Share

Selfmoord in SA neem toe

Sewentien jaar ná die demokratiese oorgang sukkel Suid-Afrika steeds met ekonomiese stres, politieke onsekerheid, misdaad en sosiale transformasie – wat beteken dat baie van die land se burgers gestres en naby breekpunt is.

Volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) sterf daar wêreldwyd elke jaar ongeveer een miljoen mense aan selfmoord, en volgens voorspellings sal hierdie syfer teen 2020 tot omtrent 1.53 miljoen mense per jaar styg. Professor Lourens Schlebusch, 'n Suid-Afrikaanse outoriteit oor stres en selfmoord, sê dat, alhoewel baie selfmoorde en mislukte selfmoorde nie gerapporteer word nie, Suid-Afrikaanse selfmoordstatistieke oor die algemeen kommerwekkend is.

Volgens Prof. Schlebusch toon onlangse navorsing in die land dat selfmoord gemiddeld vir 9.5% van nie-natuurlike sterftes by jongmense, en 11% by volwassenes verantwoordelik is.

Daar word algemeen aanvaar dat selfmoord hoofsaaklik onder vroue voorkom, maar volgens SADAG (South African Depression and Anxiety Group) en Prof. Schlebusch is die syfer egter hoër by mans as by vroue. "Ons kry meer oproepe van mans wat depressief en gestres is, dikwels oor finansiële kwessies, sê SADAG se Cassey Chambers."

Verskuiwing van oud na jonk

Stres en depressie lei ongelukkig tot verhoudingsprobleme en gevaarlike gedrag. Talle Suid-Afrikaanse studies koppel familieprobleme en interpersoonlike konflikte met selfmoordgedrag, asook toestande soos gemoedsversteurings en middelmisbruik.

Mans toon dikwels hulle stres deur te hard te werk, te drink en by buite-egtelike verhoudings betrokke te raak – hulle toon aggressie, eerder as depressie. Vyf keer meer mans pleeg selfmoord as vroue; hulle maak ook oor die algemeen van meer dodelike vorms van selfmoord gebruik, soos vuurwapens, of hulle hang hulself op.

Daar het in Suid-Afrika 'n verskuiwing in selfmoordgedrag plaasgevind, van ouer tot jonger mense. Die gemiddelde ouderdom vir selfmoord is ongeveer 35 en byna een derde van alle onsuksesvolle selfmoord-pogings vind by adolessente plaas. SADAG se skool-gebaseerde tienerselfmoord voorkomingsprogram "Suicide shouldn't be a secret" – wat deur die Lotto befonds word – poog om die hoë voorkoms van tienerselfmoord in Suid-Afrika deur opvoeding en bewustheid te verlaag.

SADAG help tieners met selfmoordgedagtes

"Tienerselfmoord is 'n voorkombare tragedie en alleen deur de-stigmatisering en opvoeding, bv. deur om onderwysers en portuurgroepe te leer om waarskuwingstekens te herken en in te gryp, kan ons lewens red," sê Chambers. "Ek was regtig op moedverloor se vlakte en wou net nie aangaan nie," sê 16-jaar-oue Charles.

"Ek het gedink die lewe gaan net nie beter word nie en het dit werklik oorweeg om myself dood te maak. Ek het vir niemand gesê hoe ek voel nie omdat ek bang was hulle sou vir my lag of op my skree. Ek is seker SADAG was vir my net op die regte tyd daar!"

SADAG bestuur ook die land se enigste tolvrye selfmoord krisis-telefoonlyn - 0800 567 567 - sewe dae per week, van 8 vm. tot 8 nm. Vyftien-jaar-oue Tembi sê: "Sonder SADAG is ek nie seker hoe ek die hulp sou kon kry wat ek nodig gehad het nie. Ek het dit regtig oorweeg om myself van die gras af te maak. Ek wou nie hier wees nie; ek wou werklik doodgaan.

"Daar was op daardie tydstip baie tekens wat ek net nie raakgesien het nie. Ek het gedink dat dit net deel van die grootword-proses was, van tiener-wees. Nou dat ek hulp gekry het, kan ek ook my vriende help."

Selfmoord dwarsoor die wêreld aan die toeneem

Volgens Prof. Schlebusch se navorsing, verskil selfmoord-metodes na gelang van sosio-demografiese groepe. Tussen 34% en 43% van selfmoorde behels ophang, tussen 29% en 35% behels vuurwapens, tussen 9% en 14% van slagoffers neem gif, tussen 6% en 7% vergas hulself, tussen 2% en 4% kies verbranding en tussen 2% en 4% spring van gebou of ander hoë plekke af.

Wat onsuksesvolle selfmoord-pogings betref, is by verre die mees populêre metode 'n oordosis van 'n aard. Oor-die-toonbank pynpille en voorskrifmedisyne word algemeen gebruik, asook huishoudelike gebruiksitems soos paraffien, skoonmaakmiddels, insekdoders en verskillende soorte gif.

Selfmoord is 'n toenemende probleem in ontwikkelde en ontwikkelende lande. Daar was tussen 1950 en 1995 ongeveer 'n 60% styging in selfmoord-pogings, van 10.1 per 100,000 tot 16 per 100,000 van die wêreldbevolking, en selfmoordgevalle het met omtrent 49% vir mans en 33% vir vroue gedurende dieselfde tydperk gestyg.

Wêreld Selfmoord Voorkomingsdag

Daar is dikwels 'n gebrek aan bewustheid van hoe algemeen selfmoord is. Om bewustheid oor die aangeleentheid te verskerp, hou SADAG 10 September 2011 Wêreld Selfmoord Voorkomingsdag. As deel van die verrigtinge hou die Durban Noord Krisisspan (ondersteun deur SADAG en die WGO) hulle vierde jaarlikse Selfmoord Herinneringswandeling in Umhlanga.

Die "Into the Light Walk" fokus die publiek se aandag op die begrip van selfmoord en beklemtoon effektiewe voorkomingsaktiwiteite, en wandel ter nagedagtenis aan diegene wat deur selfmoord oorlede is. Dit is 'n geleentheid om vertroosting te vind en mense te ontmoet wat elke dag die pad van heling en herstel wandel.

Die wandeling neem op 11 September om 08:30 by die C J Saunders Park in Umhlanga plaas. Tree asb. met Joy by intothelight.walk@gmail.com in verbinding vir meer inligting.

"Toe ek SADAG geskakel het, was ek vir 'n week werklik na aan selfmoord en het die verskriklikste nagmerries gehad. Dit is moeilik vir my om daaroor te praat, maar dit het gehelp om uiting te gee aan hoe ek gevoel het en hoekom," sê Thabo.

Selfmoord en die MIV/vigs skakel

"Ek het een aand beplan om selfmoord te pleeg en toe begin bekommerd raak oor my twee lieflike meisies. Ek wou nie hê hulle moes ly nie – wie sou vir hulle sorg? Die berader met wie ek gepraat het, het my aangemoedig om 'n sielkundige te gaan spreek en my moed ingepraat dat die lewe beter sou raak, en dit hét," sê Belinda.

Suid-Afrika is 'n land wat vinnige transformasie, 'n finansiële omwenteling en 'n gesondheidskrisis (verskeie studies meld 'n skakel tussen selfmoordgedrag en MIV/vigs) beleef. Prof. Schlebusch sê ons moet hierdie Wêreld Selfmoord Voorkomingsdag die feit in ag neem dat ons verskeie stresfaktore in ons land het en dat geestesafwykings oor die algemeen steeds hoogs gestigmatiseer word en dat daar baie wanbegrippe daaroor bestaan.

(Sapa, September 2011)

Lees verder:
Selfmoord
Stres

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE