Share

Ekseem: Keer dat dit jou gek maak

Eczema – iStock
Eczema – iStock

Soos enige bruid het Nadia Slabbert (24) van Jeffreysbaai ook gedroom van ’n onvergeetlike troudag – ’n dag waarop alles volmaak sou wees en sy op haar heel, heel mooiste sou lyk.

Daarom het sy hard gewerk om die troue haarfyn te beplan. Weke voor die groot dag het die strooimeisies se rokke al klaar in die kas gehang, die saal, tafels en blomme was gereël en die gaste genooi.

Maar skielik het haar pragtige rok met die kaal skouers nie meer na so ’n goeie plan gelyk nie. Want wat Nadia glad nie so fyn kon beheer nie, was die ekseem waarmee sy reeds sedert haar laerskooldae sukkel. Die senuwees voor die troudag het dit erg laat opvlam – en hierdie keer tot in haar gesig. Haar vel was lelik rooi en skilferagtig en dit het onophoudelik gejeuk.

’n Pragtige, blosende bruid

Gelukkig kon ’n kortisooninspuiting van haar dermatoloog sake red en met slim grimering was sy toe uiteindelik ’n pragtige, blosende bruid. Maar vir Nadia is haar stryd met ekseem nog lank nie verby nie.

“Dis al 13 jaar dat ek daarmee sukkel en dis verskriklik,” kla sy. “Ek het dit oor my hele lyf, my arms, bene, nek en gesig – selfs my ore. Dit jeuk en ek krap my flenters, veral snags. Dis die ergste in die winter omdat ek dan dikker klere aantrek. My vel jeuk dan meer omdat ek warm kry en makliker sweet. Die wol van my truie irriteer ook my vel en maak die gejeuk erger.

“Ek is baie selfbewus daaroor. Ek dra nie kortbroeke nie en verkieslik ook nie kortmoubloese nie, want ek voel te aardig oor my bene en arms. Van al die gekrap is ek vol littekens. Die kortisoonsalf wat ek aansmeer, help, maar dit maak my vel dunner en as ek dan net liggies teen iets stamp, bloei ek.”

Sy drink ook antihistamienpille vir die gejeuk en sy glo rooibostee-baddens help. “Ek gooi so vyf tot ses sakkies tee in kookwater en laat dit goed trek tot dit lekker sterk is, dan gooi ek dit in my badwater. “Verder moet ek maar daarmee saam leef. Ek het darem al geleer om slim te werk sodat my ekseem nie my lewe oorheers nie.”

Wat is ekseem?

Tussen 10 en 20 persent van alle mense ontwikkel een of ander tyd in hul lewe ekseem.

Ekseem is die versamelnaam vir verskillende soorte inflammasie van die vel wat rooi is en kwaai jeuk. Na ’n ruk kan die vel verdik, veral as dit bale gekrap word. Die verdikking is onooglik en kan littekens veroorsaak en selfs beweging inperk omdat die verdikte vel moeilik rek. Die ekseem kan nat en “tranerig” of droog en skilferagtig wees.

Die ekseem-prentjie lyk verskillend by mense van verskillende ouderdomsgroepe. By babas kan dit enige plek op die lyf voorkom, maar veral op die wange, arms en bene, hoewel gelukkig gewoonlik nie op die sitvlak en in die lies nie.

By kinders van twee tot 12  is dit algemeen in die velvoue soos die waaie van die bene en arms, nek, gewrigte en enkels, en by tieners en volwassenes sit dit gewoonlik in die velvoue en op die nek, gesig, hande of voete. Dit kan egter ook soos in Nadia se geval oor die hele lyf voorkom.

Is daar verskillende soorte ekseem?

Ja, sê dr. Willie Visser, ’n dermatoloog van die Universiteit Stellenbosch se departement dermatologie by Tygerberg-hospitaal.

“As jy ekseem op ’n plekkie onder jou horlosie of oorbel  kry, noem ons dit kontakekseem. As jy erg spatare het, kry jy stase-ekseem, wat jou bene laat opswel. Nog ’n soort is seboreïese ekseem – dit wys op die kopvel, wenkbroue en baard-area.”

Verreweg die algemeenste vorm is atopiese ekseem, ook bekend as atopiese dermatitis. Party mense noem dit aangebore ekseem of kinderekseem, maar volwassenes kan dit ook kry. Dit kom wel gewoonlik by kinders voor en daar is meestal ’n familiegeskiedenis van ekseem, asma of allergie.

Hoe lank duur dit voor die ekseem verdwyn?

Atopiese ekseem kan chronies wees of dit kan genees, maar dan telkens terugkeer.

Kinders kry dit gewoonlik die eerste keer tussen twee maande en twee jaar.

“Die eerste teken is ’n droë vel. Dan verskyn rooi, jeukerige kolle,” verduidelik Willie.

Die meeste kinders ontgroei hul ekseem teen die tyd dat hulle skool toe gaan, maar sowat die helfte kan weer as volwassenes ekseem kry, dikwels in ’n ander vorm soos kontakekseem. Ander lyers kry dit as volwassenes vir die eerste keer. Dis ’n onvoorspelbare toestand.

Ekseem volg dikwels ’n sikliese patroon, sê dr. Harris Steinman, allergiekenner van die Allergievereniging van Suid-Afrika. Sommige mense sal dit ’n paar keer per jaar kry, ander net af en toe. In uiterste gevalle verdwyn dit nooit.

Wat veroorsaak ekseem?

Die sikliese patroon kan waarskynlik toegeskryf word aan hormoonveranderings, iets wat jy eet, stres of omgewingsfaktore soos rook of die gebruik van ’n nuwe waspoeier, sê Harris. Algemene snellers sluit in huisstofmyte, sekere kosse soos grondboontjies, eiers, melk en graan, of geparfumeerde produkte.

Willie sê dokters weer nie presies hoekom ekseem verskyn en weer verdwyn nie. “Dis die aard van die siekte. Dit kan te doen hê met die omgewing (soos wanneer iemand na ’n droër omgewing trek), leefstylveranderinge (soos wanneer jy jou hande meer gereeld was en die vel uitdroog) of dalk ’n nuwe stokperdjie waar iets jou vel irriteer.

“Hormone kan ’n rol speel, maar niemand weer presies hoe nie. Dit kan ook te doen hê met normale fisiologiese veranderinge in die lyf en selfs ’n verandering in postuur soos wanneer ’n baba net lê, maar later begin kruip en loop wat wrywing op verskillende plekke aan die lyf veroorsaak.”

Ekseem kan by dieselfde mens ’n verskeidenheid snellers hê, beaam Harris.

“Dit kan ’n sekere soort kos wees, maar chemikalieë, rook en waspoeier of versagmiddels kan ook ekseem aan die gang sit. Daarom is dit belangrik dat ’n mens na die geheel kyk, na alle potensiële snellers.

“Ek het ’n geval gehad van ’n kind op ’n baie beperkte dieet. Toe hy op my versoek sy dieet uitbrei het sy vel dramaties verbeter, want sy ekseem was stresverwant – en sy dieet het sy stres vererger. Dit beteken nie hy was nié allergies vir sekere soorte kos nie; die stres was net ’n groter sondaar as die allergie.”

Medici her geen klinkklare antwoord vir wat ekseem veroorsaak nie, maar navorsing wys dit hou verband met ’n generiese afwyking in die skansfunksie van die vel, sê Willie.

Die skansfunksie is soos ’n veiligheidsnet wat oor jou lyf gespan is. “As jy ’n digte veiligheidsnet het – dus ’n goeie skansfunksie – kan die vel die liggaam beskerm teen kieme en allergene. As iets erger met die skans verkeerd is, kan die vel baie makliker goed deurlaat wat ’n reaksie veroorsaak.

“Ons weet een van die gene wat abnormaal is in mense met ekseem is in die ‘sement’ wat die selletjies in die vel dig teen mekaar hou. Hierdie ‘sement’ tussen die selletjies bestaan nie by hulle nie, of is los of verswak. Iemand met ekseem se selletjies lê dus nie so dig teen mekaar nie, wat beteken iets kan makliker inkom en uitgaan.

“Water kan ook makliker uit die vel ontsnap, wat veroorsaak dat die vel baie droër is.”

Atopiese ekseem by kinders hou byna altyd verband met allergie, sê Harris. “Atopies bereken trouens allergie. En as iemand ekseem het, is die kanse baie goed dat hy later ’n kosallergie of hooikoors sal ontwikkel as hy dit nie reeds het nie en omgekeerd.”

Hoe kan ek van die ekseem ontslae raak?

Daar is nie ’n kuur vir ekseem nie, maar dit kan met die regte behandeling beheer word sodat die lyer ’n goeie lewensgehalte kan geniet.

Verbreek die krap-jeuk-siklus. As ’n kind sy vel krap, stel die vel chemikalieë vry wat die gejeuk vererger, verduidelik Harris.

Jou dokter kan ’n kortisoonroom soos Advantan of ’n antihistamien soos Allergex, Zyrtec of Deselex voorskryf om die gejeuk te help verlig.

Identifiseer die snellers. Dis baie belangrik, maar oor die algemeen beskou Harris en Willie uitgebreide allergietoetse as geldmors omdat dit nie baie akkuraat vir veltoestande is nie.

“Daar is meer as 400 dinge wat ’n allergie kan veroorsaak,” verduidelik Harris. “Ek het al ’n kind gesien wat in streng anti-allergiedieet gevolg het, maar sy ekseem het gebly. Toe stel ons vas hy is allergies vir aartappels – en dit was deel van sy spesiale dieet! En soms hou die ekseem dalk glad nie met ’n allergie verband nie.”

As jou kind wel elke keer ekseem kry nadat hy ’n bepaalde kossoort geëet het, moet dit uitgeskakel word.

Pasop vir ’n heksejag na snellers, sê Willie. Ekseem is chronies en sal van tyd tot tyd weer opvlam. “Daar moet ’n duidelike verband wees tussen die sneller en jou ekseem voor jy dit uitskakel.”

Soms sal ’n mens glad nie die sneller kan identifiseer nie. Dan moet jy seker maak jy gebruik jou medisyne noukeurig sodat jy jou simptome kan beheer.

Behandel die inflammasie

Dokters behandel gewoonlik ekseem met kortisoonsalf van verskillende sterktes na gelang van die erns van die toestand. Die salf word gewoonlik met akwaroom gemeng, maar navorsers het onlangs ontdek akwaroom akkordeer nie met sommige kinders se velle nie, sê Harris. Dan gebruik hulle olie-gebaseerde rome.

Iets wat betreklik nuut in Suid-Afrika is maar reeds lank in Europa gebruik word, is rome soos Elidel en Protopic wat immuniteit help reguleer en ontsteking beveg. Dié middels is net op voorskrif beskikbaar en is duur, maar werk uitstekend, sê Wille.

Die dokter kan ook ’n immuunonderdrukkende middel soos siklosporien voorskryf, maar omdat dit die immuunstelsel onderdruk en vatbaarheid vir siektes en kieme vergroot, word dit gewoonlik net gebruik as ekseem regtig op niks anders reageer nie.

Behandel die sekondêre infeksie

Ekseem is nie aansteeklik nie, maar die risiko vir bakteriële of virusinfeksies is groot en infeksies soos koorsblare of vratte kan maklik oor die lyf versprei. In buitengewone gevalle kan kinders met ekseem koorsig raak en word dit nodig om hulle in die hospitaal te laat opneem, sê Willie. Jou dokter sal die infeksies met antibiotika behandel.

Sielkundige ondersteuning

Die sielkunde van ekseem is baie belangrik omdat stres ekseem kan vererger. Ouers kan help deur kinders emosioneel te ondersteun as hulle selfbewus is oor hul ekseem en deur begrip te hê daarvoor dat hul kind dalk by die skool geterg sal word.

Onbeheerde ekseem kan ’n dramatiese uitwerking op die lyer se lewensgehalte hê. Slapeloosheid weens die gejeuk is algemeen, sodat lyers bedags moeg en prikkelbaar is. Daarby is ekseem dikwels pynlik sigbaar en kan dit jou sosiale lewe beduiwel.

“Kinders word deur maats geterg en veral tienermeisies wat sensitief is oor hul voorkoms, se selfvertroue kry ’n knou,” sê Harris.

Willie vertel ’n vergelykende studie in die buiteland het gewys kinders ervaar ekseem baie erger as gevaarliker siektes soos epilepsie of asma, juis omdat ander mense dit kan sien.  

Statistieke

10% van alle skoolkinders in Suid-Afrika het ekseem.

30% van alle atopiese-ekseem-lyers sal ook asma kry.

70% van alle kinders met atopiese ekseem ontgroei dit voor hulle skool toe gaan.

50% van laasgenoemde groep sal weer ekseem kry nadat hulle dit oënskynlik ontgroei het.

Wenke wat werk

  • Volg die basiese ekseem-badreëls. Bad een keer per dag sowat 10 minute lank in lou-warm water. Moenie badskuim gebruik nie en vervang seep met iets soos akwaroom of room met ’n oliebasis. As dit skuim, is dit gewoonlik nie goed nie, want dit breek die normale olielaag op die vel af, sê die Kaapse dermatoloog dr. Willie Visser. As jy klaar gebad het, druk jou droog met ’n handdoek – moenie vryf nie.
  • Bevogtig die vel soveel moontlik met geurlose, kleurlose en olieryke rome met ’n vitamien E-basis. Doen dit minstens twee keer per dag en altyd reg ná badtyd.
  • Vermy wolklere, wolkomberse en te warm beddegoed, want hoe warmer die vel kry, hoe meer jeuk dit. Wol en nylon irriteer ook makliker die vel. Trek ligte katoenklere aan.
  • Hou jou kind se naels kort sodat hy hom nie kan stukkend krap nie. 'n Koue kompres  – sit sommer ys in ’n waterdigte plastieksak, knoop die sak toe, en draai ’n klein handdoek om – kan help om die gejeuk te verlig
  • Vermy rook. Volwassenes moet veral nie naby kinders of in dieselfde huis as kinders met atopiese ekseem rook nie.
  • As jy gereeld sport doen, trek gemaklike, los katoenklere aan waarin jy nie te veel sal sweet nie en probeer wrywing verminder. Smeer vogroom aan net voor jy gaan oefen, stort agterna en wend weer vogroom aan.
  • Hou jou kind se leefstyl so normaal moontlik om onnodige stres te vermy. Laat hom byvoorbeeld toe om te swem, maar spoel hom agterna af en bevogtig sy vel. Kies liewer 'n sout- as ’n chloorswembad.
  • Moenie bioafbreekbare waspoeiers of versagmiddels gebruik nie omdat dit meer ensieme bevat wat ekseem kan vererger. As jy jou kind se wasgoed klaar gewas het, spoel sy klere met asynwater uit. Onthou: Dit help nie jy was jou kind se klere met ’n spesiale seep, maar druk haar teen jou vas terwyl jy klere dra wat met gewone seep gewas is nie. Was dus die hele gesin se klere en lakens met nie-biologiese waspoeiers.
  • Raak van huisstofmyte in jou kind se sagte speelgoed of beddegoed ontslae deur ditelke drie maande drie dae lank in jou vrieskas te sit. Was beddegoed en sagte speelgoed gereeld by minstens 60 grade Celsius en hang dit in die son om goed droog te word. Sit 'n spesiale omhulsel om jou kind se matras sodat die myte binne bly en sit ook die matras gereeld buite in die son. Gebruik ’n sterk stofsuier – dié wat met water werk word dikwels teen huismyte aanbeveel – vir die matte, matras en gordyne.
  • Besoek www.health24.com se Allergy Centre vir nog wenke.

Het jy geweet?

Kortisoonroom is ’n kragtige hulpmiddel teen ekseem, maar dit is absoluut noodsaaklik dat dit net onder mediese toesig gebruik word om moontlike newe-effekte te beperk. Kortisoonrome wat oor groot areas aangewend word, kan byvoorbeeld ernstige newe-effekte tot gevolg hê soos diabetes en hoë bloeddruk en ook veranderinge in jou liggaam se vetverspreiding teweegbring.

Dr. Willie Visser van die Universiteit Stellenbosch se departement dermatologie sê sulke ernstige newe-effekte kom egter selde voor en ekseemlyers moenie kortisoonroom-behandelings uit vrees vir die newe-effekte vermy nie. Minder ernstige newe-effekte sluit in:

  • Verdunning van die vel, wat tot bloeding kan lei
  • Verkleuring van die vel, hetsy donkerder of ligter
  • Aknee
  • Rosaceae, ook bekend as roosaknee. Dis egter nie aknee nie, maar ’n inflammasie van die vel wat rooierigheid en soms puisies veroorsaak.
  • ’n Toename in hare waar jy die kortisoon aanwend
  • Rekmerke, veral aan die borste en sitvlak
  • Gloukoom en katarakte as dit te na aan die oë aangewend word

Shanda Luyt

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE