Share

Sheen bipolêr?

In die groot aantal artikels wat tans op die web oor Charlie Sheen se media manewales verskyn, word daar ywerig gespekuleer oor of dít wat ons sien dalk 'n manifestering van bipolêre afwyking is, of miskien die resultaat van die formidabele dwelm- en alkoholinname waaroor hy so spog.

Kom ons kyk indringend na hierdie moontlikhede.

Bipolêre afwyking

Daar was nie onlangs of in die verlede enige berigte oor depressiewe fases wat kan help om geloofwaardigheid aan hierdie diagnose te verleen nie. Sy onlangse gedrag is egter baie soortgelyk aan dié van iemand in 'n erge en langdurige maniese fase.

Vir die meeste van ons is depressie nie onbekend nie, ten minste nie die ligter vorm daarvan nie. Manie (gewoonlik die ligter Hipomanie) is gewoonlik eufories – jy voel fantasties, om die waarheid te sê veels te goed en jy't hope energie. Jy is egter prikkelbaar, slaap te min en ly dikwels aan grootheidswaan (jy dink jy's wonderlik en baie belangrik) en/of paranoia (samesweringsteorieë en wantroue van ander mense en hul motiewe). Die euforie is nie noodwendig permanent nie en kan omswaai na 'n baie onaangename disforie.

'n Gebrek aan gesonde oordeel en omsigtigheid is baie algemeen, en dit beteken nie soseer dat jy nie die akkuraatheid van jou realiteitspersepsie bevraagteken nie, maar eerder dat jy nie die realiteit en deurvoerbaarheid van jou "blink" idees ondersoek nie.

Toe ek byvoorbeeld in Londen gewerk het, het ek 'n handelaar behandel wat my kom sien het kort nadat sy maniese fase begin het. Hy het my vertel dat hy so pas die wêreldmark vir varkhaar (wat vroeër vir die maak van borsels gebruik is en in onbruik verval het) ingepalm het. Hy het 'n fortuin spandeer om dit reg te kry en was vol vertroue dat die hele wêreld, of ten minste die hele wêreld se borselvervaardigers, sou toustaan om hierdie produk te koop. Dit het natuurlik nooit gebeur nie. Maar soos baie mense ná so 'n maniese fase sê: "Op daardie stadium het dit soos 'n goeie idee geklink."

Realiteitstoetsing

Mense het gehoor hoe Sheen 'n paar belaglike dinge kwytraak soos dat hy uniek, en op 'n bomenslike vlak, baie spesiaal is. Dit sluit in dat daar tier-bloed in sy are vloei en dat hy "Adonis DNA" het! My genade, het hy onlangs in die spieël gekyk?

Hierdie idees kan beslis as grootheidswaan geklassifiseer word. Dit kan egter ook halfgebakte pogings wees om snaaks te wees deur iemand wat goed is om humor wat deur ander mense geskryf is, oor te dra, maar wat self nie in staat is om so iets uit te dink nie, en ook nie agterkom hoe min byval sy kommentaar by ander vind nie. Iemand wat so ryk is, word dikwels deur jabroers of "ha-ha-broers" omring wat altyd vir sy grappe sal lag.

By gewone mense heg ons baie waarde aan hulle vermoë om "realiteit te toets". Hierdie vermoë is moeiliker om te assesseer in die geval van persone wie se omstandighede en omgewing hulle toegang tot die werklike realiteit beperk, en wat boonop deur die mense wat hulle vertrou en glo, verseker word dat hulle verwronge opvattings eg en geldig is.

Sheen het in 'n televisieonderhoud op ABC die volgende kwytgeraak: "Leen 'n bietjie vir vyf sekondes my brein en ek sê jou, jy sal dit nie kan hanteer nie. Jy sal sê: 'Skakel dit af! Hierdie brein skop idees uit soos iets uit 'n ander dimensie'."  Dit klink ongetwyfeld soos manie of iemand wat hoog is op kokaïen.

Wat, ek bipolêr?

Toe iemand voorstel hy is dalk bipolêr, was sy reaksie blykbaar: "Sjoe! Wat beteken dit? Vaderland! Wat nou? Wat doen ek? Medisyne? Dan word ek soos die res? Nooit nie! Bipolêr is 'n wenner. Ek wen hier en ek wen daar. Wat nou? As ek bipolêr is, is daar mos tye wanneer ek inmekaarstort en in 'n hoekie gaan sit en dink alles is my ma se skuld? Hou op! Hou jou bek. Hou net koers!"

Die deel hiervan wat die meeste klink soos iemand met bipolêre afwyking is die verwerping van medisyne as iets wat hom "soos ander mense" sal maak. Die lewe is veels te veel pret en jy wil nie jou energievlakke beperk nie, en jy is moontlik so oortuig van jou eie uniekheid dat jy enigiets wat jou soos die res van die mensdom mag maak, sal verwerp. Hy verwys ook heel moontlik na die feit dat daar nie 'n depressiewe fase is nie.

Kokaïen

Kokaïen-gedrag kan soos manie lyk, maar het ook fisiese tekens en simptome wat hopelik, indien dit in hierdie geval die probleem is, deur iemand gekontrolleer word: hartklop- en bloeddrukveranderinge, vergrote pupille, gewigsverlies, ens.

Veral as iemand bipolêre neigings het, kan die gebruik van stimulante en kokaïen tot manie lei. Dit kan 'n bose kringloop word. Mense wat sleg voel as gevolg van 'n geestelike afwyking mag "selfmedikeer" met alkohol, dwelms of seks; en die misbruik hiervan kan sielkundige afwykings aanhelp of vererger. Die probleem met hierdie diagnose is dat hy blykbaar ten minste twee bloedtoetse wat deur mediagroepe uitgevoer is, geslaag het, wat dit onwaarskynlik maak dat hy op die oomblik dwelms gebruik. Grootskaalse, chroniese dwelmmisbruik kan egter langtermyngevolge hê.

Daar is, om die waarheid te sê, baie moontlike verduidelikings vir die situasie. 'n Doodgewone gebrek aan slaap by iemand wat stimulante gebruik en aan ander buitensporige aktiwiteite deelneem, kan hierdie soort scenario veroorsaak. Dieselfde geld vir kombinasies van onwettige dwelms, met of sonder voorskrifmedisyne; dit kan ook onttrekkingsimptome van alkohol of dwelms wees.

Die Joaquin Phoenix-sindroom

Ons het onlangs gesien hoe ’n ander Hollywood akteur, Joaquin Phoenix, maande lank ernstige sielkundige afwyking naboots om 'n film te skiet (I'm Still Here, geredigeer deur Casey Affleck) oor hoe mense teenoor hom reageer. Phoenix was baie oortuigend op die Letterman Show, maar, gebaseer op sy loopbaan tot dusver, twyfel 'n mens of Sheen goed genoeg kan toneelspeel om so iets na te maak. Hierdie moontlikheid moet egter by die lys van moontlike diagnoses gevoeg word.

Narcissisties? Moi?

'n Paar deskundiges het al versigtig aangevoer dat hy miskien 'n Narcissistiese Persoonlikheidsafwyking het. Dit is 'n baie oortuigende diagnose – maar is dit nie in elk geval byna 'n voorvereiste vir ’n suksesvolle Hollywood-loopbaan nie?

'n Blogger (Spiked Online) lewer die volgende baie onakkurate kommentaar: "Hy is my held omdat hy weier dat sy gedrag sielkundig geanaliseer word. Hy weier om die knie te buig voor die altaar van 'Oprah-lite' sielkunde-gebabbel en blameer sy manewales op sy 'innerlike demone'. Hy baklei kliphard teen deskundiges se pogings om hom as 'versteurd' te brandmerk en het hom in die proses tot 'n 'eenman-leër' verhef om die tirannie van die terapie, waaronder die een-en-twintigste eeu ly, die hoof te bied."

Geen deskundiges van watter aard ook al het ooit belanggestel om hom met enige soort afwyking te brandmerk, tot sy baie bewuste en openbare gedrag ander mense daartoe genoop het om dié deskundiges te vra hoe hulle hierdie soort selfvernietigende gedrag sou verduidelik nie. En hy het ook al ander mense skerp gekritiseer omdat hulle hom nie probeer help nie.

Terwyl hy die irriterende cliché van Oprah se magdom beroemdes wat met oë vol trane oor hulle verskeie probleme en afwykings uitwei, vermy, maak hy hom skuldig aan die alternatiewe cliché van die hedonistiese, egoïstiese, self-destruktiewe ster. En hy verwag dat hy, gebaseer op niks meer as sy rykdom en ster-status, vrygestel is van die wette en reëls waaraan die res van ons wat nie tier-bloed in ons are het nie, onderworpe is. Hoe dit ook al sy, hy is 'n baie oneffektiewe en onwelsprekende stryder teen psigoterapie – en ontsaglik vervelig.

Sulke pogings om gevaarlike selfverwaarlosing as heroïese weerstand uit te beeld, ignoreer die feit dat die meeste van hierdie toestande, insluitende onbehandelde manie en chroniese kokaïengebruik, gevaarlik is en tot die dood kan lei. Dit is nie bewonderenswaardig nie en verdien beslis geen applous nie.

(Professor M.A. Simpson, alias CyberShrink, Maart 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE