee.

  • Raak geolie

  • ’n Goeie masseerolie of -room is ’n moet, maar vermy sterk geparfumeerde smeermiddels. Hou ook in gedagte dat mans en vroue van verskillende geure hou. Maak die olie verkieslik voor die tyd warm. En as jy jou maat ook wil warm maak, laat die olie stadig uit ’n dun tuitbeker drup en oor die hele lyf loop. Sorg dat daar genoeg handdoeke is om op te lê. Dinge kan olierig – maar ook lekker – raak.

  • Hemelse blaaskans

  • Voor jy jou minnaar met jou hande aanraak, streel oor sy of haar lyf met jou asem. Dit staan bekend as hemelse massering (bliss body massage) en het sy ontstaan in die liefdeskunsies van die Ooste. Blaas koue en warm asemteue, hard en sag, oral oor jou minnaar se lyf. Die sensasie is ongelooflik intiem en sal julle baie na aan mekaar bring. Dit sal voel asof tyd vir julle stilstaan.

  • Sag en strelend

  • Sensuele aanraking is sag en stadig – dis nie ’n sportmassering nie en jy is nie op soek na knope om uit te knie nie. Die sensuele massering is ’n streling en super-stadig. Hoe stadiger jy streel, hoe meer sal jou maat ontspan. En hoe meer hy of sy ontspan, hoe beter die belewenis. Wanneer jy gereed en jou maat volkome ontspanne is, probeer die sensuele masseringsvolgorde hieronder en maak ook jou eie bewegings op. Dis belangrik dat jy nie ’n enkele beweging meer as vyf keer herhaal nie – dit sal vervelig word en jou maat sal belangstelling verloor.
    Ruggraatreis Begin jou massering op die rug en streel stadig met jou vinger teen die ruggraat op en af.
    Kruistog Maak ’n sirkel met jou palm oor die kruisbeen (die plat been tussen die heupe).
    Handige sensasie Beweeg jou hande oor jou maat se hele lyf: boontoe met ’n hand op elke been, verder teen die rug op, af teen die arms en heelpad terug na die begin.
    Voor(arm)spel Smeer masseerolie aan jou voorarms en gebruik hulle om jou maat se lyf te masseer. Op dié manier kan jy baie meer vel aanraak. Gly-beweeg jou een voorarm boontoe en die ander een ondertoe vanaf die middel van die rug. Beweeg dan albei arms op en af teen die ruggraat.
    Vouvryf Onthou dat al die liggaamsvoue ekstra sensitief is – die gewrig, elmboog, armholte, nek en die vou van die knie. Die voutjies by die boude is ook veral sensitief. Enige aanraking hier – van ’n ferm hand tot ’n sagte vingerstreling – sal ekstra intens wees.

  • Slakkepas

  • As jy jou maat stadig streel, sal dit help dat jy ontspan en meer met jou hande voel. Só sal jy net soveel uit die massering kry as jou minnaar.
    Hou die pas so stadig moontlik. Selfs al gaan die massering uiters intiem raak met seks as die klimaks, moet jy nog steeds jou tyd gebruik en die plesier so lank moontlik uitrek. Hoe stadiger die seksuele spanning opbou, hoe groter die orgasmiese ontploffing. Onthou ook dat ’n vrou meer tyd nodig het om opgewerk te raak as ’n man. Blaas die vlamme van passie stadig aan tot julle heeltemal aan die brand is.

  • Mik reg

  • As jou massering enigsins seksueel van aard gaan wees, moet jou eerste genitale aanraking (eers ná minstens 15 tot 20 minute) veersag wees. Raak die genitalieë saggies aan en beweeg dan weg deur op of af oor sy lyf te streel. Terwyl jy stadig terugbeweeg, sal die afwagting bydra tot die sensasie. Raak hom weer daar aan, net vir ’n oogwenk, en beweeg dan weer weg. Dié tergende tegniek is ideaal om begeerte te laat vlamvat.

  • Ontdek plesierplekkies

  • Almal het natuurlik hul eie, unieke knoppies wat gedruk kan word, dele wat sensitiewer is as ander. Hoe vind jy jou minnaar se plesierplekkies? Dis maklik. Al wat jy hoef te doen, is om te vra. Jy kan dit met woorde of met jou hande doen. Deur te fokus kan jy agterkom hoe jou minnaar se lyf op sekere aanrakings reageer en kan jy nuwe tegnieke en plekke beproef. Maak seker dat jy terugvoering kry sodat jy jou maat gelukkig kan maak.

  • Doen dit met liefde

  • Moenie vanselfsprekend ’n massering terugverwag nie. Partykeer sal julle albei onder mekaar se hande plesier hê, maar ’n ander keer kan dit weer net jou minnaar se beurt wees en moet jy jou kans afwag. Onthou ook dat sensuele massering nie altyd oor seks gaan nie.
    As jul masseersessies altyd in seks eindig, sal dit gou opdroog tot ’n vinnige voorspel. Dit gaan wel oor aanraking en die kuns om ’n band te vorm en ’n kokon van intimiteit te skep. As jou massering uit die hart kom, sal dit nie net vir julle plesier verskaf nie, maar ook jul liefde verdiep.

    Jonti Searll is ’n sensualis van Johannesburg wat onderrig gee in sensuele en erotiese massering. Maak kontak met Jonti by jontisearll@mweb.co.za vir inligting oor lesse en DVD’s.

    Therapeutic massage therapy

    We live in a world where facts and fiction get blurred
    Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
    Join News24 today
    heading
    description
    username
    Show Comments ()
    Editorial feedback and complaints

    Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

    LEARN MORE