Share

Te veel van 'n keuse kan tot eensaamheid lei

Wetenskaplikes het 'n verrassende ontdekking gemaak. Hoe meer opsies jy het as dit by die kies van 'n maat kom, hoe groter die kans dat jy op die ou end droëbek gaan sit.

In 'n nuwe studie het Britse navorsers gekyk na die eienaardige dinamika van keuse by speed-dating, 'n gewilde manier vir enkellopers om maats te ontmoet.

Speed-daters beweeg vinnig deur 'n hele rits aangesig-tot-aangesig ontmoetings, waar hulle elke persoon beoordeel ná 'n gesprek van 'n paar minute, wat deur 'n klokkie beëindig word.

Die assessering van ’n groot aantal kandidate was op sigself nie 'n probleem nie, het die navorsers bevind. Om die waarheid te sê, baie speed daters se reaksie was: hoe groter die keuse, hoe meer potensiële maats.

Hierdie voordeel het egter net gewerk as die beskikbare kandidate basies redelik eners was. Wanneer kandidate te uiteenlopend was, het die speed daters, as gevolg van te veel teenstrydige faktore, verward geraak – en op die ou end niemand gekies nie.

Te veel van 'n keuse lei tot verwarring

"Daar is modelle van menslike 'rasionaliteit' wat die stelling maak dat variëteit 'n goeie ding is," sê navorser Alison Lenton van die Universiteit van Edinburg in Skotland.

"Wat party mense verbasend mag vind, is dat ons resultate aandui dat wanneer ons die verskeidenheid opsies verhoog, dit tot verwarring onder die deelnemers lei. Mense is, wanneer daar te veel van 'n verskeidenheid is, geneig om niemand te kies nie."

Die studie wat in die Britse joernaal Biology Letters gepubliseer is, het 1,868 vroulike en 1,870 manlike deelnemers by 84 kommersiële speed dating byeenkomste bestudeer.

Hoopvolle enkellopers het besonderhede oor hulle werk, opvoedkundige vlak, ouderdom, lengte, gewig en godsdiensverband verskaf, wat navorsers in staat gestel het om die verskille tussen mense te bepaal.

Die vroue se gemiddelde ouderdom was 34.3, en die mans s'n was 35.6. Twintig persent van die vroue en 27 persent van die mans was in professionele of bestuursposisies, en die res het hulself geklassifiseer as onder andere "geskool, maar nie 'n handearbeider".

Speed-daters het in groepe bymekaar gekom en die deelnemers het drie-minuut ontmoetings met tussen 15 en 31 alleenlopers van die teenoorgestelde geslag gehad.

Speed-daters bestudeer

Na die bymekaarkoms het die organiseerder indiwidue bymekaar gesit wat 'n wedersydse belangstelling in mekaar getoon het, en so die weg gebaan vir 'n moontlike afspraak.

Die aanbieders het gevind dat groot speed-dating bymekaarkomste tipies 123 sulke "aanbiedings" of tekens van belangstelling uitgelok het wanneer die kandidate baie in gemeen gehad het. Die getal het egter met meer as 'n kwart na 88 gedaal wanneer die kandidate meer uiteenlopend was.

Klein speed-dating bymekaarkomste het tot 85 aanbiedings gelei, wat egter met byna 'n derde gedaal het wanneer die kandidate uiteenlopend was.

Mans was oor die algemeen meer geneig om 'n aanbod te formuleer – maar was ook meer geneig om deur keuse omvergegooi te word.

Om op te som: verskeidenheid is goed... maar net in hanteerbare dosisse.

Mense weet wat hulle wil hê

"Om verskeidenheid te hanteer, het 'n mens fokus en 'n goeie geheue nodig, en ons het beperkte hoeveelhede van elk," verduidelik Lenton. Om ontmoetings met 10 minute te verleng, sal die resultate waarskynlik nie juis verander nie," voeg sy by.

"Dit is baie algemeen dat ons ander mense vinnig beoordeel, soms binne sekondes. En as daardie besluit eers gemaak is, kan dit baie moeilik wees om te verander."

Amber Soletti wat 'n speed-dating maatskappy in New York bestuur, sê dat om alleenlopers volgens belangstellings of fisiese voorkeure bymekaar te plaas die kanse vir 'n suksesvolle konneksie verbeter.

Haar maatskappy, OnSpeedDating.com, bied 75 voorkeurgroepe soos byvoorbeeld "Asian Persuasion", "Fitness Singles" en "Worldly Singles", d.w.s. mense wat graag reis.

Soletti het die maatskappy begin nadat sy nie daarin kon slaag om enigiemand waarin sy belang stel op algemene speed-dating byeenkomste te ontmoet nie.

"Ek gaan net uit met mans wat 1.85 meter en langer is. Ek het altyd op byeenkomste beland waar daar net korter mans was, en het dus niemand ontmoet nie," het sy gedurende 'n telefoniese onderhoud gesê. "Maar nou, wanneer ek na ons byeenkomste vir lang mense gaan, het ek 'n beter kans om iemand te ontmoet," sê sy.

"Mense weet waarvan hulle hou.” - (Sapa, March 2011)

Lees verder:
'n Gevaarlike afspraak
Suksesvolle wenke vir afsprake

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE