Share

Speel klaar met jeuk- en krapplekke

1. Insekbyte
Dis lastig, maar net ernstig as die bytplek besmet raak weens ‘n gekrap. Party kinders ontwikkel ‘n sensitiewe reaksie bekend as papillêre urtikarie. Dit kom meer in die warm maande voor.

Herhaalde vlooi- en partykeer weeluisbyte lei tot hipersensitiwiteit en ‘n kwaai gejeuk van nuwe én ou bytplekke. Sekondêre besmetting, veral deur ‘n bakterie, kom algemeen voor.

Behandeling: ‘n Blitsoorlog teen vlooie in die huis is noodsaaklik. Spuit matrasse en krake in die vloer met ‘n goeie insekdoder. Buitekant is sandvlooie dikwels die sondaars. Gebruik kalamynsalf of koeksoda, met ‘n bietjie water gemeng, om die gejeuk te verlig. Smeer krotamiton-room (Eurax) aan as die gejeuk ondraaglik is.

2. Bysteke
Party mense is allergies vir bysteke en kan urtikarie (‘n opgehewe uitslag, ook bekend as netelroos) of selfs kwaai skok ontwikkel, asook ‘n opgeswelde gesig en mond, moeilike asemhaling en lomerigheid.

As enige van dié simptome ná ‘n bysteek verskyn, moet die kind dadelik dokter toe geneem word. Adrenalienmiddels wat ingespuit of ingeasem word, kan vinnig verligting bring.

Die kind moet daarna ‘n armband dra wat sy allergie vir bysteke aandui, en ‘n spuitnaald met adrenalien byderhand hou.

Behandeling: As die angel nog in die vel sigbaar is, moet dit versigtig met die stomp kant van ‘n mes of kredietkaart uitgeskraap word. Moenie ‘n tangetjie gebruik nie; die knypslag kan die laaste bietjie gif uitdruk.

Om die steekplek te vryf, vererger net die gifverspreiding. ‘n Koel lap of ysblokkie kan die pyn en swelsel help verlig, maar moenie vryf nie. Antihistamienroom of kalamynsalf sal ook help.

Let op: ‘n Bysteek is pynlik en die steekplek bly sowat twee dae rooi en opgeswel.

3. Bosluisbyte
Gewoonlik laat ‘n bosluisbyt net ‘n klein rooi kolletjie en soms ‘n geswelde klier naby die bytplek, maar bosluise kan ‘n paar siektes, soos bosluiskoors en selfs Krim-Kongokoors, versprei.

Behandeling: Haal die bosluis versigtig af sodat die kop nie agterbly nie. Smeer vooraf Vaseline of olie aan die bosluis, dan laat hy maklik los. Smeer Betadine-salf aan die bytplek.

Kyk uit: As jou kind koors kry nadat hy deur ‘n bosluis gebyt is, moet ‘n dokter seker maak dat hy nie bosluiskoors het nie.

4. Omloop van die liggaam (Tinea corporis)
Dié swam wat op haarlose vel groei, tas veral kinders se gesig aan. Die plekke is gewoonlik rond met ‘n duidelike omlyning en versprei uitwaarts namate die dele in die middel opklaar.

Dit kan deur regstreekse aanraking, besmette borsels of deur honde en katte oorgedra word.

Behandeling: Swamdodersalf bring vinnige verligting, maar moet vir twee tot vier weke gebruik word. Die ouer en goedkoper salf Whitfield’s werk goed as nuwer salwe nie beskikbaar is nie.

5. Omloop op die kop (Tinea capitis)
Dit is die algemeenste swambesmetting onder kinders. Dit kan die vorm aanneem van ‘n enkele ronde, skubberige, kaal kol op die kop. ‘n Aantal kleiner skubberige kolle is meer algemeen.

Daar is dikwels ‘n hipersensitiewe reaksie op die swam wat lei tot ‘n merkbare inflammasie-reaksie en vergrote limfknope aan die agterkant van die kop. Dit word dikwels verwar met impetigo van die kopvel (sien onder). Daar kan dalk ook ‘n bakteriese infeksie wees.

Behandeling: Die toestand sal nie sonder swamdodende behandeling opklaar nie. Drink Griseofulvin. Aansmeergoed help nie.

6. Kopluise
Kopluise is ‘n algemene kopvelbesmetting onder kinders. Luise beteken nie jy’s onhigiënies nie. Kinders dra dit maklik aan mekaar oor deur kamme en hoede te deel. Luise kan nie vlieg of spring nie, maar kruip van een kop na ‘n ander.

Die eiers van kopluise (nete) is te sien as klein wit spikkeltjies wat dig teen die kopvel aan die hare vaskleef. Jy sien hulle die maklikste teen die haarlyn in die nek of agter die ore. Die volwasse luise lewe van bloed wat hulle uit die kopvel suig.

Dit kan tot twee maande duur nadat jy besmet geraak het voor die tekens daar is. Die bytplekke lei tot jeukerige blase wat besmet kan raak en die hele kopvel kan aantas.

Die limfknope aan die agterkant van die kop en in die nek vergroot dikwels. Soms word die ooglede ook aangetas. By tieners kan die skaam- en okselhare ook besmet word.

Behandeling: Malathion met 0,4 persent alkohol is ‘n goedkoop, veilige en doeltreffende behandeling.

Dit maak luise en nete dood sonder dat die hare gefynkam moet word om die nete te verwyder. Permethrin is ‘n uiters doeltreffende, veilige behandeling vir skabies/skurfsiekte (sien hieronder) en kopluise.

Wees op die uitkyk: Dié toestand is hoogs aansteeklik. Daarom moet die hele gesin behandel word, nie net die een wat besmet is nie. As jou kinders luise het, moet jy die skool daarvan laat weet.

7. Impetigo
Dit is ‘n algemene en hoogs aansteeklike bakteriese velinfeksie. Die infeksie kom voor in kolle so groot soos R1-munte met blase wat vinnig ‘n kors vorm. Dit lyk dikwels asof die seerplekke met heuning of bruinsuiker toegesmeer is. Kinders kry dit gewoonlik op hul gesig, veral om die neus en mond.

Dit word deur ‘n kiem, Staphyloccus aureus, of sekere vorms van Streptococcus veroorsaak. Hulle kom dikwels ook saam voor. Impetigo word meestal oorgedra deur aanraking met iemand wat dit het of deur hul speelgoed, handdoeke, klere of beddegoed te gebruik.

Behandeling: Hoewel Betadine- of Bactroban-salf doeltreffend is, moet alle gevalle van impetigo behandel word deur antibiotika te drink of waar nodig ‘n inspuiting te kry.

Hierdie salwe help ook teen dié kieme wat in die neus agterbly en voortdurend absesse en swere by kinders veroorsaak.

8. Sweetuitslag (hitte-uitslag)
Dié uitslag word veroorsaak deur die verstopping van die klein openinkies van die sweetkliere. ‘n Mens sien honderde baie klein, helder blasies, dikwels op die gesig en voorkop, of, in erger gevalle, klein rooi kolletjies op die bolyf. Warm, bedompige weer en te warm klere kan tot sweetuitslag lei.

Behandeling: Laat die “pasiënt” koeler klere aantrek en ‘n koeler plek opsoek. Vermy olierige salf; dit kan die probleem vererger.

9. Molluscum (molluscum contagiosum)
Dié virusbesmetting van die vel veroorsaak duidelike, opgehewe, pêrelgrys puisies van 1 tot 5 mm in deursnee en kan op enige plek aangetref word. Daar kan net ‘n paar puisies wees of ‘n paar honderd.

Molluscum word maklik oorgedra. Dit is nie pynlik nie, maar lyk onaantreklik. Die enigste werklike gevaar is wanneer die oë deur die uitslag daar rondom aangetas word. Kinders met immuniteitsgebreke, soos dié wat MIV-positief is, kan kwaai molluscum ontwikkel.

Behandeling: Molluscum verdwyn gewoonlik met verloop van tyd, maar as dit lastig is of as daar baie kolle is, is dit tyd vir ‘n dokter. Salisielsuur kan op die seerplekke aangesmeer word.

10. Help-my-krap (skabies of skurfsiekte)
Mikroskopiese insekte (skurfmyte) boor in die epidermis van die warmer plekkies op die liggaam, soos die polsvoue en tussen die vingers en waar klere knel, veral in die onderlyf. Daar ontstaan dan ‘n allergie vir skurfmyt, hul eiers en mis.

Klein kolletjies ontwikkel wat intens jeuk. Wanneer hieraan gekrap word, ontsteek dit maklik. Skurfsiekte word hoofsaaklik deur aanraking versprei en minder deur klere en beddegoed as wat voorheen vermoed is.

Behandeling: Verskeie salwe kan sonder voorskrif verkry word; vra jou apteker wat is veilig vir babas en kinders. Die res van die gesin kan hulle was met spesiale seep (Tetmosol) teen myte.

11. Vratte
Vratte is velgroeisels wat deur ‘n virus veroorsaak word en daar is verskeie soorte. Die algemene soort wat op die gesig, hande, voete en ander plekke voorkom, het ‘n opgehewe, growwe oppervlak. Gladde vratte (verruca plana) is net effens opgehewe.

Die lastigste vratte is soolvratte op die voetsole, want die liggaam se gewig kan die vrat in die voetsool indruk.

Behandeling: Onbehandelde vratte verdwyn gewoonlik met verloop van tyd omdat die liggaam se immuunstelsel die virus vernietig. As die vratte jou pla, kan jy self die probleem probeer oplos, maar moenie met vratte op jou gesig peuter nie. Die eenvoudigste is om ‘n doodgewone pleister op te plak wat daagliks omgeruil moet word.

Dit kan tot drie weke duur voor die vrat kleiner word en verdwyn. As dit nie werk nie, kan jy vratverf aanwend wat by apteke beskikbaar is. Volg die aanwysings getrou.

‘n Mens kan ‘n soolvrat behandel deur eers die growwe vel met ‘n puimsteen af te skuur en dan ‘n salisielsuurpleister, bekend as ‘n vratpleister, op te plak. Die pleister moet elke dag vervang word.

 Deur Prof. Maurice Kibel

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE