Share

Aan die brand

Voor jy in die hoogste versnelling kan kom, moet jy partykeer eers aan die brand gestoot word. Of soos die slim mense sê, jy moet gemotiveer word om gemotiveer te raak. Weet jy waar jou aansitterknoppie sit?
Deur dr. Helgo Schomer

Lank, lank gelede het mense geweet: As hulle nie van hul jis af opstaan en gaan jag of kos gaan soek nie, sal hulle van die honger omkom. Vandag word min van ons aangedryf deur die vrees dat ons van honger, dors of ander ontberings sal omkom. Ons daaglikse stryd gaan om die najaag van roem, lof of sukses. Soms word ons selfs aangevuur deur die drang om iets van betekenis te doen of ’n bydrae tot die samelewing te lewer.

Dis hoekom dit so moeilik is om mense te motiveer. Elkeen van ons se dryfvere is anders. Ek kan jou nie motiveer deur jou te vertel wat my motiveer nie. Jy moet jou self aanspoor deur vas te stel wat jou aandryf en dit dan tot jou voordeel te gebruik. Doen eers ons toets en lees dan verder

Toets
Wat is jou motiveringstyl? Dié vinnige toets sal help om die dryfveer te bepaal wat jóú karretjie sal laat vat. Kyk na die vrae hieronder en vra jou af in watter mate elke faktor jou aanspoor om sukses te behaal wanneer jy voor ’n uitdaging te staan kom. Gee vir jou punte op ’n skaal van 1 tot 5 – met 1 as glad nie motiverend nie en 5 baie motiverend.

Ek hou daarvan om . . .

  1. . . . vriende te maak en te kuier. (Affiliasie)

  2. . . . dinge te doen sonder die hulp van ander. (Onafhanklikheid)

  3. . . . iets werklik goed te doen. ( Uitnemendheid)

  4. . . . dinge te doen wat prestige, posisie of status inhou. (Sukses)

  5. . . . mee te ding en die beste te wees. (Wen)

  6. . . . ander te intimideer en te dreig. (Aggressie)

  7. . . . positiewe terugvoering, lof of bewondering van ander te ontvang. (Bekragtiging)

  8. . . . mag oor ander te verkry. (Mag)

  9. . . . die tinteling en opwinding van intense situasies te beleef. (Stres)

  10. . . . negatiewe gevolge of uitwerkings te vermy. (Straf)

Wat vuur jou aan?
Die faktore waaraan jy ’n 4 of 5 toegeken het, is jou hoof-dryfvere. Voor jy ’n uitdaging aanvaar, moet jy jou eers afvra of een daarvan jou die dryfkrag gaan gee om die taak suksesvol te voltooi. Daar’s gewoonlik nie een enkele faktor wat altyd oorheers nie – dis maar meestal ’n kombinasie van dryfvere, of soms verskillende dryfvere by verskillende geleenthede. Maar deur bewus te wees van jou sterkste dryfvere kan jy hulle gebruik om jou ekstra woema te gee.

Hoe maak jy van jou motiveringsprofiele gebruik om op jou beste te wees?. As jy daarvan hou om met mense om te gaan en om vriende te maak, is dit ’n goeie plan om ’n seëlversamelaar te word? Nie eintlik nie, nè – tensy jy by ’n seëlversamelaarsklub aansluit. As jy deur mense om jou aangespoor word, moet jy ’n marathon-atleet word en lang, eensame ure op die pad deurbring? Nee. Kies liewer ’n spansport wat jou gaan aanspoor om uit te blink. Die boodskap? As jy jou motiveringsprofiel verstaan, kan jy dit gebruik om gou in die hoogste rat te kom.

’n Hele dosie vol vuurhoutjies
Die meeste mense sukkel om vlam te vat. Eerstens besef hulle nie hoe vorige ervarings teen hulle kan werk nie. En tweedens verstaan hulle nie hul eie unieke uitdagings nie. Wat is ’n unieke uitdaging? Dit beteken dat ons daardie dinge wat ons werklik graag wil hê sal najaag. Dink ’n bietjie daaroor na: As ons al die pret, liefde, geld en status wat ons begeer kon kry sonder om ’n vinger te lig, sou ons passiewe stoepsitters gewees het. Maar gelukkig dwing ons begeertes ons om iets aan die saak te doen.

Party mense word deur lof aangedryf, ander deur uitdagings, toekennings of status. Baie mense word deur geld aangedryf – gewoonlik dié wat nie genoeg daarvan het nie, of wat dink hulle het nie genoeg nie. Kom ons kyk meer noukeurig na van die mees algemene dryfvere . . .

  1. Kompetisie: “Ek wil wen!”

  2. Wanneer ’n afrigter ’n jong bokser oplei, laat hy hom gewoonlik teen teenstanders van dieselfde kaliber in die kryt klim. Hoekom? Omdat sy kanse op sukses hoër is, en in dié vroeë stadium van sy loopbaan het die bokser nodig om deurlopend gemotiveer te voel deur gereeld te wen.

    Met verloop van tyd sal die afrigter hom teen sterker teenstanders laat meeding en sal sy kanse op sukses afneem. Jy sien, as volwassene moet jy uitgedaag word, en ook soms verloor, om gemotiveerd te bly en sukses te behaal.

    Kompetisie is vir baie mense ’n sterk motiveringsfaktor. Maar dit kan ook tot verleentheid en skaamte lei omdat daar ’n wenner én ’n verloorder moet wees. Mense wat deur kompetisie gemotiveer word, kan maklik moedeloos word as hulle nie wen of die beste kan wees nie.

    Dit is hoekom kameraderie en die mededinging by motiveringskole dwarsoor die wêreld aangemoedig en aangeprys word. Aan die einde van ’n “wedloop” draai die wenner om en bedank die deelnemers wat tweede en derde gekom het en sê: “Dankie dat julle deelgeneem en my uitgedaag het en druk op my geplaas het om welslae te behaal.”

    Wenk Fokus op hoe jy jou doelwitte kan bereik pleks van op jou mededingers. As jy ’n doelwit bereik, waardeer jou prestasie sonder om te dink hoe ander gevaar het. Onthou, om te wen is nie als nie.

  3. Bevestiging: “Prys my, asseblief!”

  4. As jy deur lof en positiewe terugvoering van ander mense gemotiveer word, kan jy jou binnestem as dryfkrag inspan.

    Dié tegniek word neurolinguistiese programmering genoem en sal help om jou doeltreffender voort te dryf. In ’n neutedop beteken dit jy moet ophou om jouself te verkleineer of sleg te sê oor foute – herinner jou liewer daaraan dat jy ’n geleentheid geskep het om te leer, en dat jy danksy die ondervinding kon groei.

    Wenk As jy deur positiewe terugvoering gemotiveer word, moet die kritiese selfgesprekke ophou. Wees trots as jy suksesvol is. Sê “Ek het dit goed gedoen” of “Wat kan ek hieruit leer?” eerder as “Ek het al weer misluk!”

  5. Straf: “Ek wil goed wees”

  6. Party mense word sterk gemotiveer deur die behoefte om moontlike straf te vermy. Maar baie maatskappye en werkgewers gebruik te veel die “sweep”-benadering (in teenstelling met die “wortel”).

    Hulle stel reëls en beperkings in wat voorkom dat hul werknemers die lewe ervaar, geniet en verken. Nes ouers wat te streng is, lê sulke werkgewers jou motivering aan bande.

    Wenk As jy vasgevang is in ’n aftakelende werksomgewing, verskuif jou fokus na stokperdjies en buitemuurse aktiwiteite wat jou stimuleer en verkenning aanmoedig. Ja, jy moet die pot aan die kook hou, maar soek ‘n ander aktiwiteit waar jy jou vaardighede kan gebruik – soos ‘n genotvolle stokperdjie.

    Gesonde motivering
    Hoewel alle vorms van motivering goed kan werk, is die “gesondste” motiveringstyl waarskynlik innerlike motivering – die proses motiveer jou en nie die doelwit nie. Hoe jy by jou doelwit uitkom, word belangriker as die doelwit self. Uitkoms-gemotiveerde mense moet weet hulle gaan hul uiteindelike doel bereik om te kan volhou.

    As hulle nie kan wen of hul mikpunt volkome bereik nie, sal hulle heel moontlik tou opgooi of verskonings maak om glad nie deel te neem nie. Maar proses-gemotiveerde mense bly gestimuleer en hou aan ongeag die uitkoms. Daar is niks verkeerd daarmee om deur ’n uitkoms of doelwit aangedryf te word nie. Maar as jy slegs deur so ’n uiterlike faktor gemotiveer word, is jy dalk nooit tevrede met wat jy behaal nie – veral as dit nie gebeur presies soos jy verwag het nie. Aan die ander kant, as jy deur jou strewe na jou doelwit gemotiveer word, is die kanse groter dat jy gemotiveer sal bly en aan die einde tevrede sal wees.

    Die belangrikste: Moet dit nie oordoen nie. Gesonde motivering is ’n balanstoertjie. Te veel motivering kan vinnig in ’n selfvernietigende mag verander wat jou onder te veel druk plaas. Die doel is om jou voort te dryf sonder om te veel voet in die hoek te sit – of selfs ’n ongeluk te maak. Fokus op die proses op pad na jou doelwit, beloon jou as jy jou werk goed doen en soek die gesonde middeweg wat verseker dat jy uitgedaag, gestimuleer en uiteindelik gebalanseer bly.

    Blaas die vuur van verkenning vroeg aan
    As jy ’n baba van ses maande op die vloer neersit, wat doen sy? Sy sal byna onmiddellik begin rondkruip – omdat sy deur ’n ingebore behoefte aangedryf word om die wêreld te verken en bevredig voel deur daardie verkenning.

    Dié ingebore behoefte, wat alle mense het, is die grondslag van motivering. Wanneer begin dié behoefte en hoe verseker ouers dat hul kinders dit ontwikkel? Dit begin by die koestering van jou kind se begeerte om die lewe in ’n veilige omgewing te verken.

    As jou kind sy hand uitsteek om nader kennis te maak met ’n elektriese kragpunt, is dit nie goed om hom weg te ruk of sy hand te piets nie. Beproef liewer die volgende: Maak asof jy aan die kragpunt raak en ’n skok kry. Oorreageer! Trek ’n snaakse gesig en skreeu speelspeel van die pyn. Deur dit te doen, moedig jy jou kind se drang tot verkenning aan. Om die waarheid te sê, jy gee hom iets interessants om te verken en te leer ken – Pappa se snaakse gesig!

    Die moets Jy sal altyd jou kinders teen gevaar wil beskerm, maar as jy hulle die vryheid gee om self te verken, help jy hulle om dinamiese volwassenes te word. Hoekom? Omdat hulle altyd gestimuleer en opgewonde sal voel oor die ervaring van ontdekking.

    Die moenies Te kwaai kritiek in ’n mens se kinderjare kan ’n innerlike stemmetjie aanmoedig wat sê “Moet dit nie doen nie” of “Hoekom die moeite doen?” Dit kan tot in die volwasse jare aanhou en onnodige beperkings op mense plaas. Ouers moet oppas om nie te kwaai en streng te wees nie. Hoe meer ’n kind gestraf of daarvan weerhou word om te verken, hoe groter die kans dat hy as volwassene sal rondsit en wonder hoekom hy nie aan die gang kan kom nie – en dié “straf” kom van ’n afkeurende gesin, skoolstelsel of maats.

    Net so kan oorbeskermende ouers hul kinders se selfvertroue en lus tot verkenning knou. Voed liewer jou kind se motiveringsdrang met ’n gesonde dosis vryheid, sekuriteit en aansporing.

    Dr. Helgo Schomer is ’n gesondheidsielkundige, motiveringspreker en radio-sielkundige op Talk Radio 702 en Cape Talk.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE