advertisement
01 June 2009

Een lewe, baie rolle

Dié TV-ster en wêreldreisiger praat oor waar sy hart lê

0

Michael Mol is aantreklik genoeg om ’n Don Juan te wees en slim genoeg om als te kry wat sy hart begeer. Hy is ook diep en opreg genoeg om sy gesin en sy getrouheid aan hulle bo alles te plaas. Kan dit wáár wees?
Deur Betina Louw

Ja op die regte tyd, nee waar dit nodig is. Keuses. En die wysheid om te onderskei. Dis waaroor dit vir Michael Mol (37) in die lewe gaan.

Dat dit vir hom en sy gesin werk, sien jy sommer met die intrapslag. Jy sien dit in die groot gesinsfoto’s in omtrent elke vertrek van hul huis, in hoe die gesin grappies maak voor die kamera en in die stille trots waarmee Michael kort-kort na Jacqui kyk – sy hoërskoolliefde met wie hy reeds veertien jaar getroud is.

Te goed om waar te wees?

Nee. Michael en Jacqui is eerlik daaroor dat die keuses nie altyd maklik was nie en dat dit hulle tien jaar gekos het om te besef wat werklik belangrik vir hulle as gesin is.

Daar was ook ’n tyd toe dit nie so was nie. Michael was toe reeds ’n aanbieder van die TV-leefstylprogram Top Billing en ’n gesogte seremoniemeester. Gedurig op pad êrens heen. In één jaar sou hy tweehonderd keer op ’n vliegtuig klim.

Toe, een oggend, klim hy van die vliegtuig af en die lugwaardin vra hom: “Het jy lekker geslaap?” Daar en dan besef hy: “So kan dit nie aangaan nie. My vrou, en nie ’n vreemdeling nie, moet soggens vir my vra of ek lekker geslaap het.”

Dit, sê Michael, was een van daardie wakkerskrik-oomblikke in sy lewe.

“Skielik het ek geweet ek kan as ’n TV-aanbieder, as ’n werknemer, ’n dokter, as direkteur van ’n onderneming vervang word. Maar ek kan nie as my vrou se man en my kinders se pa vervang word nie. Dis die belangrikste rol in my lewe. Dit is waar my sukses en my waardes lê. By die huis, by my vrou en kinders.”

Dis net daar dat die gesin aan die begin van 2007 besluit om sak en pak uit die Kaap Johannesburg toe te trek. “Ons woon nou twee minute van my werk af. Aandete en ontbyt eet ons saam. Ek is meer by die huis as wat ek ooit tevore was. Ons gaan Sondae saam kerk toe. Om meer van my gesin te sien, is vir my die grootste geluk,” sê Michael.

Sy verhouding met sy kinders hang nie meer van telefoonoproepe en Skype af nie. “My gesag by die huis het onder my afwesigheid begin ly. Jacqui het soms gevoel ek moet Josh ’n paar rapse gee, maar hoe doen jy dit as jy pas terug by die huis is en vir jou kind net liefde en drukkies wil gee? Josh sukkel nou nog met grense omdat hy grootgeword het toe sy pa die meeste van die tyd weg van die huis af was.”

Die huis in Bryanston het hulle gekies omdat dit net vyf minute van die kinders se skool en twee minute van Michael se kantoor af is. “Ons wil minder tyd in die verkeer deurbring en meer met die kinders speel,” sê Jacqui.

Jacqui, ’n fisioterapeut wat gespesialiseer het in herstel ná ernstige beserings, het besluit sy is nodiger tuis as wat ’n tweede inkomste is. Dit help nie, sê hul hele houding, om álles te probeer hê as jy nie die belangrikste het nie.

Daarom was dit baie maklik om nee te sê toe Michael verlede jaar gevra is om aanbieder te wees by die Mej. Wêreld-kompetisie. Dis tog doodeenvoudig: Die gesin se ruskans by ’n vakansieoord net buite Johannesburg was reeds vir daardie tyd beplan. Niks is belangriker nie.

Tog beteken die nuwe balans tussen gesin en werk nie dat Michael tot siens gaan sê vir die glanswêreld of nou teen ’n stadiger pas gaan werk nie. “My loopbaan as aanbieder is steeds iets waarin ek my voluit werp. Dit gee my die geleentheid om te praat en ’n verskil te maak.”

Onder die snyerspakke, die gemaklike glimlag en die afgeronde aanbiederstyl skuil daar steeds ’n ernstige en diepdenkende mens – dié Michael Mol wat nie kan vergeet van lewens wat hy nie kon red nie. Die dokter wat vier jaar lank probeer het om sy hospitaalwerk met sy televisiewerk te versoen.

Dis al meer as ’n dekade gelede dat sy openbare loopbaan oornag vlam gevat het toe hy in 1996 die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie gewen het. Die jong dokter, 25 jaar oud en net twee jaar lank getroud, het op die dolle mallemeule van televisie, openbare optredes en glans beland – en al het hy daarop gedy, het dit sy tol geëis.

Hy het snags twaalfuur-skofte in die hospitaal gewerk en bedags televisiewerk gedoen. “Ek was pootuit en energiedrankies moes my deur die dag kry. Jacqui het my dikwels op die lughawe kom haal en dadelik by die hospitaal gaan aflaai.

“Tog het my werk by die hospitaal my gehelp om perspektief te hou. Jy sien vannag die lyding, pyn en hartseer van die ongevalle-afdeling en net daarna is jy op die Top Billing-stel, waar ’n ontwerper tekere gaan omdat ’n kussing die verkeerde kleur is. Dis twee wêrelde wat jy moeilik kan versoen, maar dis fassinerend om deel van albei te wees.”

Dit was ook bitter moeilik om albei vol te hou. “Ek het soos ’n enkelouer gevoel,” sê Jacqui. “Michael was twee weke van elke maand weg van die huis. Ons eerste twee kinders het hom skaars gesien.”

Dit was vir Michael moeilik om te kies tussen die mediese wêreld en die TV-wêreld. “Ek was mal oor albei, maar om ja te sê vir Jacqui, het beteken dat ek vir een van die ander twee nee moes sê.”

Jacqui het ook nie doekies omgedraai nie en vir hom gesê: “Michael, jy moet besluit. Ek gaan môre nie meer hier wees as dit is hoe jy met jou lewe wil voortgaan nie.”

Michael het gekies en besluit om sy werk as dokter te laat vaar om hom op televisiewerk toe te spits. Maar selfs dit het nie ’n gesonde gesinslewe gewaarborg nie.

Mense vra hom gereeld hoe hy dit regkry om by die mooi meisies en strome vonkelwyn verby te kyk. Hoe is dit moontlik om getrou te bly aan jou vrou as jy heeltyd oorsee reis en deur mooi vroue omring word?

Maklik, sê Michael. “My en Jacqui se verhouding is gegrond op onvoorwaardelike liefde vir mekaar. Ons deel ’n lewe en herinneringe wat niemand anders kan vervang nie. Daar is dae dat ek regtig nie van Jacqui hou nie en andersom, hoewel dit meer ek is wat haar omkrap as sy vir my. Maar ons is steeds lief vir mekaar. Dit gaan nie verander nie. Ek het lank gelede hierdie logiese, bewustelike keuse gemaak.

“Ek sal nie met myself kan saamleef as ek ontrou is aan haar nie. Dit is nie ’n besluit wat ek in die hitte van die oomblik moet neem nie. Ek probeer alles wat ek kan om haar te behou en vermy dit wat moontlik kan veroorsaak dat ek haar verloor.”

Dit beteken nie dat hy maak of hy immuun is teen verleiding nie. “Niemand is nie. Een naweek was ek saam met Top Billing en ’n klomp ander bekendes. Skielik, een aand, was ek alleen saam met ’n beeldskone meisie. Ek het ongemaklik gevoel – iets was besig om te ontwikkel. Wat, het ek nie geweet nie, maar ek het letterlik net verskoning gemaak, opgestaan en weggestap.”

Dit gaan weer eens oor keuses, sê Jacqui. “Michael het aan die begin van sy Top Billingloopbaan die besluit geneem dat hy nooit sy trouring sal afhaal nie en dat hy altyd oor sy vrou en kinders sal praat sodat die boodskap na buite baie duidelik is. Hy is getrou aan sy gesin, dit weet ek. En ek weet hoeveel integriteit hy het. Ek het oorvloedige vertroue in die wete dat hy gekies het om getrou te wees aan ons en ek raak dus werklik nooit jaloers nie.”

So oop en eerlik soos hulle in hul verhouding met mekaar is, so oop en eerlik is Michael en Jacqui na buite. En ’n mens ry by hulle weg met die gevoel dat jy in die geselskap van twee baie besonderse mense was.

Te goed om waar te wees? Nee, nog beter!

Michael gesels oor . . .

Michael Mol se vyf onvergeetlike oomblikke

  1. Die oomblik toe ek die jawoord aan Jacqui gegee het. Ek het dit nog nooit berou nie . . . ek het al my besluit betwyfel, maar nog nie berou nie!

  2. Die wonderlike voorreg om my eerste kind die wêreld in te help. Ek het die bebloede bondeltjie vasgehou nog voor die naelstring geknip is. Ek het dank gegee aan God vir ’n gesonde seun en besef dat wat ek ook al vir my lewe beplan het, nou moes plek maak vir dié kleinding. Ek het gevoel dit gaan nie meer om my nie.

  3. Die dag toe ek in my huisdokterjaar ’n kind aan die dood moes afstaan. Ek het besef daar was niks meer wat ek kon doen nie, maar het tog gevoel asof ek nie alles in my vermoë gedoen het nie. Dit bly my by en ek wil nooit weer voel asof ek nie alles gegee het nie. Ek gee my voluit vir die lewe.

  4. Die keer toe ek in ’n Russiese MiGvegvliegtuig teen dubbel die spoed van klank tot op die randjie van die buitenste ruim gevlieg het, met die wete dat ek een van ’n handjievol mense is wat dié belewenis gaan meemaak. Ek het my afgevra hoe ek reg aan my bevoorregte posisie gaan laat geskied. Dis ’n vraag wat nog steeds by my opkom en ek vermoed dit sal tot aan die einde.

  5. Die slag toe ek ’n jong man oopgesny het, my hand in sy borskas gesteek het en sy hart binne-in masseer het om hom aan die lewe te hou nadat ’n koeël daardeur geklief het. Dit is ’n ongelooflike gevoel om ’n koeël te klop en ’n vreemdeling ’n tweede kans te gee.

Wat hy vir sy kinders wil nalaat
’n Gevoel van eiewaarde en die ongelooflikste herinneringe

Die belangrikste ding in sy verhouding met sy vrou en kinders
Dat ons wel een het!

‘Wat ek by my pa geleer het’
My pa, Arnold Mol, het ’n baie dapper – of baie dom – ding gedoen. Hy het ’n boek oor kind grootmaak geskryf nog voor sy kinders uit die huis was! Sê nou ons het vreemd uitgedraai? (Dit is natuurlik steeds ’n ope vraag.) Maar wat ’n waagstuk om ’n boek oor ouerskap te skryf!

My pa het geglo dis baie belangrik dat jy ’n kind se selfbeeld bou. Hy het ook baie waarde aan verantwoordelikheid geheg. “Toestemming sonder goedkeuring” was sy beleid, ’n tegniek wat wegdoen met die moets en moenies. Hy sou byvoorbeeld sê: “Jy’t my toestemming om te rook, maar nie my goedkeuring nie. Ek dink nie dit pas by jou nie en dit sal my hartseer maak as jy dit doen, maar jy mag dit doen en ek gaan jou nie keer nie.”

Dit het uitstekend gewerk, want die hoofrede hoekom ’n tiener wil rook en drink is omdat hy nie mag nie. As jy wegdoen met die gesagsbenadering, is dit glad nie meer pret om skelmpies ’n dampie te slaan nie.

Die 10 dinge wat hy oor kind grootmaak geleer het

  1. Die skrywer Ralph Waldo Emerson het gesê “Wie jy is as mens, spreek so duidelik dat ek nie meer kan hoor wat jy sê nie.” My kinders gaan nie juis onthou wat ek gesê het nie, maar hulle sal nooit vergeet hoe ek my lewe gelei het en wie ek was nie.

  2. Dit lyk miskien of hulle daarteen baklei, maar kinders soek grense. Dit laat hulle geborge voel as hulle weet wat van hulle verwag word en wat hulle mag en nie mag doen nie.

  3. Jou ja moet ja wees en jou nee nee . . . dis nie onderhandelbaar nie!

  4. Jou kind se selfbeeld is van die uiterste belang. Hoe kinders optree, hang af van hoe hulle hulself beskou – dit speel ook ’n groot rol in hul uiteindelike sukses. As ek aanhoudend vir my kinders sê dat hulle stout is, dan gaan hulle hulle so gedra. As ek sê hulle is gaaf en besonders, dan sal hulle dit wees.

  5. Moenie beloftes verbreek nie. Kinders vergeet nie maklik nie en as jy ’n eenvoudige belofte nie nakom nie, sal dit die vertroue tussen ouer en kind verbreek. As vertroue eers daarmee heen is, sal jou kind ook nie meer sy gedagtes en gevoelens aan jou toevertrou nie. Dan word die skeiding tussen ouer en kind nog groter.

  6. Ek het geleer om jammer te sê. My kinders wil nie perfekte ouers hê nie, hulle wil regte ouers hê – ouers wat erken as hulle ’n fout gemaak het en nie bang is om vergifnis te vra nie. My kinders waardeer dit as ek sê ek’s jammer oor iets. Dit gee hulle ’n gevoel van geregtigheid en is ’n goeie manier om ’n voorbeeld van eerlikheid en integriteit te stel. Dit maak dit ook vir hulle moontlik om hul eie foute te maak en by ons verskoning te vra. Genade is ’n kragtige begrip.

  7. Ek het geleer dat jy nie gehaltetyd saam met jou kinders kan deurbring sonder om ook ’n groot hoeveelheid tyd deur te bring nie. Wie besluit in elk geval wat gehaltetyd is? Dis dikwels op ’n onverwagte oomblik dat my kinders diep stories praat – ’n oomblik wat maklik by my sou verbygegaan het as ek nie by hulle was nie. Sulke oomblikke kan nie vooruitbeplan word om saam met Pa se halfuur-afknyptyd in sy besige dag te pas nie.

  8. Ek het geleer dat ek myself nie te ernstig moet opneem nie. My kinders doen dit nie – hoekom sal ek dan? Partykeer moet ’n mens streng en ernstig wees, maar dis die uitsondering eerder as die reël.

  9. Ek beleef elke dag die ongelooflike vreugde van onvoorwaardelike liefde. Dat my kinders vir my lief is net omdat ek hul pa is, is ’n lewensles wat ek dag ná dag van voor af leer.

  10. Ek het geleer dat my liefde teenoor my kinders God se liefde vir ons weerspieël – en ek verwonder my elke dag daaraan.

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Your hearing »

Are you going deaf or do you just need to unblock your ears? 4 foods that can improve your hearing

Healthy eating may protect your hearing

Watching what you eat can improve the quality of your hearing and reduce your risk of hearing loss.

Quit smoking »

Tougher anti-tobacco laws in the pipeline Bad news, smokers: It's going to be more inconvenient to smoke

This is why many SA smokers quit – Health24 survey

After running our survey for several weeks, the results are in – and they reveal interesting information about smoking and tobacco use in South Africa.