Die Mozart-effek – 'n teorie waarvolgens musiek van Mozart kinders se brein 'n hupstoot gee – spoor baie ouers aan om klassieke musiek vir hul kinders te speel. Maar wetenskaplikes is nie seker dat dit regtig werk nie.
Die oorspronklike eksperiment is in 1993 op 'n klein aantal Amerikaanse leerders gedoen. Elkeen moes 10 minute lank na Mozart luister, toe na 'n bandjie met ontspanningsmusiek, en toe na stilte. Daarna het hulle 'n toets oor ruimtelike prosessering afgelê.
Die uitslag? Punte het verhoog nadat hulle na Mozart geluister het, maar die uitwerking het net 10 tot 15 minute gehou. Sedertdien het ander navorsers sonder sukses die verband tussen Mozart en ruimtelike denke probeer toon.
Studies wys dat kinders wat musiek studeer, neig om goed te vaar in wiskunde, maar dis moeilik om 'n regstreekse verband te bewys – verskeie faktore beïnvloed hoe kinders wiskundig presteer, van ouers se opvoeding tot sosio-ekonomiese status.
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)