Share

Speel klaar met stres

Die lewe is 'n stresslagveld. As jy voel die spanning kry jou onder is dit dalk tyd om die hulp van 'n professionele stresverligter in te roep.
Deur VICTORIA WILSON

'n Dag in die lewe van 'n dramaterapeut

Die dubbeldeur skuif oop en ek stap die streskliniek binne waar ek die afgelope vyf jaar werk. Dit gaan 'n moeilike dag wees, daarom is ek 20 minute vroeg vir my eerste kliënt. Maar sy is reeds hier – op die punt van die wagkamer se groen bank.

Lindelwe, of Lindi soos sy verkies om genoem te word, lyk van kop tot toon soos die suksesvolle sakevrou wat sy is. Haar klere is byderwets en die helder kleure is opvallend. Tog straal sy nie eintlik selfvertroue uit nie. Lindi is bipolêr – sy ly aan 'n toestand wat gekenmerk word deur abnormale gemoedskommelings wat wipplank ry tussen baie gelukkig en sielsongelukkig en tussen manies en depressief.

Ons glimlag vir mekaar. Ek is bly om te sien haar oë is minder angstig as verlede week. Wanneer ons mekaar groet, is haar stem ook fermer as gewoonlik. In ons vorige sessie het Lindi gesukkel om haar emosies te lug en uiting te gee aan die stryd in haar binneste. Vandag wil ek die gewone terapie opsyskuif  en 'n meer kreatiewe aanslag beproef.

Deur my werk in psigiatriese klinieke het ek dramaterapie-oefeninge geleer en dis wat ek vandag wil inspan.

Toneelspeel tot stresbestuur

Ek het op 'n onkonvensionele manier in stresbestuur beland. Ek het 'n B.A.-graad en 'n diploma in toneelspel behaal en sielkunde was een van my voorgraadse vakke.

Voor ek in dramaterapie begin spesialiseer het, het ek in die teaterwêreld gewerk. In dramaterapie – wat in die 1990's in Brittanje gewild geword het – word pasiënte subtiel gelei en aangemoedig om in 'n veilige omgewing uiting te gee aan hul gevoelens.

Deesdae werk ek saans as 'n ontspanningsterapeut en bedags deeltyds as stresbeheer-fasiliteerder by 'n korporatiewe streskliniek. My werk is nie om kliënte te diagnoseer of hulle gesond te maak met voorgeskrewe medikasie of psigoterapie nie; dis die taak van my kollegas wat medies en klinies opgelei is. My rol is om kliënte te help ontdek wat hul stres veroorsaak.

Ek daag hulle uit en lei hulle om met tegnieke vorendag te kom om hul stres te hanteer, om kommunikasiestrategieë te ontwikkel wat hulle sal help om onafhanklik te vorder, om die balans in hul lewe te herstel en dus ook hul geluk weer te vind.

Beheer oorgee

Ek blinddoek Lindi en lei haar deur die vertrek met die opdrag om die verskillende oppervlakke met haar vingers te verken en nou vinnig en dan stadig te beweeg. Dis 'n oefening in vertroue en die oomblik as sy beheer oorgee, begin haar liggaam ontspan.Teen die einde van ons sessie is ek oortuig sy is op die pad na herstel. Sy lyk gedreineer, maar ligter.

Ek rus 'n bietjie voor my volgende kliënt. Dis belangrik dat ook ek bewustelik ontspan.

Abdullah is maklik die sagste, gaafste mens wat ek al ontmoet het. Maar hy gaan gebuk onder geweldige werkstres weens skielike veranderinge in sy werkomgewing. As gevolg daarvan kry hy angsaanvalle en ly hy aan hewige fisieke en emosionele spanning.

In ons vorige sessie het ons sy lewensverhaal bekyk. Ons het dadelik by mekaar aanklank gevind en hy het glad nie gesukkel om uiting te gee aan sy gevoelens terwyl hy sy storie vertel het nie.

Abdullah het arm grootgeword en voel baie woede oor sy benadeelde status. Op skool het hy hard gewerk en 'n beurs gekry om verder te gaan leer. Toe het hy heel onder in 'n maatskappy begin en hom opgewerk tot 'n senior bestuurspos.

Met die hulp van 'n vroeëre visualiseringsoefening het hy besef hy sleep 'n klomp emosionele bagasie met hom saam. Toe hy dit eers begin uitpak, het hy byna elke tweede sin begin met "Dit help!" of "Ek het nie eens geweet ek voel so nie!"

Daar is seker niks meer bevredigend as wanneer 'n berader hoor hoe 'n kliënt sy verligting uitdruk nie.

Vandag beplan ek om te werk aan strategieë wat hom sal help om beter te kommunikeer. Hy is veral besorg oor hoe hy op sy kinders skree wanneer hy so oorweldig voel. Met rollespel wil ek hom lei om in 'n konfliksituasie eerder beslis as aggressief op te tree.

Abdullah reageer goed op die oefeninge en lewer self 'n waardevolle en inspirerende bydrae. Dit laat my dink aan die sêding "daar is geen terapie sonder terapie vir die terapeut nie".

My volgende afspraak is 'n twee uur lange stresbeheersessie met 17 regeringsafgevaardigdes. Dit word aan die Weskus gehou en ek val in die pad.

Die oorsaak van stres by dié groep is konflik onder mekaar. Op pad soontoe deurdink ek my plan om hulle in klein groepies rollespel te laat doen sodat ons by hul stressnellers kan uitkom. Elke afgevaardigde sal die rol vertolk van die kollega met wie hy of sy nie goed klaarkom nie.

In die vorige sessie was Ricardo, een van die afgevaardigdes, so gestres dat hy voor die groep in trane uitgebars het. Ek is bly om te sien dat hy vandag beter lyk en gereed is om aan die rollespel deel te neem.

Die groep reageer geesdriftig en hoewel die rollespel ernstig is, kry hulle dit reg om humor in te span om konflik op gesonder maniere te benader. Ons lag saam. Almal vertrek met 'n glimlag op die gesig.

Ná ete tuis is dit tyd vir my laaste sessie, dié keer as ontspanningsterapeut. Die psigiatriese pasiënte van 'n Kaapstadse kliniek is my kliënte. Daar is Sally, wat besig is om te herstel van anoreksie en ondersteuning nodig het; Kalen, wat baie depressief instap; en Marietjie, wat duidelik angstig is.

Dis Marietjie se eerste dag by die kliniek. Net voor die sessie het sy gehoor haar beste vriendin het selfmoord gepleeg. Terwyl die drie op hul rug lê om te begin met diep asemhaling, word Marietjie so oorweldig deur haar emosies dat sy wil loop.

My taak is om haar aan te moedig om te bly en deur haar emosies te werk tot sy kalmer voel en gereed is om die wêreld in die oë te kyk. Sy bedaar en ontspan toe sommer maklik. Ek is verbaas, want dit gebeur nie sommer nie. Hoewel Marietjie nie aan al die oefeninge deelneem nie, bly sy vir die hele sessie.

Kalen het 'n paar hewige angsaanvalle beleef en kry dit nie reg om sy bene stil te hou nie. Ek laat hom sekere spiergroepe om die beurt styftrek en ontspan. Stadig maar seker bedaar hy en begin ontspan. Teen die einde van die sessie is hy gefokus, positief en vasberade om die volgende dag nog sessies by te woon.

Ek kan sien Sally voel vanaand sterk. Ek laat doen haar visualiseringsoefeninge wat sy kan gebruik as sy by die huis weer wankelrig voel.

"Praat van food for thought," spot sy. "As ek weer obsessief oor kos raak weet ek watter oefeninge om te doen!"

Toe ek vertrek, is ek moeg, maar ek voel springlewendig. My werk is so 'n lonende ervaring. Dit help mense om hul stres, woede en angstigheid te bestuur deurdat hulle geleer word om hulself te help.

En die waarheid is: Dis die beste terapie vir die terapeut.

Kom so tot rus

'n Vriend wat 'n kliniese sielkundige is, het my dié vyf wenke gegee:

1. Leer mediteer of ontspan deur diep asem te haal. Leer jouself om hierdie tegniek in te span wanneer die wêreld jou oorweldig.

2. Kweek ontspannings- en sosiale netwerke wat pret en plesier in jou lewe kan meebring. Sluit negatiewe mense uit jou lewe uit.

3. Sorg dat jy minstens een keer per week in die natuur kom. Omring jou met natuurfoto's, veral prente wat baie groen bevat.

4. Leef in die oomblik. As jy gedurig in die verlede grawe, kan dit depressie veroorsaak, terwyl jy angstig kan word as jy te veel aan die toekoms dink.

5. Pas tydsbestuur tuis en by die werk toe. En leer om nee te sê!

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE