Share

Sou Jonker vandag geleef het?

My lyk lê uitgespoel in wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was*

Afrikaanse digter Ingrid Jonker het hierdie profetiese woorde geskryf meer as tien jaar vóór die noodlottige nag van 19 Julie 1965 toe sy by Driankerbaai die see ingeloop het. Sy was 31.

Baie mense wat na aan haar was, was nie verbaas oor die selfmoord nie. Sy het verskeie kere gedreig om haar lewe te beëindig.

Jonker, die begaafde digter wat drie volumes gedigte die lig laat sien het, insluitende die gedig The Child (beeldmateriaal onder) wat Nelson Mandela tydens sy inhuldigingstoespraak in die parlament op 24 Mei 1994 gelees het, het 'n lang geskiedenis van geestesversteuring gehad.

Party mense meen dat sy aan major depressie gely het; ander sê dat sy vandag met bipolêre geestesversteuring gediagnoseer sou gewees het. Boesemvriende spekuleer dat haar geestelike probleme hul oorsprong gehad het by haar mislukte verhouding met haar pa wat haar op 'n vroeë ouderdom verwerp het, en wie se liefde sy in haar volwasse jare nog steeds probeer wen het. Hulle spekuleer dat sy probeer het om hierdie verwerping te "herstel" deur romantiese verhoudings met mans – insluitende die skrywers Jack Cope en Andre P. Brink. Hierdie verhoudings was ongelukkig almal stormagtig en onvervuld en het miskien selfs die gevoel van verwerping wat sy ondervind het toe haar pa haar verlaat het, beaam.

Jonker vandag

As Jonker vandag gelewe het, sou sy 'n beter kans op herstel gehad het?

"Heel moontlik," sê 'n Kaapstadse psigiater, Dr. Bennie Steyn. "Dit is omdat die behandelingsopsies en ondersteuning vir mense met geestesversteurings oor die jare aansienlik verbeter het."

"Vroeë diagnose is uiters belangrik. As iemand se toestand vroeg korrek gediagnoseer word en hulle vroegtydig behandeling ontvang, is hulle kanse op herstel soveel beter," sê hy.

In die vyftigs en sestigs was geestelike afwykings nog steeds taboe en hoogs gestigmatiseer en daar is min gedoen om die publiek hieroor op te voed. Dit is moontlik dat Jonker se toestand nie waargeneem is nie en dus lank onbehandel gebly het.

Die hedendaagse diagnostiese stelsel is ook heelwat meer gesofistikeerd as in Jonker se tyd. Die Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesafwykings waarna klinici verwys wanneer hulle 'n diagnose maak, het pas die lig gesien. Die vierde uitgawe is tans in gebruik en die vyfde verskyn binnekort.

"Ons is deesdae bewus van 'n groter spektrum gemoedstoornisse, en behandeling is meer spesifiek. Pasiënte het ook die voordeel van 'n groter verskeidenheid psigiatriese medikasie."

Behandeling

Jonker is moontlik met die ou trisikliese antidepressante behandel. Hierdie middels is baie effektief vir die behandeling van depressie en word steeds gebruik, maar hulle het irriterende newe-effekte wat daartoe lei dat baie mense ophou om dit te gebruik. Een van die grootste nadele van trisikliese middels is dat hulle dodelik kan wees in groot hoeveelhede, en dus nie die behandeling van keuse vir iemand met selfmoordneigings is nie. Elektrokonvulsiewe terapie (EKT) wat Jonker ondergaan het, word ook vandag nog gebruik – maar baie meer selektief en gewoonlik net wanneer ander behandelingsmetodes gefaal het.

Die toestande in psigiatriese inrigtings soos Valkenburg Hospitaal waar Jonker opgeneem is, het ook verander. Die nuwe Wet op Geestesgesondheidsorg benadruk die menseregte en vryheid van pasiënte en moedig gemeenskapsorg aan. Pasiënte het meer regte en dié wat die vermoë het om besluite te neem, het die reg om behandeling te weier. Ongelukkig is daar ander probleme soos gebrek aan ruimte en hulpmiddels.

"In Jonker se tyd was daar 'n aktiewe groep wat teen psigiatrie gerebelleer het. Baie skrywers en kunstenaars van daardie tyd het geestesversteurings 'geromantiseer' en dit as 'n reis na selfontdekking beskou. Hulle het sielkundige behandeling en die neiging om dit as 'n siekte te klassifiseer, gekritiseer. 'n Kreatiewe persoon soos Jonker wat met probleme met konvensionaliteit gehad het, moes dit baie moeilik gevind het om in 'n afgeslote omgewing soos Valkenburg toegesluit te wees. As 'n anti-apartheid-aktivis het sy moontlik ook nie gehou van die rasse-segregasie wat op daardie stadium die beleid van die hospitaal was nie."

Jonker se nalatenskap

Selfmoord is deesdae net so 'n groot realiteit soos dit in Jonker se tyd was. Mense is egter vandag baie meer bewus van die onderliggende breinprosesse en chemiese wanbalanse wat tot geestesafwykings lei, en dit het dit makliker gemaak vir mense om behandeling te soek en voordeel te trek uit ondersteuningsgroepe.

Jonker se nalatenskap is ryk en uiteenlopend en sluit die sjarmante gediggies in wat sy vir haar dogter Simone geskryf het, sowel as donkerder stukke wat getuig van haar eie stryd, asook haar enorme empatie met ander mense se lyding. 'n Gedig soos I am with those is vandag net so relevant vir mense wat met geestesafwykings sukkel as wat dit destyds was:

I am with those
who abuse sex
because the individual doesn't count
with those who get drunk
against the abyss of the brain
against the illusion that life
had once been beautiful or good or sacred
against the garden parties of falseness
against the silence beating at the temples
with those who poor and old
race against death the atom bomb of the days
with those stupefied in institutions
shocked with electric currents
through the cataracts of the senses
with those whose hearts have been removed
like the light from the robot of safety

with those coloured african deprived
with those who kill
because every death confirms anew
the lie of life
and please forget
about justice it doesn't exist
about brother hood it's deceit
about love it has no right

- Ilse Pauw, Health24, hersien Julie 2011

*My corpse lies washed up in grass and wrack
wherever memory should call us back

 Lees verder:
Die bipolêre wipplank
Om te praat of nie

Besoek ons Depression Centre

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE