Share

In die kop van 'n monster

Psigopate ken geen medelye nie, het geen gewete nie en toon geen berou nie. Nie wanneer hulle keer op keer moor of jou om die bos lei om presies te kry wat hulle wil hê nie. En die ergste van alles is dat hulle jou baas, vriend of selfs eggenoot kan wees. Sal jy ooit een herken as jy hom sien?
Deur ROMI BOOM vir Huisgenoot-POLS

Party misdade is so skrikwekkend en word op so 'n koelbloedige manier gepleeg dat ons instinktief aanvoel dit kan net die werk van 'n monster wees.

Ons praat van 'n mens wat op die oppervlak heel normaal lyk, maar iemand kan doodmaak en dan heerlik gaan vleisbraai.

Of die reeksmoordenaar wat die ontbindende oorblyfsels van sy slagoffers in sy klinies netjiese woonstel hou. Of die misdadiger wat 'n huis of motor aan die brand steek en dan staan en toekyk hoe mense doodbrand.

Net mense sonder 'n gewete of 'n sprankie medelye kan tot sulke dade in staat wees.

Dít is wat psigopatiese moordenaars so angswekkend doeltreffend maak. Op die oppervlak lyk en tree hulle soos normale mense op – maar van binne is hulle koud, berekend en gevoelloos.

Wat 'n mens nog banger maak, is dat tensy hulle 'n misdaad pleeg en as 'n psigopaat gediagnoseer word, hulle deel van die normale samelewing kan bly. Hulle kan een van jou kollegas, 'n lid van jou saamryklub, 'n ouderling in jou kerk of 'n ouer by jou skool wees.

Psigopate word net dodelik wanneer jy iets het wat hulle begeer. 'n Posisie by die werk. 'n Plek in die samelewing. 'n Goeie huwelik. Dan begin hulle genadeloos konkel om te kry wat hulle wil hê.

Niemand is beter daarvoor toegerus om te verduidelik wat in die kop van 'n psigopaat aangaan nie as prof. Jan Viljoen, 'n spesialis-psigiater van Kaapstad. (Jan Viljoen is nie sy regte naam nie – om regs-professionele redes verkies hy 'n skuilnaam.)

Jan het reeds duisende misdadigers geëvalueer en 'n internasionale reputasie deur sy werk met die polisie en die howe opgebou. Binne dae ná die tweede moord wat deur die sogenaamde Stasiemoordenaar gepleeg is, kon hy vir die polisie sê watter soort mens hulle moet soek. Dié psigopatiese reeksmoordenaar het van 1986 tot 1994 die Kaapse Vlakte geterroriseer.

Die liggame van nie minder nie as 22 seuns is met hul gesig na onder en hul hande agter hulle rug vasgebind in vlak sandgrafte aangetref.

Die moordenaar na wie julle soek, het Jan gesê, kan 'n onderwyser wees, die gaafste man denkbaar, wat sonder moeite jong seuns van videowinkels en speletjiesarkades na stasies kan lok. Die 38-jarige Norman Simons, wat later skuldig bevind is op een aanklag van moord, het perfek by dié profiel gepas.

Psigopate kan tog te sjarmant wees – soos die Amerikaner Jeffrey Dahmer, die kannibaal-moordenaar wat in 1991 vasgetrek is nadat hy sewentien mans en seuns verlei en vermoor het.

Die polisie het afgekapte liggaamsdele in sy vrieskas en op ander plekke in sy andersins pynlik netjiese woonstel gevind. Jan het 'n onderhoud met hom gevoer en sê Dahmer het net soos 'n werker in 'n sjokoladefabriek gelyk – wat hy natuurlik wás.

Dis g'n wonder dat dié psigopatiese moordenaar die polisie kon oortuig om 'n naakte jong seun wat dit reggekry het om uit sy kloue te ontsnap, aan hom terug te besorg nie. Nadat die polisie weg is, het hy die verdoofde seun verwurg en uitmekaargekap.

Wie is dié psigopate?
Die versoeking is groot om moordenaars soos Dahmer, Jack the Ripper, Simons, Skroewie van der Merwe, Marlene Lehnberg en Daisy de Melcker as gevolg van hul hartelose dade as psigopate te bestempel. Maar psigopate is nie noodwendig koelbloedige moordenaars nie.

Ons ken almal mense met psigopatiese neigings wat gevoelloos ander om hulle gebruik en manipuleer. Baie van ons moet selfs hulpeloos tuis of by die werk met hul mishandeling saamleef. Sulke psigopate pleeg dalk nie misdade nie, maar hulle kan die lewe van die mense om hulle ernstig versuur omdat hulle sulke uitgeslape manipuleerders is.

Dit is 'n feit dat een uit elke honderd mense psigopatiese neigings het. Dit beteken dat daar in 'n skool met driehonderd kinders moontlik drie psigopate is. Een van jou honderd kollegas kan een wees.

Wat maak iemand dus 'n psigopaat, behalwe die feit dat hy dalk daartoe in staat is om mense sonder enige meegevoel dood te maak?

Deskundiges stem saam dat psigopate geen emosies, gewete of berou toon nie. Hulle kan die vermoë hê om voor te gee dat hulle emosies het sodat hulle hul doelwitte kan bereik, maar het nooit meegevoel vir iemand anders se pyn nie. En hulle sal sonder om vir 'n sekonde te aarsel 'n blatante leuen vertel.

Jan voltooi die prentjie deur te sê psigopate is lief vir hulleself en niemand anders nie. Hulle is impulsief, irrasioneel en vertel dikwels leuens. Hulle is onbetroubaar, onbedagsaam en sal keer op keer dieselfde oortreding herhaal omdat hulle nie die vermoë het om uit hul ervarings te leer nie. Hulle raak vinnig verveeld en gefrustreerd en kan regtig naar en aggressief wees.

Klink dit bekend?
Teen dié tyd wonder jy miskien al oor familielede, vriende, bure en kollegas. Maar is hulle almal psigopate?

"'n Mens moet versigtig wees om nie net op een eienskap te fokus en te sê iemand is 'n psigopaat nie," waarsku Jan. Dit is uiters moeilik om 'n psigopaat te identifiseer.

"Iemand kan immoreel, impulsief, 'n leuenaar en antisosiaal wees, maar steeds nie 'n psigopaat nie. En niemand is 'n suiwer psigopaat nie. Dit is nie 'n geval van alles of niks nie. Jy kan eienskappe van psigopatie toon sonder om tot die uiterste van geweldsmisdaad oor te gaan."

Hy voeg by: "Wees versigtig om nie die term 'dekselse psigopaat' te gebruik om na alle misdadigers of onaangename en ongevoelige mense te verwys nie. Die grootste gevaar is as mense veralgemeen wanneer hulle 'n diagnose maak waarvoor hulle nie gekwalifiseer is nie. Al die simptome wat op psigopatie dui, kan ook deel uitmaak van 'n ander toestand."

Psigopate is byvoorbeeld daarvoor bekend dat hulle onmiddellik moet kry wat hulle wil hê. En hulle raak gewelddadig as dit nie gebeur nie. Dis dalk niks meer as iemand se kinderagtige gedrag nie.

Psigopate kan lang tye 'n normale lewe lei en net in baie spesifieke omstandighede werklik onaangenaam raak. Selfs dan kan die antisosiale gedrag moontlik in net een aspek van hul lewe tot uiting kom – hulle kan dalk sjarmant en sag by die werk wees, maar 'n derduiwel by die huis.

Dit is asof niemand weet wat die sneller vir dié afskuwelike gedrag is nie. Partykeer verloor hulle hul humeur omdat hulle gou gefrustreerd voel. Ander kere tree hulle weer koud en berekend op. Soms kan die misbruik van middels soos alkohol of dwelms 'n uitbarsting ontketen.

Die feit dat daar verskillende soorte psigopate is, maak sake nog meer ingewikkeld. Die ergste soort psigopaat is die genadelose reeksmoordenaar, maar daar is baie ander wat tussen ons leef en net as psigopate bekend sal raak indien iets 'n daad van geweld ontlok.

Word ons deur die wet beskerm?
Tot 1993 het ons regstelsel nie voorsiening gemaak vir die onbepaalde aanhouding van psigopate nie. Die wet is egter verander as 'n direkte gevolg van die tragedie wat plaasgevind het toe Skroewie van der Merwe sewentien jaar ná sy eerste gewelddadige aanvalle 'n woeste moordveldtog begin het.

Tussen September en November 1971 het die Skroewedraaier-verkragter minstens nege vroue aangeval. William ("Skroewie") van der Merwe het dikwels dieselfde modus operandi gebruik: hy het 'n wit werkpak aangetrek, vroue by die huis besoek en gesê hy is 'n elektrisiën.

Hy het ook 'n veertienjarige skoolmeisie verkrag nadat hy haar mond toegebind en haar met 'n skroewedraaier gedreig het. Sy gedrag is tipies van 'n psigopaat; hy het alles noukeurig beplan, oortuigend gelieg en seksuele bevrediging deur middel van geweld gekry.

Nadat hy in hegtenis geneem is, het Van der Merwe onder polisiebewaking ten volle met die owerheid saamgewerk. Hy is vir 28 dae waarneming na die Sterkfontein- sielkundige hospitaal gestuur en daarna geskik verklaar om verhoor te word.

Waarnemende regter Irving Steyn, wat die hofsaak behartig het, het gesê: "Dit is een van die ergste gevalle van verkragting wat ek in my vyftien jaar as regter teëgekom het. 'n Jong en baie mooi meisie, 'n maagd tot sy deur Van der Merwe aangeval is – dit is die soort mens wat ek gaan beskerm."

Op 22 Maart 1972 het hy die doodsvonnis uitgespreek, wat later deur die appèlhof tot twintig jaar gevangenisstraf versag is.

Van der Merwe het die volgende vyftien jaar in die tronk deurgebring. Hy het rehabilitasie en medikasieterapie ontvang. In die beheerde omgewing van die tronk se sielkundige hospitaal was daar geen snellers wat hom weer só kon laat optree nie.

Die moontlikheid van ’n oortreding is heelwat verlaag en hy het normaal voorgekom. Hy het alle evaluerings met vlieënde vaandels geslaag en is "genees" verklaar.

Dit was 'n tragiese fout. 'n Psigopaat se bedrading kan nie verander word nie. Die blote feit dat hy saamgewerk en hom goed gedra het, wys net hoe onverskrokke, sjarmant, uitgeslape en manipulerend psigopate kan wees. Dit is egter nie die einde van Van der Merwe se storie nie.

In Maart 1987 word parool aan hom toegestaan en word hy uit die Zonderwater-gevangenis in Pretoria vrygelaat. Minder as twee jaar later ryloop twee jong vroue ná 'n dag op die strand by Muizenberg na Tamboerskloof in Kaapstad.

Hulle word in die hoofstraat van Tokai deur Van der Merwe opgelaai. Dit blyk later dat hy drie stelle handboeie en 29 skroewedraaiers in die gereedskapskissie agterop sy bakkie gehad het – hy was goed voorberei vir 'n geleentheid om 'n misdaad te pleeg.

Van der Merwe ry toe na 'n verlate deel van die Constantia-woud waar hy een van die meisies verkrag.

Later is hy ewe sjarmant en gee albei meisies sigarette en beloof om hulle geen skade aan te doen nie. Dit was 'n onbeskaamde leuen – kort daarna dwing hy hulle terug in die bakkie en ry met hulle na die Grabouw-bos ongeveer 60km van Kaapstad.

Daar trek hy sy klere uit, verkrag die tweede meisie voor haar vriendin en dwing haar om saam met hom in die bos in te loop.

Die ander meisie se voete was vasgebind en haar hande agter haar rug geboei. Toe sy rondkyk, sien sy die man se broek en slaag daarin om sy pistool daaruit te haal. Al het sy nog nooit 'n vuurwapen hanteer nie, kry sy dit reg om die pistool oor te haal en sy wag tot sy weer sy voetstappe hoor.

Sy sien 'n mes in sy hand – die polisie sou later haar vriendin se lyk in 'n plas bloed kry. Toe Van der Merwe om die agterkant van die bakkie geloop kom, rol die meisie op haar sy en trek die sneller. Die koeël tref hom in die kop. Sy vuur nog 'n skoot en tref hom in die skouer. Sy kry toe 'n mes in die bakkie, sny die toue om haar enkels los en sukkel tot by die pad.

'n Motoris neem haar na die naaste polisiekantoor. 'n Paar uur later sterf die Skroewedraaier-verkragter in die hospitaal sonder dat hy sy bewussyn herwin.

Dit is skrikwekkend dat 'n gevaarlike maniak, 'n gewoontemisdadiger, uit die tronk vrygelaat kon word vyftien jaar nadat hy vir 'n reeks aaklige misdade ter dood veroordeel is. (In Suid-Afrika is lewenslange tronkstraf twintig jaar, anders as in die VSA, waar dit 99 jaar beteken.)

Parool word dikwels halfpad deur die vonnis toegestaan en as die gevangene hom goed gedra, word sy tyd met 'n derde verminder. Om dié soort ongeregtigheid te keer, spreek regters gereeld twee vonnisse uit, byvoorbeeld vir verkragting én moord, wat nie tegelyk uitgedien kan word nie.

Skroewie van der Merwe se saak het in 1993 ná aanbevelings deur die Booysen-kommissie van ondersoek tot wysigings aan die Wet op Kriminele Prosedure gelei.

Afdelings 286 A en 286 B verklaar dat indien die hof oortuig is dat die persoon 'n gevaar vir ander se fisieke en geestelike welsyn inhou, en indien die gemeenskap teen hom of haar beskerm moet word, die hof die individu tot 'n gevaarlike misdadiger moet verklaar.

Die hof moet dan gevangenisstraf vir 'n onbepaalde tydperk oplê en verorden dat die persoon ná 'n gespesifiseerde tydperk weer voor die hof verskyn.

Dit is uiters moeilik om te bepaal wat in 'n misdadiger se gemoed aangaan, en daar is nog geen metode om vas te stel of 'n rehabilitasieprogram suksesvol was nie.

Daar is ook geen konkrete bewyse dat 'n psigopaat enigsins genees kan word nie. Volgens Jan beteken dit dat die publiek daarop geregtig is om op beskermingsmaatreëls soos 'n pedofielregister aan te dring.

In die verlede was die reaksie op sulke versoeke altyd dat dit 'n skending van die reg op privaatheid is, maar in die toekoms kan dié beskerming dalk wel aan Suid-Afrikaners toegestaan word. "Ons het tog sekerlik die reg om te weet wanneer sulke oortreders vrygelaat gaan word, wie hulle is en of hulle in ons straat gaan woon."

Verskillende soorte psigopate
Bekoorders
Party psigopate word charismatiese psigopate genoem.

Hulle is gladde bekke met 'n byna demoniese vermoë om mense te oorreed om van al hul besittings afstand te doen. Hulle is welsprekend en onweerstaanbaar. Hulle glo dikwels hul eie fantasieë, is leiers van godsdienstige sektes of kultusse en word deur die politiek aangetrek.

Die verpersoonliking van boosheid
Seksuele psigopate, dié wat mense verkrag en doodmaak, is die ergste. Hul moorde neig om passieloos of prakties te wees. Dit maak hulle besonder gevaarlik.

Statisties gesproke is die deursnee- reeksmoordenaar 'n wit man met 'n lae- tot middelklas- agtergrond, gewoonlik in sy twintigs of dertigs. Baie van hulle is fisiek of emosioneel deur hul ouers mishandel. As kinders het hulle dikwels brande gestig, diere afgeknou en hul bed natgemaak. Party van hulle is baie intelligent en het belowende professionele aanleg, maar breinskade kom ook voor. Hulle word aangetrek deur posisies van mag.

Boelies
'n Seun wat op skool sy klasmaats teister, sal nie noodwendig 'n boef word nie, maar so 'n wrede streep kan 'n vroeë aanduiding van 'n aggressiewe psigopatiese persoonlikheid wees. Die Johannesburgse nagklub-uitsmyter Gary Beuthin het vroeg reeds sulke neigings getoon.

Op sestien het hy sy ma in 'n woedeaanval aangerand. Volgens hofdokumente is hy reeds in daardie stadium as 'n psigopaat gediagnoseer, maar hy het uit die pad van die gereg gebly tot hy sy meisie elf jaar later verwoed aangerand het net omdat sy hom by 'n nagklub gelos het. Terwyl sy gelê en bloei het, het hy gevoelloos gesê: "Ek gee nie om as sy vrek nie!" Hy is vir vyftien jaar tronk toe gestuur.

Einde 2007, net 'n paar maande ná sy vrylating, is hy van 'n wrede aanval op 'n voormalige vriend aangekla.

Sulke gedrag is tipies van 'n aggressiewe psigopaat wat daarvan hou om mense seer of bang te maak en te manipuleer.

Prof. Jan Viljoen vertel van 'n man wat op 'n potplant in 'n nagklub se voorportaal geurineer het toe hy toegang geweier is. Toe iemand hom daaroor aanspreek, het hy die persoon tussen die oë geskiet. "Dis hoe plofbaar psigopate kan wees."

Vloekers en skellers
Die "humeurige psigopaat" kry gereeld woedeaanvalle wat soos epileptiese aanvalle kan lyk.

Hulle het baie seksuele drif en sterk drange is algemeen – van dwelmverslawing en kleptomanie tot pedofilie. Hulle hou van die endorfien-"kruin" wat opwinding en risiko's bied. Só 'n man sal geen berou toon nadat hy sy vrou of kinders half doodgeslaan het nie.

Hoe word hulle so?
Op ongeveer drie- of vierjarige leeftyd ontwikkel kinders die vermoë om ander te mislei, asook die vermoë om empatie te hê. Hoewel witleuens of om ander mense seer te maak, deel is van grootword, voel die meeste kinders skuldig as hulle hulle sleg gedra – almal behalwe dié met aggressiewe en antisosiale persoonlikheidsversteurings.

Navorsing dui daarop dat daar in dié mense 'n foutiewe skakel tussen die diep, emosionele brein (die limbiese stelsel) en die brein se dinkgedeelte (die frontale lob) kan wees. Dit beteken dat die rasionele deel van die brein nie sy normale beheer oor sterk emosies soos vrees en aggressie kan uitoefen nie. Dit kan wel die rede wees hoekom dinge wat normale mense bang of hartseer maak, geen uitwerking op psigopate het nie.

Skanderings wys dat daar in psigopate se brein eintlik geen aktiwiteit in die senubondels is wat die frontale lob en die limbiese stelsel verbind nie. Bowendien is daar dikwels abnormale aktiwiteit in die limbiese stelsel.

Tensy die onmoontlike moontlik word en die foutiewe dele van die brein reg met mekaar verbind kan word, sal impulsiwiteit, 'n gebrek aan beheer en emosionele abnormaliteite voortgaan om psigopate soos vinnige motors sonder remme te laat optree.

Dit is nog steeds onduidelik of dié afwykings veroorsaak word deur traumatiese ondervindings gedurende 'n mens se kinderjare. Wat ons wél weet, is dat die saadjies van psigopatiese misdaad reeds vroeg in sulke mense se lewe gesaai word.

Kan hulle behandel word?
Party wetenskaplikes is vol vertroue dat hulle stadig besig is om psigopate te leer verstaan, danksy nuwe navorsingshulpmiddels – van breinskandering tot sielkundige toetse.

Sê nou maar dit is moontlik om 'n psigopaat te identifiseer voor hy of sy ernstige fisieke of emosionele skade kan veroorsaak. Wat dan?

Konvensionele behandeling, soos groepterapie, maak psigopate net erger. Blykbaar leer dit hulle net hoe om mense te manipuleer en emosies na te aap. Party neuroloë glo dat 'n middel ontwikkel kan word om psigopate se breinchemikalieë aan te pas. In Swede dui toetse op die rugmurgvog van misdadigers in tronke dat psigopate dalk aan 'n wanbalans van die breinchemikalieë serotonien en dopamien ly.

As medisyne gebruik kan word om die emosies van depressiewe mense te beheer, kan die wetenskap dalk ook daarin slaag om emosies te gee aan mense by wie dit ontbreek.

Maar selfs al sou 'n mens psigopate emosies kon skenk, sou hulle nog altyd 'n inherente gebrek aan moraliteit hê. Dit sal hulle nie noodwendig leer wat reg en verkeerd is nie.

"Ek dink nie dit is moontlik om hulle doeltreffend te behandel nie. Nie nou nie. Nooit nie," sê Jan Viljoen. "Moraliteit spruit uit 'n mens se opvoeding en omgewing, maar ook uit sy genetiese samestelling. Dit is nooit net die een of die ander nie. 'n Psigopaat in die tronk het op 'n dag vir my gesê 'n luiperd kan nie van sy kolle ontslae raak nie, maar hy kan leer om daarmee saam te leef. Dis nou vir jou manipulering!"

Hoe om 'n psigopaat te herken
Waarskuwingsligte moet begin flits as jy drie of meer eienskappe op dié lys kan aftik, veral as dit voor die ouderdom van agttien voorkom.

Versuim om aan sosiale norme te voldoen. Is die persoon eiewys en ongehoorsaam, met onbeheerbare gedrag? Is daar 'n gebrek aan respek vir gesag? Leef hy volgens sy eie reëls?

Bedrieglikheid, manipulering, oppervlakkige sjarme. Is die persoon 'n patologiese leuenaar? Draai hy ander mense om sy pinkie?

Impulsiwiteit, versuim om vooruit te beplan. Het die persoon 'n gebrek aan realistiese langtermyn-doelstellings? Vind hy dit onmoontlik om 'n werk langer as 'n paar weke te hou?

Prikkelbaarheid, aggressie, woede-uitbarstings. Kry hy woedebuie en skielike gewelddadige aanvalle? Raak hy omgekrap as hy nie kry wat hy wil hê nie?

Onverskillige verontagsaming van veiligheid. Kry hy bevrediging uit waaghalsige toertjies waarvoor hy nie opgelei is nie? Vang hy onnosele dinge aan?

Hy dink hy is beter as ander mense. Is daar 'n gevoel van eiegeregtigheid? Glo hy vas hy "verdien" geld of statussimbole?

'n Parasitiese lewenstyl. Teer hy op ander mense? Pleks daarvan om vir iets te werk, kry hy dit deur emosionele afpersing?

Gedurige onverantwoordelikheid. Weier hy om verantwoordelikheid vir sy eie dade te aanvaar en is daar altyd verskonings? Is alles wat verkeerd loop iemand anders se skuld?

Gebrek aan berou nadat hy iemand anders seergemaak of sleg behandel het. Gee hy nie vir ander mense om nie, nie eens sy eie familie nie?

Rondslapery. Gaan sy lewe net oor kortstondige flirtasies en is daar geen langdurige verbintenisse nie? Is hy nie in staat om 'n standvastige verhouding met 'n ander persoon te skep nie?

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Lees meer: Sielkunde A-Z

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE