Share

Middeljarigheidskrisis

As jou man hom in die middel van ’n middeljarigheidskrisis bevind, kan dit een van die verwarrendste en onaangenaamste tye van jou lewe wees – én van syne. Nie net wonder ’n mens hoe iemand wat jy gedink het jy so goed ken soveel kon verander nie, maar ook hoekom hy so aaklig met jou is.   

"Dit is nie ’n maklike tyd vir enige paartjie nie,” sê Ilse Terblanche, ’n sielkundige van Kaapstad. Vroue gaan deur menopouse en dit is ook dikwels die tyd wanneer die kinders in die huis adolessensie bereik. Mans se skynbaar moeilike gedrag kan deur depressie of ’n gevoel van ontoereikendheid aangedryf word. Wanneer die kinders die huis verlaat, kan mans ook voel dat hulle rol as beskermer verby is. Dinge kan gevolglik oor die algemeen redelik moeilik wees.” 

So, wat is die tekens dat jou man moontlik met ’n middeljarigheidskrisis te kampe het?

Ontrouheid. Mans voel dat hulle viriliteit aan die afneem is namate hulle ouer word, en voel dus die behoefte om hulle manlikheid te ‘bewys’. En watter beter manier om dit te doen as met die nuwe twintigjarige sekretaresse? Baie mans wat hulle hele lewe lank getrou was, ontwikkel skielik in hul veertigs of vyftigs ’n neiging om rond te loop, tot groot nadeel van hulle familielewe. Die soort vrou agter wie hulle aanloop, is dikwels nie regtig hulle tipe nie, maar sy is byna sonder uitsondering jonk en mooi. Dit is die kwaliteite wat hy voel sy manlikheid bewys.

Skielike belangstelling in en verandering van sy voorkoms. ’n Man wie se idee van modebewustheid altyd ’n enkele, jaarlikse inkopietog na ’n kettingwinkel was, sal skielik modebewus word en klere begin dra wat ontwerp is vir mans die helfte van sy ouderdom. Sy hare sal skielik gekleur word, of die styl verander word, of sy oeroue gym-kontrak hernieu word. Hy staan ook tydig en ontydig voor die spieël. 

Herlewing van jeugdige gedrag. Jou man toon skielik ’n belangstelling in moderne musiek, of gaan na plekke waar jongmense gewoonlik uithang. Of hy herontdek na vele jare ou belangstellings, en ou vriende wat hy jare laas gesien het, maak weer hul opwagting. Baie middeljarige mans wat nooit uitgevind het hoe die wasmasjien of mikrogolf werk nie, raak ewe skielik vertroud met die nuutste kommunikasie-tegnologie soos SMS en e-pos, veral as hulle ’n buite-egtelike verhouding het.

Skielike depressie. Die middeljare is vir baie mans ’n tyd van refleksie. Mikpunte wat hulle in hul tienerjare en twintigs gehad het, en wat hulle nooit bereik het nie, kan die oorsaak van depressie wees, aangesien baie mans glo dat wat hulle op ouderdom 50 nie bereik het nie, hulle waarskynlik nooit gaan bereik nie. Party mans raak ook skielik bewus van hulle sterflikheid en vind dit moeilik om te hanteer. Baie mans het ook ’n plato in hulle loopbane bereik en verlang terug na hul dae van glorie. Hulle het ook baie familieverantwoordelikhede gedurende hierdie tyd in hul lewens, wat oorweldigend kan wees.

Gebrek aan belangstelling in eggenoot/gesin. As jou eggenoot skielik alle seksuele belangstelling in jou verloor, of net alle belangstelling in julle gesinslewe, behoort dit ’n waarskuwingsteken te wees. Die gebrek aan seksuele belangstelling kan ook die teenwoordigheid van ’n ander vrou beteken, of onsekerheid oor seksuele toereikendheid. ’n Gebrek aan belangstelling in seks kan ook ’n teken van depressie wees. Aan die ander kant kan nuwe seks-tegnieke wat jy nie ken nie, of ’n hernieude belangstelling in julle seksuele verhouding die teenwoordigheid van ’n ander vrou aandui. 

’n Verandering in sosiale patrone. As jou man nog altyd ’n Jan Tuisbly was en ewe skielik kroeë en klubs begin besoek, en vir die eerste keer saam met die ‘manne’ begin uitgaan, is dit beslis ’n middeljarigheidskrisis. ’n Verandering in sosiale patrone dui gewoonlik aan dat daar iets ongewoon aan die gebeur is.  

’n Skielike verandering in alkoholgebruik. Baie jong mans drink kwaai, en as jou man skielik meer as gewoonlik begin drink, kan hy sy verlore jeug probeer terugwin, of sy nuwe drinkgewoontes kan ’n weerspieëling wees van waar en saam met wie hy uithang. Hy kan ook gestres of depressief wees, wat ook tot verhoogde alkoholinname kan lei.

Skielike impulsiewe besluite. Dit is ’n duidelike teken van ’n middeljarigheidskrisis. Skielike, beduidende veranderings word gemaak, soos sy werk bedank, emigrasie, die huis verkoop, ’n egskeiding, ens. Gewoonlik sonder oorlegpleging met sy eggenote.

So, hoe oorleef jy jou man se middeljarigheidskrisis?  

"Baie huwelike oorleef nie hierdie moeilike tye nie, veral as die man ’n persoonlikheidsverandering ondergaan en konstant ontrou is,” sê Terblanche. “Huweliksberading en medikasie in die vorm van antidepressante kan help om die stres van hierdie baie moeilike tyd, wanneer baie huwelike skipbreuk ly, te verlig.”   

- (Susan Erasmus, Health24, Oktober 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE