1. Major depressiewe versteuring (MDV)
Dis waaraan jy ly as jy minstens twee weke lank in 'n depressiewe bui is of niks geniet of in niks belangstel nie. Daar moet ook verskeie ander simptome teenwoordig wees wat slaapversteurings, aptytversteurings, veranderde energievlakke, seksuele probleme en moeite met dink en konsentreer insluit. Hierdie simptome laat jou anders as gewoonlik optree.
2. Distemie
Dis 'n moeilike toestand om te diagnoseer. Hoewel daar baie MDV-simptome teenwoordig is, is die simptome meestal minder ernstig en tas dit jou optrede minder aan. Die simptome is egter chronies en kan jare lank aanhou. Lyers voel dus selde werklik gelukkig, geniet nie die lewe nie en baie verwesenlik uiteindelik nie hul volle potensiaal nie. Distemie kan 'n groot meulsteen wees en het langtermyn-gevolge.
3. Bipolêre versteuring
Dit het voorheen bekend gestaan as maniese depressie en jou kans om uiteindelik daarvan genees te word, is kleiner as met MDV. Lyers kry aanvalle van depressie wat afgewissel word deur aanvalle van euforie. Die oorgang tussen dié twee "pole" is gewoonlik geleidelik, maar kan ook taamlik onverwags en dramaties wees.
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)