Share

5 vrae wat alle vroue haat en hoekom

Dit is nou eenmaal 'n feit dat vroue die vermoë het om heelwat meer in 'n vraag te lees as wat daarmee bedoel is.

As 'n man byvoorbeeld vra hoe laat dit is, hoor sy, "Ek is verveeld en ek wil loop, Ek wonder of hierdie verhouding vir my werk, Ek dink ek kan miskien binne die volgende paar minute ontsnap, Wat soek ek hier?" En hy wou maar net weet hoe laat dit is omdat hy 'n uur na aandete 'n pil moet sluk.

So, wat beteken die volgende vrae vir vroue?

Gaan dit nog lank vat?

Sy hoor: Hier sit ek op my agterent in die kar terwyl jy besig is om die baba se sak te pak, die hond te versorg, die verjaardagpresent toe te draai, met JOU ma op die telefoon te praat, die alarm te stel en die huis toe te sluit. Hoekom vat jy so lank?

Hoekom irriteer hierdie vraag vroue?
Hierdie vraag toon jou man/kêrel se totale gebrek aan begrip vir wat alles gedoen moet word voor 'n mens die pad kan vat. En dít is wat vroue kwaad maak. As jy dit aan die man in jou lewe oorlaat, sal julle by die partytjie opdaag sonder 'n present, sonder skoon doeke vir die baba en, om alles te kroon, 'n oproep van die alarmmaatskappy kry wat bel om te sê die hond loop in die huis rond, en hulle hoop dis hy wat die alarm laat afgaan het.

Dink jy nie jy moet weer begin draf nie?

Sy hoor: Jy raak vet en ek dink dis omdat jy nie genoeg oefening kry nie. Nog twee kilo's en ek vat die pad.

Hoekom irriteer hierdie vraag vroue?
Dit laat hulle voel daar word aan hulle voorgeskryf hoe hulle moet lyk en wat hulle moet aantrek om aanvaarbaar te wees. Mans kan net nie verstaan dat baie vroue dinge soos skreeuende babas en 'n moeilike baas met behulp van 'n tweede sny sjokoladekoek, gevolg deur 'n roomkaramel nagereg, aarbei-roomys en 'n blok sjokolade, hanteer nie.

Wat eet ons vanaand?

Sy hoor: Jou plek is in die kombuis! Ek gee nie om of jy, soos ek, 'n volle dag werk nie, aandete is jou verantwoordelikheid en ek is honger.

Hoekom irriteer hierdie vraag vroue?
Dit laat hulle voel asof die grote gros van die huishoudelike take nog steeds hulle verantwoordelikheid is, al werk hulle voltyds en verdien dikwels meer as hulle mans. Veral as hulle in die afgelope 24 uur die kos gekoop het, dit voorberei het en boonop drie bondels wasgoed gewas en die huis skoongemaak het.

Hoe was jou vorige kêrel?

Sy hoor:  Ek hou nie van die idee van jou met iemand anders nie, selfs al het ek jou toe nie geken nie. Wat ek eintlik wil hoor, is dat hy 'n nuttelose skobbejak was, hopeloos in die bed, nie 'n werk kon  hou nie en dat jou vriende en familie hom sonder uitsondering gehaat het.

Hoekom irriteer hierdie vraag vroue?
Dit laat hulle vasgekeer voel – vorige kêrels is haar private besigheid en het niks met haar huidige verhouding uit te waai nie. Vroue is huiwerig om vorige verhoudings te bespreek, aangesien mans dikwels reageer asof hulle op een of ander manier uitgesluit word en asof die vroue iets het om weg te steek. Ons het almal geheime en private dinge waaroor ons met niemand wil praat nie.

Wie was dit met wie jy gepraat het?

Sy hoor: Ek vertrou jou nie. Ek hou nie daarvan dat jy met ander mans praat nie. Jy's myne, myne, myne, en moet dit nie vir 'n oomblik vergeet nie. En hoekom het hy so intiem vir jou geglimlag?

Hoekom irriteer hierdie vraag vroue?
Dit laat hulle voel asof hulle soos besittings behandel word en nie soos mense nie. Almal het vriende nodig en vroue wil beslis nie saam met elke man vir wie hulle glimlag in die bed spring nie. Vaderland, dit sou die 72-jaar-oue slagter op die hoek insluit met wie sy vanoggend gesels het!

Vrae wat alle mans haat en hoekom

- (Susan Erasmus, Health24) 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE