Share

Geweld: die waarskuwingstekens

Elke keer wanneer daar 'n gewelddadige tragedie plaasvind – soos die moord op 69 mense by 'n jeugkamp in Noorweë – is daar een vraag wat bo al die ander uittroon: Hoekom het niemand voor die tyd opgelet dat die verdagte versteur mag wees en tot dodelike geweld in staat is nie? Psigiaters en geestesgesondheidsdeskundiges sê dat daar party duidelike waarskuwingstekens is dat die persoon dalk besig is om 'n geestelike ineenstorting te ervaar en hulp nodig het.

"Die oploop na 'n krisis is dikwels lank en daar is baie aanduidings langs die pad," sê Bryan Gibb, direkteur van openbare opvoeding vir die National Council for Community Behavioural Healthcare. "Dit is ons werk om mense op te voed oor daardie waarskuwingstekens sodat mense reeds vroeg die behandeling wat hulle nodig het, kan kry."

Die deskundiges meen egter dat 'n ineenstorting selde tot geweld lei. "Dit gebeur selde dat sulke persone óf gewelddadig word óf hulself skade aandoen," sê Dr. Thomas Wise, 'n professor in psigiatrie- en gedragswetenskapsfakulteit van Johns Hopkins Medicine in Baltimore en voorsitter van gedragsgesondheidsdienste vir Inova Health Systems in Fairfax, Virginia.

Hoe om 'n psigopaat uit te ken

Mense wat neig tot massa-geweld word dikwels oorheers deur 'n "oorwaardeerde idee", 'n sielkundige term vir 'n onredelike mening waaroor die persoon 'n obsessie ontwikkel het, sê Wise.

Oorwaardeerde idees is nie waansin nie, aangesien mense met oorwaardeerde idees nie totaal en irrasioneel op hulle menings, ten spyte van enige teenstrydige bewyse, gefikseer is nie, verduidelik hy. Die ironie is dat mense wat aan waansin ly en duidelik geestesversteurd is, 'n kleiner kans het om geweld te pleeg as mense wat op die rand van obsessie staan en nie tegnies aan 'n geestesafwyking ly nie.

"Mense wat oorwaardeerde idees het, handel dikwels daarvolgens," sê Wise. "Mense wat aan waansin ly, doen dit nie. Hulle is dikwels verbasend passief te midde van al die sameswerings waaraan hulle glo."

Openbare belangstelling om mense in 'n krisis beter te identifiseer, het gedurende die afgelope paar maande gestyg, sê Gibb, wie se groep help om Geestesgesondheid Eerstehulp-klasse dwarsoor die land te borg. Die doel is om mense voor te berei om tekens van moeilikheid raak te sien en in te gryp.

"Oproepe na ons het na die Tucson episode dramaties toegeneem," sê Gibb.

Altwee mans meen dat enige gesprek oor geweld, óf met jouself óf met ander mense, as 'n duidelike waarskuwingsteken beskou moet word.

"Om oor dinge wat ongemaklik en potensieel gewelddadig is, te praat, is in ons kultuur baie ongewoon en bedreigend, en dit behoort mense te laat regopsit," sê Wise.

Dit is selfs meer kommerwekkend as die persoon geen idee het dat die manier hoe hy praat of optree die mense om hom omkrap nie. "As hy geen gewaarwording het van die effek wat hy op ander mense het nie, is dit 'n teken van moeilikheid," sê Wise.

Waarskuwingstekens

Mense moet veral oppas as iemand wat baie omgekrap was en reeds 'n geruime tyd oor geweld praat skielik kalm en bedaard raak. Dit kan beteken dat die persoon se interne konflik verby is en dat hy of sy oorgehaal is vir aksie.

"Wanneer hulle eers 'n plan opgestel het, voel hulle geen konflik meer nie," sê Gibb. "Hulle voel byna eufories omdat hulle daardie besluit geneem het."

Volgens Gibb en Wise is 'n geskiedenis van geweld nog 'n voorspeller van of iemand met 'n geestelike probleem tot aksie sal oorgaan. Dwelm en alkoholgebruik kan 'n waarskuwingsteken wees, veral in die geval van iemand wat reeds 'n geruime tyd eienaardig optree.

Hulle sê verder dat mense wat hierdie waarskuwingstekens openbaar, gekonfronteer moet word, maar met die nodige versigtigheid.

Wise beveel 'n ernstige gesprek met die persoon in 'n openbare plek aan. "Laat hom weet dat hy jou 'n bietjie bang maak," sê hy.

Om na die persoon se vriende en familie uit te reik, is ook belangrik, sê hy. Hoe meer mense van die probleem weet, hoe groter die kans dat die persoon gewillig sal wees om hulp van iemand te aanvaar.

Gibb stem saam en voeg by dat dit belangrik is om die persoon se bui af te skaal. Luister na hulle, kalmeer hulle en bied hulp aan – selfs al is dit iets so eenvoudig as om hulle ’n glas water aan te bied.

"Dit klink aangeplak, maar ons leer mense om 'daar te wees'," sê Gibb. "Sê vir hulle jy's daar vir hulle en jy wil help." Sê vir hulle: "Ek sien jy's omgekrap. Is daar iets wat ek vir jou kan doen?"

Meer inligting:

The American Psychiatric Association het meer inligting oor die waarskuwingstekens van geestesversteurings.

BRONNE: Bryan Gibb, direkteur, openbare opvoeding, National Council for Community Behavioral Healthcare, Washington, D.C.; Thomas Wise, M.D., professor, departement van sielkunde en gedragswetenskappe, Johns Hopkins Medicine, Baltimore, en voorsitter van gedragsgesondheidsdienste, Inova Fairfax Hospital, Fairfax, Virginia.

Hersien: 29 Julie, 2011

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE