Share

Dokters waarsku oor Facebook

Voeg "Facebook depressie" by die potensiële skade wat met die sosiale media geassosieer kan word, waarsku 'n invloedryke doktersgroep in 'n verwysing na 'n toestand wat hulle meen gekwelde tieners mag affekteer wat obsessies oor dié aanlyn-webwerf het.

Navorsers stem nie saam oor of dit dalk net 'n uitbreiding van die depressie is wat party kinders as gevolg van ander oorsake voel nie, en of dit miskien 'n aparte toestand is wat gekoppel kan word aan die gebruik van die webwerf nie.

Daar is egter unieke aspekte van Facebook wat dit 'n besonder rowwe sosiale landskap maak vir kinders wat alreeds met 'n swak selfbeeld sukkel, sê Dr. Gwenn O'Keeffe, 'n pediater van die Boston-area en die hoofouteur van New American Academy of Paediatrics Social Media Guidelines.

Met baie ooglopende vriende-getalle, status-inligting en foto's van vrolike mense wat hulself geniet, kan Facebook party kinders selfs slegter laat voel as hulle dink hulle skiet tekort.

Pynlike ervarings

Dit kan pynliker wees as om alleen in 'n stampvol skoolkafeteria te sit of soortgelyke situasies in die werklike lewe wat kinders depressief  kan laat voel, sê O'Keeffe, omdat Facebook 'n verdraaide indruk kan skep van wat werklik aan die gang is. Aanlyn is daar geen manier om gesigsuitdrukkings te sien of die lyftaal te lees wat konteks aan 'n situasie gee nie.

Die riglyne stel voor dat pediaters ouers aanmoedig om met hulle kinders oor aanlyn-aktiwiteite te praat en versigtig te wees vir Facebook-depressie, kuber-boelietaktieke, "sekstekstery" en ander aanlyn-risiko's. Dié riglyne is in Paediatrics gepubliseer.

Abby Abolt, 16, 'n tweedejaar-hoërskoolleerling van Chicago en gereelde Facebook gebruiker sê dat die webwerf haar nog nooit depressief laat voel het nie, maar dat sy kan verstaan hoe dit party kinders kan beïnvloed.

"As jy nie eintlik baie vriende het nie en daar nie veel in jou lewe gebeur nie, en jy dan blootgestel word aan ander mense se status-inligting, foto's en aktiwiteite saam met hul vriende, kan ek heeltemal verstaan dat dit hulle sal omkrap," sê sy.

Sy sê verder: "Dit is soos 'n populariteitswedstryd – oor wie die meeste vriende-versoeke kan kry of die meeste kommentaar op foto's."

Bewusmaking

Dit is ook algemeen dat tieners negatiewe of veroordelende kommentaar op die Facebook "mure" plaas van mense van wie hulle nie hou nie, sê Gaby Navarro, 18, 'n senior van Grayslake, Illinois. Dit het al met van haar vriende gebeur en sy sê sy kan haar net indink hoe depressief dit party tieners kan laat voel.

"Ouers moet definitief hiervan weet," sê Navarro. "Dit is goed dat mense bewus raak van hierdie verskynsel."

Die akademie-riglyne meld dat aanlyn-teistering " 'n reuse sielkundige uitwerking kan hê", insluitende selfmoord. Die selfmoord van 'n 15-jaar-oue meisie van Massachusetts verlede jaar, wat baie dekking in die media gekry het, het plaasgevind nadat sy persoonlik en op Facebook geboelie en geteister is.

"Facebook is waar al die tieners deesdae uithang. Dit is hulle 'straathoek'," se O'Keeffe.

Sy sê egter ook dat die voordele van sosiale media-webwerwe soos Facebook nie buite rekening gelaat moet word nie – soos kontak met vriende en familie, die deel van foto's en die uitruiling van idees.

Gesond

"Baie van wat op Facebook gebeur, is eintlik heel gesond, maar dit kan te ver gevoer word," sê sy.

Dr. Megan Moreno, 'n spesialis in adolessente medisyne aan die Universiteit van Wisconsin wat die aanlyn-sosiale-netwerkproses by universiteitstudente bestudeer het, meen Facebook kan gevoelens van sosiale konneksie by goed-aangepaste kinders versterk, maar ongelukkig die teenoorgestelde effek hê op dié wat depressiewe neigings het.

Sy sê: "Ouers moet egter nie begin dink dat Facebook 'hulle kinders met depressie gaan aansteek nie'." (AP, Maart 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE