Share

7 maniere om moeilike mense te hanteer

Elke persoon het een of twee moeilike mense in hulle lewe. Óf by die werk óf by die huis óf in hulle uitgebreide familie. Ons kan hierdie mense nie altyd vermy nie, al probeer ons hoe hard. Daar is party van hulle wat ons sonder om te skroom vir mediese eksperimente sal opgee.   

  • "Dink jy nie jy sou beter lyk met 'n nuwe haarstyl nie?" sê jou skoonma.
  • "Ek weet dit is wat ek gister vir jou gevra het om te doen, maar dinge het verander," sê jou baas.
  • "Ek wag al vyf minute in hierdie tou. Ek wil met die bestuurder praat," sê die moeilike klant. 
  • "Ek is nou al drie dae lank siek, maar dit lyk nie asof jy juis omgee nie," sê jou bejaarde pa.

Hierdie moeilike mense het 'n paar karaktertrekke in gemeen:

  • Hulle versamel onregte, wat hulle dink ander mense hulle aangedoen het, soos die res van ons seëls versamel.
  • Hulle sal nege positiewe dinge miskyk en op die een negatiewe ding fokus.
  • Hulle put perverse genot uit die "Is dit nie vreeslik nie?" speletjie.
  • Hulle gekerm het 'n sub-teks, naamlik, "En wat gaan jy daaromtrent doen?"
  • Hulle kla graag oor dinge waaroor jy geen beheer het nie, soos die weer.
  • Hulle put jou uit, om nie te praat van die irritasie nie.
  • Hulle stroop jou van alle positiewe gevoelens, hoop en optimisme deur konstant op alles wat negatief is, te fokus.
  • Hulle laat jou hulpeloos, hopeloos en vasgevang voel.

Wat jy kan doen om hulle te hanteer

Moenie met hulle stry nie. Hierdie mense floreer op konfrontasie en dit is presies wat hulle by jou wil uitlok. As jy op jou perdjie klim en begin baklei, gee jy hulle presies wat hulle wil hê. Hulle baklei al hulle hele lewe lank en jy sal nie wen as jy met hulle op daardie vlak betrokke raak nie. Antwoorde soos "Ek sal daaroor dink" en "Ja, is dit nie vreeslik nie?" hou jou onbetrokke. Dit koop tyd. Dit is 'n antwoord, maar jy raak nie by die beplande argument betrokke nie.

Maak dit hulle probleem. Sê, "Ek is jammer jy voel so daaroor." Dit klink soos 'n verskoning, maar is nie regtig een nie. Jy sê eintlik dat jy jammer voel vir hulle omdat hulle gekies het om dinge op hierdie manier te benader.

Erken hulle reg tot 'n opinie. As jy sê, "Almal het seker die reg op hulle eie opinie", raak jy nie by 'n argument betrokke nie. Terwyl jy dit sê, beklemtoon jy die feit dat jy die reg het om nie met hulle saam te stem nie. 

Daag hulle uit met 'n glimlag. Moeilike mense word onverhoeds betrap deur vriendelikheid. As hulle aanhou karring oor dinge buite jou beheer, is daar twee vrae wat gewoonlik hulle gekerm stopsit. Die een is, "Wat dink jy kan ek daaromtrent doen?" en die ander is, "So wat is daar nou wat jy daaraan kan doen?"

Beperk kontak. Hierdie mense steel energie by jou. Vermy hulle waar jy kan. As jy dit nie kan doen nie, betrek hulle op een of ander manier sodat hulle die verantwoordelikheid vir dit wat hulle wil kritiseer, deel. As jou skoonma self die skaapboud verbrand het, gaan sy nie die een wees wat land en sand daaroor kla nie.

Plaas jouself in hulle posisie. Die moeilike klant wat oor die lang tou kla, voel oor die hoof gesien en onbelangrik. Dikwels is 'n simpatieke opmerking genoeg om hulle te kalmeer en te laat voel daar is iemand wat na hulle luister. Mense kla dikwels omdat hulle voel hulle word nie raakgesien nie en wil 'n reaksie uitlok. Binne die familie wil jou siek pa net 'n bietjie gerusstelling en miskien 'n halfuurtjie van jou tyd hê. Dit is makliker om vir hom te gee wat hy wil hê as om dit te weerhou.

Moenie jou laat manipuleer nie. Partykeer is dit minder moeite om in te gee, maar as jy konstant deur iemand gemanipuleer word om dinge te doen wat hulle eintlik self behoort te doen, is dit tyd om te leer om nee te sê. Dit hoef nie op 'n konfronterende manier gedoen te word nie. Sê, "Jammer, ek kan nie vandag nie" of "Ek sal daaroor dink", as jy nie kortaf wil wees nie.

(Susan Erasmus, Health24, hersien Maart 2011)

Vra vir CyberShrink 'n vraag.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE