Share

Die Dewani saak onder die soeklig

Terwyl die Dewani saak dag na dag die nuus oorheers, word daar verder gespekuleer. Dit is tog ondenkbaar dat iemand sy bruid sal laat vermoor – of hoe? Dit sal seker nog 'n rukkie duur voor ons mooi weet wat werklik gebeur het. Terwyl ons wag, plaas Cybershrink die oorsprong van die gerugte onder die soeklig.

Gerugte doen al vir weke die rondte oor die Dewani moordsaak. Baie aspekte van die storie het vanuit die staanspoor onoortuigend geklink. Nou wys een van die beskuldigdes, Zola Robert Tongo, die bestuurder van die taxi, die vinger na die man, Shrien Dewani, wat net twee weke met sy vrou Anni getroud was.

'n "Vriend van die familie" (dikwels 'n slenterslag deur belanghebbendes om kommentaar in die media te lewer sonder om persoonlik betrokke te raak) meen dat die diep bedroefde Dewani alles ontken, en baie ontsteld is oor wat hy as leuens en 'n smeerveldtog afmaak.

So baie vrae

Hoekom enigiemand hom onder sulke tragiese omstandighede met "leuens en 'n smeerveldtog" sou wou martel, is onduidelik. Om die waarheid te sê, is die hele saak vol onopgeloste vraagstukke.

Hoekom, byvoorbeeld, sou 'n egpaar besluit om 'n township soos Gugulethu so laat in die nag te besoek wanneer alles in elk geval al toe was? Hoekom nie liewer die raad en dienste van die luukse hotel waar hulle tuisgegaan het gebruik nie – in plaas daarvan van om op die hulp van 'n bestuurder wat hulle so pas by die lughawe ontmoet het, en wat blykbaar op sy eie tyd gewerk het, staat te maak?

Hoekom het die kapers die plaaslike bestuurder, iemand wat hulle heel moontlik kon identifiseer, laat gaan? En hoekom die eggenoot ongedeerd vrylaat – ook iemand wat hulle kon identifiseer en boonop die polisie kon roep? Hoekom sou die kapers die voertuig net êrens los, en as hulle agter geld aan was, hoekom nie die vrou hou en 'n losprys eis nie? Hoekom met opset niemand anders skade aandoen nie en net die vrou vermoor – 'n waarborg vir maksimum publisiteit, vervolging en uiteindelik vonnisse?

En, ten slotte, die rol van Suid-Afrika se reputasie – is dit belangrik dat Suid-Afrika as 'n land beskou word waar dit maklik en goedkoop is om 'n moord te organiseer, en waar die polisie na verwagting die saak sal verbrou?

Hoekom die man vanuit die staanspoor verdag was

Volgens verslae het Dewani die aand van die moord uiteenlopende en teenstrydige stellings gemaak. Miskien het hy aan skok gely. Maar dit is moeilik om te begryp hoe 'n bedroefde, jong wewenaar Suid-Afrika so gou kon verlaat en na Brittanje kon terugkeer, waar hy, ten spyte van sy stellings dat hy graag wil help, vir die polisieondersoek van geen nut is nie. Hy het nie eers die uitkenningsparade bygewoon, waar hy die mans wat na bewering sy bruid vermoor het, kon uitken nie. En wie van ons sou in so 'n situasie dadelik 'n bekende media-agent in diens geneem het? En nie die media-agent óf die prokureur, wat intussen bedank het, is juis gewillig om te verduidelik hoekom hy so vinnig die hasepad gekies het terwyl die ondersoek na sy vrou se dood op so 'n kritieke stadium was nie.

...En hoekom die bestuurder ook verdag lyk

Iets wat nie baie geloofwaardig klink nie, is die bestuurder se storie dat hy die egpaar eers van die lughawe na hulle hotel geneem het, en dat die eggenoot hom daar en dan gevra het om die moord te reël. So iets sou tog veels te waaghalsig en halsoorkop gewees het. Sê nou maar die bestuurder het hom by die polisie gaan aangee! Was daar dalk meer by die saak betrokke? Dit is soos om 'n hotel concierge vir die kontakbesonderhede van ’n goeie kleremaker, restaurant en moordenaar te vra.

…En hoekom het die polisie nie genoeg vrae gevra nie?

In 'n geval soos hierdie met so baie ongerymdhede, hoe kon die polisie toelaat dat die man die land so vinnig verlaat en toe summier 'n verklaring uitreik dat hy nie onder verdenking is nie? Dít behoort eers duidelik te wees wanneer al die getuienis in die hof aangehoor is.

Onthou die Sabadia-saak

Hierdie geval herinner my aan die aaklige moord op die jong Medunsa mediese student Zaheeda Sabadia deur "kapers" wat die instruksies van haar man, die grillerige psigiater Dr Sabadia, gevolg het. Dr Sabadia en sy privaatpraktyk is op daardie stadium deur verskeie owerhede vir ongerymdhede ten opsigte van Mediese Hulp ondersoek, en hy was blykbaar ook kniediep in die skuld. Hy het pasiënte wat deur hom en sy vennoot se behandel is, gewerf om 'n kaping te reël, en sy vrou, klaarblyklik vir haar lewensversekering, te vermoor. Hy het ook 'n baie onoortuigende storie vertel oor hoe dit gebeur het, insluitende dat die ontvoerders hom uit die motor gegooi het en met sy vrou, wat later dood aangetref is, weggery het. Hy het beweer dat die ontvoerders hom beseer het, maar net sy vennoot kon dit bevestig; en hy was ook aanvanklik nie beskikbaar om die polisie met hulle ondersoek by te staan nie, aangesien hy in 'n hospitaal opgeneem is en sy vennoot vir 'n lang ruk aangedring het dat hy nie in 'n toestand was om enige vrae te beantwoord nie.

Daar was in hierdie geval baie soortgelyke vrae: hoekom sou kapers die man ongedeerd uit die motor gooi, met die vrou wegry en haar dan vermoor? En hoekom sou kapers nie die motor steel nie?

In die huidige saak is daar ook stories in omloop dat die man in 'n finansiële verknorsing is en finansieël voordeel uit sy vrou se dood sal trek.

Dr Sabadia sit steeds in die tronk, waar hy 'n vonnis van 50 jaar uitdien. As daar enige waarheid in die bestuurder se bewerings oor Dewani se betrokkenheid steek, moet dít vir Dewani 'n skrikwekkende vooruitsig wees.

(Prof. M.A. Simpson, Cybershrink, Desember 2010)

Lees verder:

Besoek ons Cybershrink sê-afdeling en lees sy ontledings van vorige nuusgebeure wat die hoofopskrifte gehaal het. 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE