Share

Brein kan goeie voornemens saboteer

Die nuwe jaar het so pas begin en jy vind dit alreeds moeilik om by jou voornemens te hou om van gemorskos af te sien, van die rusbank af op te staan en op te hou rook.

Daar's 'n biologiese rede hoekom so baie van ons slegte gewoontes so moeilik is om te af te leer – dit word in ons brein vasgelê.

Dis egter nie 'n verskoning om tou op te gooi nie. Namate wetenskaplikes agterkom hoe ongesonde gewoontes vasgelê word, leer hulle ook hoe 'n mens te werk moet gaan om goeie gewoontes in plek daarvan aan te leer.

"Hoekom is slegte gewoontes so hardnekkig? Jy veg teen die mag van onmiddellike beloning," sê Dr Nora Volkow, direkteur van die National Institute on Drug Abuse en 'n outoriteit op die brein se plesierpaadjies.

Dit is die fudge versus broccoli keuse: die lekker smaak van sjokolade weeg swaarder as die wete dat groente uiteindelik tot gewigsverlies sal lei.

Versoekings

"Ons is eenvoudig bedraad om meer waarde te heg aan onmiddellike beloning as aan iets wat langer vat om te gebeur," sê Volkow.

Presies hoe daardie bietjie plesier 'n gewoonte word, het te doen met 'n chemiese stof wat dopamien genoem word. Dit leer die brein om daardie beloning herhaaldelik te begeer – en die assosiasie elke keer verder vas te lê – veral as jou omgewing saamspeel.

Mense neig om hulle vermoë om versoekings te weerstaan, te oorskat en ondermyn so hulle pogings om slegte gewoontes af te leer, sê eksperimentele sielkundige Loran Nordgren, 'n assistent-professor by die Kellogg School of Management aan die Northwestern University.

"Mense het hierdie selfbeheersing-hubris en glo dat hulle meer kan hanteer as wat hulle in werklikheid kan," sê Nordgren, wie se studieveld die toutrekkery tussen wilskrag en versoeking is.

In een eksperiment het hy vasgestel hoeveel swaar rokers 'n film – Coffee and Cigarettes –  wat die rookgewoonte romantiseer, kon kyk sonder om 'n sigaret aan te steek.

En net om dinge nog moeiliker te maak, is die deelnemers volgens hulle vlak van versoeking betaal. Kon hulle 'n onaangesteekte sigaret vashou terwyl hulle die film kyk? Kon hulle dit doen met 'n pakkie op die tafel? Of moes hulle die pakkie in 'n ander kamer los?

Rokers wat voorspel het dat hulle heelwat versoeking kon weerstaan, het geneig om die onaangesteekte sigaret vas te hou – en het 'n groter kans gehad om een aan te steek as diegene wat besef het dit is beter om liewer nie 'n pakkie by hulle te hê nie, sê Nordgren. Hy bestudeer tans hoe herstellende dwelmslawe die versoekings van die wêreld daarbuite hanteer.

Rituele

Versoeking kan egter meer ingewikkeld wees as sigarette wat óf byderhand is óf nie.

Peusel jy altyd terwyl jy jou gunsteling TV program kyk? 'n Dopamien-ryk deel van die brein wat die striatum genoem word, memoriseer die rituele en roetines wat aan 'n spesifieke beloning gekoppel word, verduidelik Volkow van Nida. Op die ou end gebruik die striatum daardie omgewingsnellers om sekere gedragspatrone byna outomaties te maak.

Selfs wetenskaplikes wat hierdie proses ken, word soms meegesleur.

"Ek hou glad nie van springmielies nie. Maar elke keer wanneer ek gaan fliek, eet ek dit outomaties," sê Volkow. "Dit is fassinerend."

Wetenskaplikes se kennis oor die rol van dopamien by gewoontevorming is in 'n groot mate afkomstig van die studie van alkohol- en dwelmverslawing, maar dit speel ook 'n sleutelrol in meer algemene gewoontes soos byvoorbeeld ooreet.

"Om die waarheid te sê, is dopamien 'n intrinsieke deel van enige gewoonte wat aksie en beloning behels," sê Volkow.

'n Beweging om mense te betaal vir gedragsverandering kan moontlik daardie konneksie benut en daar is reeds maatskappye wat werknemers laer versekeringspremies of selfs direkte betaling aanbied wanneer hulle beter gewoontes aanleer.

Finansiële aansporing

Dit is nog nie duidelik presies hoe goed finansiële aansporing as 'n plaasvervanger-beloning werk nie. In een eksperiment het General Electric werknemers wat rook tot $750 betaal om op te hou. Die gevolg was dat byna drie keer soveel mense opgehou het, sê Dr Kevin Volpp, direkteur van die Centre for Health Incentives aan die Universiteit van Pennsylvania.

'n Soortgelyke studie wat geld aangebied het in ruil vir gewigsverlies, het geen verskil opgelewer nie – en omgewingsversoeking mag dalk help om die verskillende resultate te verduidelik.

"Dit raak al hoe moeiliker om in die openbaar te rook, maar daar is oral op straat plekke wat kalorieryke, smaaklike en goedkoop kos verkoop," se Volpp.

Wat ook al die resultate van betaling vir gedragsverandering, volgens navorsers is daar wél 'n aantal stappe wat mag help om die houvas wat slegte gewoontes op jou brein het, teë te werk:

- Herhaal, herhaal en herhaal die nuwe gedrag – dieselfde roetine, dieselfde tyd elke dag. Het jy besluit om oefening te doen? Deur dit byvoorbeeld elke oggend op dieselfde tyd te doen, eerder as om dit in te pas waar jy kan, leer die striatum om dit as ’n gewoonte te herken – en "op die ou end voel jy aaklig as jy dit nie doen nie," sê Volkow, 'n neuro-wetenskaplike wat ook 'n entoesiastiese langafstandatleet is.

- Oefening op sigself stoot ook dopamienvlakke op, en uiteindelik sal dit jou brein 'n hupstoot gee, selfs al kla jou spiere.

- Beloon jouself met iets wat jy baie graag wil hê, beklemtoon Volkow. Het jy die hele week lank geoefen? Het jy by jou dieet gehou? Gaan koop 'n boek, 'n nuwe paar jeans of gaan eet by 'n spoggerige restaurant – wat miskien veiliger is as 'n pak koekies omdat die prys van die kos jou minder sal laat eet.

- Stres kan slegte ou gewoontes heraktiveer. " 'n Mens sien dikwels mense op lughawens wat onmiddellik na kos gryp wanneer hulle hoor dat hulle vlug gekanselleer is."

- En raak ontslae van die rituele wat aan jou slegte gewoontes gekoppel is. Moet nooit, ooit  voor die TV eet nie.

"Jy moet jouself afvra: 'Wat is die dinge in my omgewing wat hierdie spesifieke gedrag uitlok?' " sê Nordgren. "Beskerm jouself daarteen." - (AP, Januarie 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE